Search
Close this search box.

Akademia-alumnikomitee: Oud-Fonties vat voor as ambassadeurs

Gepubliseer op: 11 Oktober 2024

By Akademia is studentwees méér as net jou studie. Dit is ʼn bruisende lewensfase waar jy tuis voel, lewenslange vriendskappe en netwerke vorm, pret ervaar, én roepingsgedrewe aan ʼn vrye toekoms bou.

Gedagtig hieraan streef die instelling daarna om doelgerig en voortdurend sy verbondenheid tot sy uitgebreide en dinamiese alumnigemeenskap te koester. Hierdie verbondenheidsverhouding word gekenmerk deur waardevolle en wedersydse verbintenisse tussen afgestudeerde Fonties en hul alma mater. Ten einde hierdie wisselwerking te help fasiliteer is ʼn alumnikomitee gedurende Oktober vanjaar in die lewe geroep, en die instelling stel met trots dié nuutverkose lede aan die breër Akademia-gemeenskap bekend:

  • Monica Mynhardt, voorsitter
  • Marzelle Vonk, sekretaris
  • Lindy Steyn, kommunikasie
  • Megan Galvin, projekte

Volgens Mareli Swanepoel, die bestuurder van institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verteenwoordig die komitee ʼn opwindende nuwe hoofstuk vir die instelling se alumniverhoudinge. “Die komiteelede, wat almal as vrywilligers hulself diensbaar stel, se harte klop warm vir hulle alma mater en dit is só lekker om te sien met hoeveel ywer hulle hierdie nuwe uitdaging as ambassadeurs aanpak,” sê Swanepoel. Sy voeg by dat die komiteelede vir ʼn tweejaartermyn (2024/2026) aangestel is, en dat hulle daarmee getaak is om die belewenisvlam van alumniwees aan te steek, en hóóg te laat brand. Hierdie belewenis is nie net beperk tot alumni se studentweeservaring nie, maar sluit ook in die vorming – van denke én die hart, wat hulle ondergaan het, sowel as die waardepersepsie wat hulle van Akademia-programme huldig. Hierbenewens word verskeie opwindende geleenthede in die vooruitsig gestel om hierdie eiesoortige gevoelswaarde en trots verder te versterk en uit te wys.

Meer oor die komiteelede

As voorsitter van die komitee, neem Mynhardt passievol die voortou. Sy is ʼn BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)- én LLB-alumnus van Akademia en is werksaam by Maroela Media as die bestuurder van die debatportaal. “Akademia is my enigste en absoluut geliefde alma mater,” sê Mynhardt en voeg by dat sy graag as ʼn teken van dankbetuiging heelhartig aan die instelling wil terugploeg. Dit is haar droom dat elke Fontie wat by Akademia afstudeer trots hul plek sal vind en gevolglik sal opneem binne die intergenerasionele verbondsverhouding wat die instelling in en deur sy onderskeie gemeenskappe verteenwoordig. 

Monica Mynhardt is ʼn BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)- en LLB-alumnus en sal as voorsitter van die alumnikomitee diens doen.

Vonk, wat die portefeulje van sekretaris vul, het twee kwalifikasies aan Akademia verwerf, naamlik BCom (Ondernemingsbestuur) en die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS). Sy is die stigter en besturende direkteur van The Education Collective, ʼn entrepreneuriese onderneming wat kinders toerus met onafhanklike denkvaardighede. “Ek wil graag teruggee aan my alma mater, want die uitstekende opleiding én vorming wat ek tydens my studie ontvang het, het my lewe én my loopbaan verryk,” verduidelik Vonk. Sy voeg by dat sy as Fontie nóóit as net nóg ʼn (studente)nommer gevoel het nie, maar deurentyd daarvan verseker was dat sy in die groter geheel werklik saakmaak. Dit is haar droom dat die instelling se alumnigemeenskap van krag tot krag sal gaan en dat alumni, waar hulle hulself ook al mag bevind, passievol hul Akademia-storie sal vertel.

Marzelle Vonk is ʼn entrepreneur met ʼn passie vir opvoedkunde. Sy vervul die rol van sekretaris in die alumnikomitee.

Vir Galvin, ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus, is projekontwikkeling en -bestuur ʼn passie wat sy ook in haar beroep as projekkoördineerder van Solidariteit se Netwerkplatform uitlééf. Vir haar is gemeenskapsbetrokkenheid ʼn roeping en sy sien daarna uit om te help om Akademia se alumnigemeenskap te vestig en uit te brei. “Jou alumninetwerk speel ʼn baie belangrike rol in loopbaangroei terwyl dit ook jou professionele ontwikkeling bevorder binne ʼn ondersteunende omgewing,” verduidelik Galvin. Sy wil haar voorts daarvoor beywer om geleenthede vir alumni te skep wat hulle sal toerus om hul invloedsfeer te vergroot. “Bó alles wil die komitee graag lewenslange bande kweek deur onder meer die voortsetting van voortdurende leer, mentorskap en ander professionele ontwikkelingsgeleenthede te vestig,” sê Galvin.

Megan Galvin is gemoeid met projekte en is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus.

Vir Steyn, óók ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus, is Akademia steeds haar voorkeurstudietuiste en sy volg vanjaar die Gevorderde Diploma in Projekbestuur-program. Sy is werksaam by Kampus Trust, waar sy as projekkoördineerder vir die skenkingsfondse van onderskeidelik Akademia, Sol-Tech en Solidariteit se Skoleondersteuningsnetwerk (SOS) haarself besig. “My hart klop Akademia en ek voel myself geroepe om te dien,” sê Steyn en voeg by dat haar siel gevoed word deur terug te gee aan haar gemeenskap. “Akademia speel ʼn groot rol in my lewe en dit is hier waar ek wil moue oprol en saam bou om ʼn grondslag te lê, by wyse van die komitee, vir die volgehoue voortbestaan van my alma mater,” verduidelik Steyn.

Lindy Steyn is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus en is in die proses om die Gevorderde Diploma in Projekbestuur-program te voltooi. Binne die alumnikomitee is sy gemoeid met kommunikasie.

Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumni-webwerf en word deel van jou alma mater se dinamiese alumnigemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na alumni@akademia.ac.za.

Akademia wens die komiteelede geluk met hul verkiesing tot die komitee en sien daarna uit om op hierdie manier doelgerig en roepingsgedrewe die instelling se alumnigemeenskap te laat gedy.

Die nuutverkose alumnikomitee is, van links Lindy Steyn (kommunikasie), Megan Galvin (projekte), Marzelle Vonk (sekretaris) en Monica Mynhardt (voorsitter).