Fontie-Anneré sê basta met die ouderdomstrik en ja vir selfontwikkeling

Gepubliseer op:  10 November 2025

Anneré Koen (35) is trots op haar identiteit as ʼn Fontie en toekomstige verskilmaker. Om die waarheid te sê, vir dié derdejaarstudent in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program verteenwoordig haar studiereis aan Akademia ʼn belangrike rigtingwyser op haar toekomsreis. Koen, ʼn opgeleide somatoloog en talentvolle naelkunstenaar, meen dat sy haar roepingsbesef in die onderwysveld gevind het en dat sy opgewonde daarna uitsien om as onderwyser ʼn positiewe impak te bewerkstellig. Gedagtig hieraan kan sy nie wag om in te spring en vanuit haar klaskamer te help om die wêreld ʼn beter plek te maak nie.

Koen, wat haar studie via die instelling se voltydse kampusmodel by die Leriba-kampus in Pretoria aanpak, droom egter nie nét van akademiese sukses nie, sy rol haar moue op en werk hard daaraan om haar toekoms te verseker. En sy pluk die vrugte van haar toewyding.

Tydens Akademia se prestigefunksie vroeër vanjaar is sy as een van die huidige toppresterende studente binne die Fakulteit Opvoedkunde vereer. “Ek streef daarna om eendag as ʼn inspirerende onderwyser gereken te word, iemand wat ʼn daadwerklike impak op ʼn jongeling se lewe sal hê,” sê Koen en voeg by dat sy leerders wil motiveer om hulself heelhartig uit te leef en só hul volle potensiaal te bereik.

Akademia voldoen aan al my vereistes vir ʼn studietuiste

Vir Koen, ʼn boorling van die Vrystaat wat in Pretoria-Oos gesetel is, is daar verskeie redes waarom sy Akademia as ʼn studietuiste gekies het. Nie nét spreek die instelling se waardes tot dié van haar eie nie, maar sy verkneukel haar behoorlik in die wete dat sy haar Christenskap én moedertaal tegelykertyd kan koester en uitleef.

Nóg ʼn groot pluspunt vir Koen is die kleiner klasgroottes en die persoonlike aandag wat sy en haar mede-Fonties ontvang. Voeg hierby die praktiese aanslag van haar studieprogram en sy meen dat Akademia sonder enige twyfel vir haar ʼn voorkeurstudietuiste is en dat sy nog nie vir ʼn oomblik spyt was oor dié belangrike lewenskeuse nie.

As ʼn voltydse Fontie geniet Koen die polsslag van studentwees terdeë en sy beskryf die kampusatmosfeer as ʼn “energie-inspuiting”. “Almal is vriendelik en staan reg om met raad en daad te ondersteun, terwyl daar ʼn lekker balans gehandhaaf word tussen akademiese verantwoordelikheid en sosiale samesyn,” meen Koen. Wat die buitemuurse aktiwiteitskalender betref vertel Koen dat aktiwiteite en geleenthede voortdurend geskep word wat bydra tot die Fontie-wees-ervaring. “Ek wéét dat ek deel is van iets veel groter as bloot my eie studiereis, en dat ek allermins net nóg ʼn studentenommer is,” sê Koen.

Ek fokus op lewenservaring en nié op ouderdom nie

Koen mag dalk ouer as haar klasmaats wees, maar is glad nie vasgevang in die “ouderdomstrik” nie. “Ek sien ouderdom beslis nie as ʼn beperking nie, maar eerder as ʼn voordeel. Met ouderdom kom lewenservaring, perspektief en myns insiens ʼn groter waardering vir geleenthede soos byvoorbeeld verdere studie,” vertel Koen. Sy voeg by dat sy daarvan oortuig is dat leer ʼn lewenslange proses is, en dat jy inderdaad nooit te jonk óf te oud is om jou drome van selfontwikkeling na te jaag nie. Met hierdie ingesteldheid in gedagte, was dit dan ook nie vir haar moeilik om by haar jonger klasmaats aanklank te vind nie.

“Ek was aanvanklik ʼn bietjie huiwerig oor die ouderdomsverskil tussen myself en die res van my programgenote, maar ek kon sommer so met die intrapslag al ontspan. Almal van ons is hier vir dieselfde doel: om gevorm te word en onsself voor te berei vir die toekoms. Ek ervaar elke dag wedersydse respek en ʼn verbondenheid wat my baie na aan die hart lê. Almal van ons leer by mekaar,” sê Koen.

Op die vraag of sy Akademia aan ander ouer individue as ʼn studietuiste sal voorhou, kom die antwoord, beslis! “Die mate van ondersteuning wat ek by die instelling ervaar is ongelooflik, óf dit nou van die personeel óf die groter studentegemeenskap is. Binne hierdie kultuur is dit maklik vir iemand, soos ek, wat op ʼn latere tydstip besluit om te studeer, jou potensiaal te ontgin. Niemand kyk vas teen jou geboortedatum nie, en jy het die geleentheid om jou toekoms roepingsgedrewe te herskryf,” meen Koen. Sy sluit af deur te sê dat Fontie-wees ʼn unieke identiteit is wat sy met oorgawe en trots aanneem.

Anneré Koen (35) is trots op haar identiteit as ʼn Fontie en toekomstige verskilmaker. As derdejaarstudent in die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program verteenwoordig haar studiereis aan Akademia ʼn belangrike rigtingwyser op haar toekomsreis.
Anneré Koen, heel links agter, saam met mede-Fonties tydens die jaarlikse revue soos aangebied deur die BEd (Grondslagfase-onderwys)-program.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.