Gepubliseer op: 14 Julie 2025
As jy gedink het dat jukskei by uitstek nét by kultuursaamtrekke en skoolkampe gespeel word, dink wéér. Dié uiters gewilde speletjie, wat sy oorsprong volgens oorlewering in 1734 in die Kaap gehad het, is vandag ʼn hoogs kompeterende sportsoort wat ook onder Fonties* vlamgevat het. Anushka van Loggerenberg (21) is Akademia se eie jukskeikoningin en rig twee van die instelling se inwoonkoshuise, Huis Strelitzia en Huis Hennops, se spanne af.
Van Loggerenberg, ʼn finalejaarstudent in die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program, beoefen dié sportsoort reeds sedert elfjarige ouderdom. Sy het regdeur haar skoolloopbaan aan onderskeidelik die Laerskool Oosterkruin in Germiston en die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg kompeterend deelgeneem, haar SA Akademiespan-kleure verwerf en het in 2024 haarself as professionele afrigter bekwaam. Laasgenoemde is volgens Van Loggerenberg ʼn persoonlike hoogtepunt en sy noem dat sy trots en bevoorreg is om reeds op nasionale vlak te kon afrig.
Tuis as ʼn trotse Fontie
Van Loggerenberg vertel dat sy aanvanklik nie baie te vinde was om in Afrikaans te studeer nie, maar dat sy dadelik van plan verander het ná sy ʼn Akademia-kampusopedag in Centurion bygewoon het.
“Ek het onmiddellik tuis gevoel en net gewéét dat ek bestem is om ʼn Fontie te wees! Ek het sommer ten tye van die geleentheid al vir my ouers gesê dat ek aan die instelling wil studeer en regtig opgewonde is om hier my roepingsbesef te ontdek,” sê Van Loggerenberg. Sy het haar studie in 2023 via die voltydse kampusmodel begin en is ʼn trotse inwoner van die dameskoshuis, Huis Strelitzia. Hier dien sy in die Blommeraad vanwaar sy as gangleier optree en die huiskomitee (HK) met hul verpligtinge bystaan. “Ek is gek oor Akademia se bruisende studentelewe en kan nie my lewe sonder my medestudente indink nie,” sê Van Loggerenberg en voeg by dat sy veral die kultuuraktiwiteite soos sêrgeleenthede baie geniet.
Die jukskeibaan roep
Die jaarlikse Fontie-spele het aan Van Loggerenberg die geleentheid gebied om haar liefde vir jukskei én haar status as afrigter gestand te doen.
Sy het gevolglik haar eie koshuisspan onder hande geneem asook hul sleepkoshuis vir die jaar, Huis Hennops. Van Loggerenberg sê dat sy aangenaam verras is deur haar mede-Fonties se belangstelling in die sport en dat sy twee damesspanne en vier mansspanne onder haar leiding het. “Dit is my groot droom om jukskei as ʼn amptelike Akademia-sportsoort te vestig, en dan vir die instelling om by die Gautengse klub aan te sluit,” sê Van Loggerenberg en verduidelik dat laasgenoemde affiliasie die weg sal baan vir deelname aan nasionale toernooie.
Maar hoe sien jukskei as ʼn sportsoort daarvan uit?
“Jukskei is baie pret en leer jou om gedissiplineerd én strategies in ʼn span saam te werk,” verduidelik Van Loggerenberg. Sy voeg by dat hoewel die spel heelwat aangeleerde vaardighede vereis, dit eweneens deur groentjies sowel as gevorderde spelers geniet kan word.
ʼn Span word volgens Van Loggerenberg saamgestel uit vier lede, maar die sport kan óók in ʼn trips- (drie mense) of dubbelsformaat (twee mense) beoefen word. En alhoewel dié sportsoort nie baie fisieke eise aan deelnemers stel nie, meen Van Loggerenberg dat jy wel “jukskeifiks” moet wees omdat jy tot sewe rondes ʼn dag tydens ʼn toernooi kan speel – iets wat ʼn tol op jou rug, voete en bene kan hê.
Die interaksie tussen die spelers leen dié sport homself voorts tot groot sosiale samesyn, iets wat volgens Van Loggerenberg so reg tot die instelling se koshuiservaring spreek.
Jukskei Suid-Afrika deel die volgende interessante feite oor dié erfenisryke sportsoort op hul webblad:
Spanne van die Oos-Kaap en die Vrystaat het in die eerste interprovinsiale wedstryd op 3 Maart 1940 teen mekaar meegeding. Die sport het in dieselfde jaar amptelike status verkry.
“Ek is opgewonde oor die toekoms van jukskei by Akademia, en al wat vir my oorbly om te sê is, hou hierdie spasie dop!”, sluit Van Loggerenberg af.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.