Gepubliseer op: 24 Januarie 2025
Fonties so ver as die oog kan sien! Só beskryf Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe en koshuise by Akademia, die samekoms van ʼn rekordgetal van 415 nuwe eerstejaarstudente tydens Akademia se jaarlikse eerstejaarskamp. Dié kamp, wat ʼn hoogtepunt op die instelling se studentelewekalender verteenwoordig, is vanaf 21 tot 24 Januarie 2025 by die Zwartkloof Private Game Reserve Estate in Bela-Bela aangebied.
Volgens D’Assonville spreek vanjaar se kampsukses tot die toegewyde en onverpooste harde werk wat oor die bestek van die afgelope twaalf jaar reeds gedoen is. “Akademia vier gedurende 2025 sy dertiende jaar van klas aanbied, en soos die instelling se jaartema dit óók weerspieël, is vanjaar vir ons ʼn viering van tuiskoms binne die Afrikaanse universiteitswese en studentelewemilieu,” verduidelik D’Assonville. Hy voeg by dat dit vir hom en die res van die Studentesake-afdeling ʼn besonderse voorreg was om eerstehands te ervaar hoe die nuwe Fonties hierdie tuiskoms met opgewondenheid omarm.
Vóór die vertrek na die kampterrein het die eerstejaars, vergesel van hul ouers en geliefdes, by die Leriba-kampus in Centurion byeengekom. Hier is hulle gul ontvang deur senior studente, wie ook later as kampfasiliteerders sou optree. D’Assonville vertel dat dié senior studente ʼn pluimpie verdien vir die manier waarop hulle die nuwelinge, en hul ouers, verwelkom het en aan die Akademia-leefwyse bekend gestel het. “Ek dink nie daar is ʼn beter getuigskrif vir die impak van die instelling se vormingsideaal as die wyse waarop hierdie studenteleiers hulself van hul taak gekwyt het nie.”
By die kampterrein het ʼn propvol program en gróót avonture op die groep gewag. Die driedagprogram het onder meer spanbouaktiwiteite, ʼn hindernisbaan, ʼn tromsirkel, inligtingsessies en verskeie eerstejaarskamptradisies ingesluit. Volgens D’Assonville geniet identiteitsvorming ʼn belangrike fokus tydens Fonties se eerste jaar van studie en om dié rede het die inligtingsessies ʼn platform geskep vanwaar dieper gesprekke en denke oor identiteit gevoer kan word. Hierdie sessies is deur dr. Heleen Coetzee (hoof: Studentesake), Paul Smit (konsultant: Strategiese ontwikkeling), dr. Daniël Maritz (bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum) en Daan Goosen (spesialis: Vormingsideaal) gefasiliteer.
D’Assonville beskryf die kamptradisies, soos die eerste saamsing van die universiteitslied en die FAK-kampvuuraand – waartydens MJ Nel die studente in die sing van bekende FAK-liedjies begelei, elk hoendervleisoomblikke. “Dit is nie altyd maklik om kultuur in woorde te omskryf nie, en daarom is dit só lekker om te kon ervaar hoe die studente byna naatloos hul plek in die Akademia-familie inneem. Waar hulle aan die begin van die kamp onbekende individue was, is hulle nou vriende en mede-Fonties,” sê D’Assonville.
Nadat die tasse gepak en die slaapsakke opgerol is, het die Fonties Vrydag die pad terug Centurion toe aangepak. Hulle kyk terug op ʼn verrykende ervaring waartydens lewenslange vriendskappe gevorm is, waardevolle nuwe vaardighede aangeleer is en herinneringe gemaak is wat nóg vir lank vir ʼn glimlag op die gesig gaan sorg. Besoek gerus Akademia se sosialemediaplatforms vir die foto’s en video’s van die eerstejaarskamp.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.