Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Finalejaarstudente gereed vir studietoer in Europa

Gepubliseer op: 3 Desember 2018

Vyf finalejaarstudente van die Elitebeursprogram sluit hulle voorgraadse studies in BCom (Ondernemingsbestuur) vanaf 3 tot 17 Desember 2018 met ʼn studiereis na Europa af. Dié vyftal is Andrea Erasmus, Chimoné Kapp, Darcia Bensch, Jean-Pierre Erasmus en Rohan Pieterse.

“Die doel van die internasionale toer is om ons studente bloot te stel aan die funksionering van ondernemings en universiteite in die buiteland, om sodoende die kennis wat hulle opgedoen het in hulle voorgraadse studies met internasionale sake-ervarings aan te vul,” vertel Elize-Mari Coetzer, programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur).

Tydens die toer gaan die groep hoofsaaklik in Brussel, Gent, Antwerpen en Rotterdam vertoef, waar hulle wêreldbekende ondernemings soos Coca-Cola en Heineken gaan besoek. Kampusbesoeke gaan onder andere by die Vlerick-besigheidskool, die Arteveldehogeschool, die Universiteit van Gent en die Erasmus Universiteit Rotterdam afgelê word. Boonop gaan die groep ook tyd bestee aan stadstoere en om kulture te verken.

Jean-Pierre Erasmus verduidelik dat hy opgewonde is om besoeke aan buitelandse universiteite af te lê om sodoende te sien hoe hulle dinge daar doen. “Daar is baie min mense wat hierdie geleentheid kry – ek voel baie bevoorreg en sien baie uit”.

Coetzer wens die studente ʼn veilige oorsese studiereis toe. Ons sien uit om te hoor wat hulle geleer en ervaar het en watter internasionale bande hulle gebou en versterk het.

Foto: Vyf BCom (Ondernemingsbestuur)-finalejaarstudente van Akademia vertrek vanaf 3 tot 17 Desember 2018 op ʼn studietoer na Europa. Elzette le Roux (links), programkoördineerder by Akademia, gaan die groep vergesel. Dié vyftal is Chimoné Kapp, Jean-Pierre Erasmus, Darcia Bensch, Andrea Erasmus en Rohan Pieterse.