Werk en studeer: Fontie-Alrina balanseer só haar vele verantwoordelikhede

Gepubliseer op: 4 April 2025

Akademia-student, Alrina Teichert (39) van die Moot in Pretoria, vertolk as vrou vele uiteenlopende rolle. Nie net is sy ʼn huweliksmaat vir haar argeoloog-man Frank en ʼn ma vir haar drie tienerseuns – Dimitri (14) en die tweeling Alexander en Frank (13) nie, sy is óók ʼn voltydse beroepsvrou én ʼn trotse Fontie*.

As administrateur by Akademia se mediasentrum, is Teichert ʼn bekende gesig by die instelling, maar wat baie mense dalk nie weet nie, is dat sy óók ʼn toegewyde student is. Sy beskryf haarself as ʼn lewenslange leerder, en dié ingesteldheid is duidelik wanneer sy vertel dat sy vanjaar die BA (Taalstudies)-program via die instelling se voltydse kampusmodel aanpak, kort op die hakke van die voltooiing van die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie in 2024. Laasgenoemde word via die nauurse afstandsmodel aangebied. Haar droom is om uiteindelik ʼn kwalifikasie in Biblioteekkunde te voltooi en só haar professionele passie en roeping verder uit te lééf.

Maar hoe tref sy ʼn balans tussen werk, studeer én gesinsverpligtinge?

Teichert meen tyd is tegelykertyd haar beste vriend én haar grootste vyand. Om dié rede omarm sy elke oomblik deur seker te maak dat sy teenwoordig is en haar volle aandag – emosioneel en intellektueel, aan watter taak ook al op hande is wy.

Prakties, beteken dit byvoorbeeld dat sy doelbewus daarna streef om nie die grense tussen werk, studeer en haar persoonlike lewe met mekaar te laat vervloei nie. “As ek tyd met my gesin spandeer, laat ek nie toe dat werk óf gedagtes aan my studeerwerk dié tyd beïnvloed nie. Ek probeer voorts om nooit werk huis toe te bring nie, en ontvang ook nie my e-pos via my selfoon nie. Op hierdie manier motiveer ek myself om as ek wél by die werk is al my energie aan my dagtaak te spandeer,” verduidelik Teichert. Dieselfde geld vir tyd agter die boeke. “Nougesette dissipline verleen struktuur aan my vol program, want glo my, daar is baie dae wat dit voel asof my vele verantwoordelikhede my wil oorweldig,” sê Teichert. Op sulke dae speel haar ondersteuningsnetwerk ʼn bykomende en onontbeerlike rol. Gedagtig hieraan moedig sy ander werkende Fonties aan om óók hulself te skaar by ondersteuners soos kollegas, vriende en familie wat hulp kan verleen en onderskraging bied tydens uitdagende tydperke.

Selfsorg is nóg ʼn manier waarop Teichert haar energievlakke hoog hou. Sy verduidelik dat in ʼn gesinsverband dit soms kan gebeur dat vroue deur al die selfopgelegde verantwoordelikhede hulself kan uitbrand. In haar huishouding, waar vier uit die vyf gesinslede met aandag afleibaarheid/tekort hiperaktiwiteit versteuring (ADHD) gediagnoseer is, verteenwoordig hierdie realiteit ʼn nóg groter uitdaging. Vir Teichert neem selfsorg die vorm van eie belangstellings en stokperdjies aan, terwyl sy en haar gesin ook moeite doen om gehalte tyd saam te spandeer. Hierdie tye neem die vorm aan van interessante gesprekke op pad skool toe in die oggend, die speel van bordspeletjies, fliekaande én selfs om saam die wasgoed oor ʼn naweek kaf te draf.

Teichert vertel opgewonde dat haar studiereis haar nie net intellektueel vervul nie, maar haar ook help om as werkende student belangrike deugde aan haar kinders oor te dra. Hierdie deugde sluit in verantwoordbaarheid, dapperheid en deursettingsvermoë. “Ek het verlede jaar my finale punte vir my kinders gewys, en vir hulle verduidelik dat dit óók in hulle vermoë is om te presteer, selfstandige bydraes tot die gemeenskap te maak én voluit te lééf,” sê Teichert. Sy voeg by dat harde werk altyd beloon word en dat enigiets wat die moeite werd is, opoffering verg. “Wat my egter nóg méér opgewonde maak is dat ek my kinders nou reeds blootstel aan Akademia as ʼn studietuiste en dat die weg vir hulle gebaan word om ook in die toekoms, in hul moedertaal, gevorm kan word,” sê Teichert.

Indien jy soos Teichert jouself voltyds in die werkplek bevind en ʼn studiedroom koester is Akademia se nauurse afstandsmodel nommerpas vir jou. Indien jy meer van dié onderrigleermodel wil weet, skakel in op Saterdag 12 April 2025 vir ʼn aanlyn inligtingsessie. Aansoeke vir die 2026- akademiese jaar is reeds oop, besoek gerus die instelling se webblad vir meer inligting.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Alrina Teichert, ʼn BA (Taalstudies)- eerstejaarstudent, meen dit is moontlik om voltyds te werk, gesinsverpligtinge na te kom én te studeer. Hier is sy en haar gesin, voor van links is Dimitri en die tweeling, Alexander en Frank. Agter staan Frank en Alrina.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.