Fontie-Rinette streef haar onderwysdroom na en maak passievol ʼn verskil

Gepubliseer op: 25 September 2025

Daar is ʼn bekende grappie wat lui: Hoe eet jy ʼn olifant? Met die eenvoudige antwoord: Happie vir happie! Vir Rinette von Mollendorf (41), ʼn Fontie van Worcester in die Wes-Kaap wat haar studie via Akademia se nauurse afstandsmodel aanpak, ontsluit dié komiese gewaarwording egter ʼn groot waarheid wat op byna elke aspek van haar lewe toegepas kan word. “Sodra die taak wat voor jou lê dreig om jou te oorweldig, deel dit in kleiner werkbare stukkies op en só raak die skynbaar onmoontlike moontlik!”, som Von Mollendorf haar benadering op.

En as dit kom by groot take aanpak en stukrag aan haar drome gee, dan besef Von Mollendorf maar al te goed dat harde werk en deursettingsvermoë hand aan hand gaan. As ʼn student in die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)-program – oftewel NGOS, balanseer sy daagliks haar voltydse beroep as masseerterapeut en refleksoloog met haar studie. Terselfdertyd streef sy as siggestremde passievol daarna om ʼn blywende verskil in haar gemeenskap te maak.

Binne dié gemeenskap poog sy om die stigma van die “onbekende andersheid” soos dit betrekking het op mense met gestremdhede uit die weg te ruim. Sy verduidelik dat die werkloosheidsyfer onder byvoorbeeld siggestremdes in Suid-Afrika baie hoog is, en lê die blaam hiervoor voor die deur van onkunde. Laasgenoemde verwys nie net na die potensiaal van persone met gestremdhede nie, maar ook die waarde wat diegene tot die groter werksmag kan voeg. “Om hierdie rede rus elke proeftydperk by ʼn skool my toe om soveel méér te vermag as om bloot ʼn klas aan te bied en kennis oor te dra. Dit gee my die geleentheid om myself uit te daag en ʼn brug te bou wat leersaam is vir myself en die leerders in die klas,” meen Von Mollendorf.

Von Mollendorf is met die genetiese oogtoestand, Leber se kongenitale amaurose, gebore en beskik slegs oor ligpersepsie wat haar in staat stel om tussen lig en donker te onderskei. Haar dienshond, Mayzie, vergesel haar oral waar sy gaan en is al dertien maande aan haar sy. “Sy is ongelooflik slim, en hoef ʼn roete net een keer te loop om dit te ken,” vertel Von Mollendorf van dié Labrador en Golden Retriever-kruising.

By Akademia is ek trots-Afrikaans en tuis

Von Mollendorf het haar studie in 2024 begin en het die besluit geneem om die NGOS-program oor twee jaar te voltooi. “My studie is vir my belangrik en daarom neem ek langer om dit te voltooi. Op hierdie manier hoef ek myself nie te ooreis nie, en kan ek genoegsame aandag aan my studie, my geliefdes en my ander verpligtinge gee,” sê Von Mollendorf. Sy maak van die e-leeropsie gebruik en skakel by die Paarl-sentrum in om toets te skryf en eksamens af te lê. As NGOS-student het sy reeds oor ʼn BA-kwalifikasie beskik en het sy haar voorheen in die Geesteswetenskappe bekwaam.

“Die personeel by die sentrum is ongelooflik behulpsaam en hulle gaan uit hul pad om my tuis en gemaklik te laat voel,” sê Von Mollendorf en voeg by dat alhoewel die aanlyn leerervaring by tye uitdagend kan wees, sy sonder skroom op die hulp van haar dosente en mede-Fonties kan staatmaak.

Vir haar is Akademia se Afrikaanse aard ʼn riem onder die hart en sy vertel dat sy veral groot waardering het vir die gehalte van die leermateriaal. Sy is ook baie dankbaar vir die wye blootstelling wat sy as onderwysstudent geniet. Op die vraag wat haar gunstelingmodule is, antwoord sy sonder twyfel kurrikulumstudies. 

“Vir my as siggestremde is studie sonder twyfel uitdagend, maar ek lig my hoed vir Akademia se personeel en die gees van bereidwilligheid om my by te staan. Jy kan amper sê dat my studiereis ʼn ontdekkingstog vir beide myself en die instelling is. Ek is só dankbaar vir elke geleentheid en die wete dat die Fontie-familie nie huiwer om die ekstra myl te loop nie,” sê Von Mollendorf.

Wil jy soos Von Mollendorf ʼn loopbaan in die onderwys najaag? Beskik jy reeds oor ʼn kwalifikasie? Indien wel, sluit by Akademia aan op 8 Oktober vir ʼn aanlyn inligtingsessie oor die NGOS-program. Bespreek jou plek hier.

Rinette von Mollendorf is ʼn Akademia-student wat die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)-program – oftewel NGOS, via die instelling se nauurse afstandsmodel volg.
Rinette von Mollendorf is met die genetiese oogtoestand, Leber se kongenitale amaurose, gebore en beskik slegs oor ligpersepsie wat haar in staat stel om tussen lig en donker te onderskei. Haar dienshond, Mayzie, vergesel haar oral waar sy gaan, selfs in die klaskamer.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.