Gepubliseer op: 14 Julie 2025
ʼn Jaar het verloop sedert Louis en Willem Albertyn se smaakvolle avo(n)tuur, Avo Guy, hulle die eerste plek in die Akademia-sakeplankompetisie, ʼn inisiatief van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program, besorg het. Sedertdien het dié broers hulself behoorlik as entrepreneurs onderskei en nie nét hul besigheid verder uitgebrei nie, maar óók ʼn aantal nuwe besigheidsidees die lig laat sien.
Avo Guy is in 2021 van stapel gestuur met die uitsluitlike doel om die Albertyn-broers in staat te stel om finansieel hul studiedrome aan Akademia te verwesenlik – ʼn doelwit wat hulle met vlieënde vaandels kon bereik. Dié besigheid fokus op die verskaffing van gesonde alternatiewe tot tradisionele kitskos wat by markte en feeste aangebied word, met avokadopeer as die hoofbestanddeel van hierdie alternatiewe opsies. Ouboet Willem het intussen sy BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie verwerf en is ʼn trotse Akademia-alumnus terwyl Louis vanjaar die BCom (Rekeningkunde)-program sal voltooi.
ʼn Kalenderjaar en duisende avokadopere later
Die broers vertel trots dat Avo Guy oor die verloop van ʼn jaar goed uitgebrei het, en ʼn kernspan van nege lede tans vir die besigheid verantwoordelik is. Hierdie verantwoordelikhede sluit in alles van die voorbereiding van die happies tot die verkoop daarvan. Nóg ʼn opwindende verwikkeling is hul deelname aan groter feeste en markte binne die Pretoria-omgewing, soos KragDag, Busstop 7, die Hazelwood-kosmark en die Linton’s Corner Night Market.
Volgens Willem het dié besigheid gedurende die 2024-kalenderjaar méér as 10 000 avokadopere aangekoop en bewerk, terwyl ʼn bykomende 410 kg fetakaas en 853 komkommers verwerk is.
Die broers is dit eens dat dié besigheid ʼn vaste grondslag het, en daarom kan dit volhoubaar voortgesit word al is Willem nie meer voltyds betrokke nie, en kleinboet Louis slegs deeltyds – soos sy studieverpligtinge as ʼn finalejaarstudent hom toelaat. Willem fokus op die oomblik daarop om twee nuwe ondernemings van stapel te stuur, waarvan een op die ontwikkeling van ʼn sagtewaretoepassing is wat kunsmatige intelligensie (KI) gebruik om besighede se winsgewendheid te verhoog.
Willem vertel dat hy en sy broer die kontantprys van R20 000 en die ander waardevolle pryse direk in die besigheid teruggeploeg het. Die kontantprys is byvoorbeeld belê in nuwe toerusting, waaronder vlekvryestaalbakke, nuwe tafels en koelhouers – alles om groter volumes happies vinniger en meer higiënies te kan verwerk, vervoer en stoor.
Waardevolle entrepreneuriese lesse
Sedert die totstandkoming van Avo Guy, hul deelname aan die instelling se sakeplankompetisie asook die opdoen van waardevolle besigheidservaring, meen Willem en Louis dat beginner-entrepreneurs die volgende blaadjies uit hul entrepreneuriese lesboek kan neem:
Die besigheidsomgewing funksioneer op verhoudingskapitaal, wat beteken dat elke nuwe netwerk of vriendskap die potensiaal het om in ʼn besigheidsgeleentheid of nuwe idee te ontwikkel. Op die koop toe dra hierdie verhoudinge ook tot groter vreugde en ʼn sin van gemeenskap by.
Wat die waarde van ʼn goeddeurdagte sakeplan betref, ʼn ontwikkelingsvaardigheid wat tydens die sakeplankompetisie verskerp word, deel die broers graag die volgende brokkies advies:
Wees entrepreneursfiks en maak seker dat jy met selfvertroue kan sê waarom jy die beste persoon is om hierdie besigheidsgeleentheid te benut.
Die broers sluit af deur studente aan te moedig om aan vanjaar se sakeplankompetisie deel te neem en só doelgerig vorm te gee aan hul toekoms. ʼn Toekoms waarin hulle as entrepreneurs met selfvertroue en ʼn begronde sin van bewustheid ʼn hoopvolle vooruitsig vir hulself en die groter gemeenskap skep. Inskrywings vir vanjaar se kompetisie open op Maandag 14 Julie.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.