Gepubliseer op: 18 Februarie 2025
Akademia kondig met trots die aanstelling van dr. Piet Pretorius, ʼn ervare inligtingsbestuurspesialis en bewese akademikus, as waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan. Dié aanstelling is effektief vanaf Januarie 2025.
Pretorius, wie se professionele loopbaan oor méér as 45 jaar strek, is opgewonde oor sy nuwe rol. Hy beskou sy aanstelling nie net as ʼn loopbaanhoogtepunt nie, maar ook as ʼn geleentheid om roepingsgedrewe diensbaar te wees. “Dit is vir my ʼn voorreg om aktief te mag deelneem aan die vorming van studente se mondering, akademies en andersins, en hulle só vir die toekoms te help voorberei,” sê Pretorius wat vanaf 2022 by Akademia werksaam is.
ʼn Lewenslange leerder
Volgens Pretorius getuig sy loopbaanreis van die “ontskatbare waarde” wat lewenslange leer vir ʼn individu kan ontsluit. Hy verduidelik dat elke loopbaangeleentheid in sy loopbaanreis tot op hede deur voortgesette leer en ervaring moontlik gemaak is. Oor die bestek van sy professionele loopbaan het Pretorius verskeie senior IT-bestuursrolle by onder meer Gencor, Eskom en Liberty beklee. As onafhanklike konsultant was hy voorts verbonde aan multinasionale maatskappye soos Daimler, Global Continuity, Lonmin, Standard Bank en Liberty. Derhalwe vir sy kundigheid in inligtingsbestuur, omvat Pretorius se ervaring ook sleutelareas soos strategiese bestuur, waardetoevoeging, risikobestuur, programbestuur, inligtingsekuriteit en toekomsbeplanning in.
Pretorius is óók ʼn gesertifiseerde gevorderde SCRUM-meester (wat verwys na IT-projekbestuur), asook ʼn masjienleer-ingenieur. “Jy is nooit te oud om te leer nie, en ek maak dit my persoonlike doel om op die voorgrond van nuwe tegnologie en ontwikkeling te bly,” verduidelik Pretorius en noem dat hy veral belangstel in ontluikende tegnologieë en digitale transformasie.
“Daar is diegene wat meen dat tegnologie só sal ontwikkel dat dit uiteindelik die mens in terme van vaardighede en toepassing sal vervang, maar ek is oortuig daarvan dat hierdie ontwikkelende tegnologieë, soos kunsmatige intelligensie (KI), groot geleenthede vir almal inhou,” sê Pretorius. In die lig hiervan motiveer hy studente om oopkop oor dié tegnologiese verwikkelinge te wees, hulself aanpasbaar te posisioneer én om ten alle tye aan die voorpunt van nuwe inligting en ontwikkeling te bly.
Die strewe om te skep
Pretorius put groot waarde én motivering daaruit om skeppend te verkeer. Óf dit nou is om te help om nuwe programinhoude saam te stel, om kennishorisonne te help verbreed as ʼn meestersgraad- en doktorale toesighouer, as olieverfskilder óf as historiese romanskrywer.
“Om iets te mag skep, veral iets met ewigheidswaarde, is vir my belangrik omdat dit beteken dat ek waarde tot iets kan toevoeg,” meen Pretorius. Om dié rede is hy opgewonde oor nuwe geleenthede en in die geval van die Fakulteit Natuurwetenskappe sien hy daarna uit om saam met die span dosente en ondersteuningspersoneel verder te help vestig aan ʼn veerkragtige en dinamiese leeromgewing.
“Die fakulteit is nog in sy kinderskoene, maar baie is reeds vermag en ons sien uit na die toekoms,” sê Pretorius. Hy vertel dat benewens die BSc (Rekenaarwetenskappe)– en die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-programme wat via die instelling se voltydse kampusmodel aangebied word, die fakulteit ook ʼn diensmodule vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aanbied. Ontwikkelingswerk vind voorts tans plaas vir die toevoeging van die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program tot die instelling se nauurse afstandsmodel. Met betrekking tot die instelling se geografiese uitbreiding na die Wes-Kaap in 2026, sal die fakulteit die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program ook by die Paarl-kampus aanbied. Die ontwikkeling van Akademia se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria in 2028 baan voorts die weg vir onder meer programme in BScHons (Rekenaarwetenskappe), BSc (Biologiese Wetenskappe), BSc (Landbouwetenskappe) en BAgric (Landbou).
“Ek is só opgewonde oor Akademia se toekomstige impak op die rekenaarwetenskaplike en wiskundeveld, veral gegewe die groot tekort wat daar tans aan kundiges in dié velde bestaan. As waarnemende dekaan voel ek geëerd om aktief deel te mag neem aan hierdie groot vormingstaak,” sluit Pretorius af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.