Akademia vier Waterdag en Weerdag
Gepubliseer op: 20 Maart 2020
Akademia vier op 22 en 23 Maart onderskeidelik Wêreldwaterdag en Wêreldweerdag. Hierdie spesiale dae in die Natuurwetenskappe word jaarliks gevier om bewustheid te skep rakende die belangrike rol wat water en die klimaat in ons lewens speel.
Die temas van beide Wêreldwaterdag en Wêreldweerdag fokus op water en klimaat, met eersgenoemde se tema “Water en Klimaatsverandering” en laasgenoemde se tema “Klimaat en Water”. Daar word veral klem gelê op die risiko’s wat veranderende klimaatstoestande vir ons kosbare watervoorrade mag inhou. Hiermee saam word ook bewusmaking geskep deur ons daaraan te herinner dat elke druppel tel.
Ter viering van hierdie belangrike dae en om bewusmaking te skep, deel die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof. Hannes Rautenbach, feite betreffende Suid-Afrika se klimaat en watertoestande:
- Suid-Afrika is geleë in die middelbreedte-sone van die suidelike halfrond, wat tot gevolg het dat lugstrome vanuit die hoër atmosfeer gedurig oor die land afsak, en sodoende wolkontwikkeling en reënval beperk. Die Namib, Kalahari, Atakama en Australiese woestyne kom almal in hierdie middelbreedte-sone voor.
- Suid-Afrika het ʼn gemiddelde jaarreënval van 509 mm, soos oor die periode 1981 tot 2010 deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens bereken, teenoor ʼn wêreldgemiddelde jaarreënval van nagenoeg 990 mm. Daarbenewens verander die hoeveelheid reën aansienlik vanaf die droër weste tot die natter ooste, met jaartotale van so laag as 50 mm by Port Nolloth in die weste en so hoog as 1 000 mm by Richardsbaai in die ooste.
- Alhoewel dit van jaar tot jaar mag verskil, afhangende van die totale reënval, ressorteer Suid-Afrika oor die algemeen onder 25% van die droogste lande ter wêreld.
- Die grootste deel van water in die Suid-Afrikaanse somerreënvalgebied is vanaf die Indiese Oseaan afkomstig. Passaatwinde waai seevog van die ooste af in oor tropiese Afrika, vanwaar dit deur trogverwante lugstrome suidwaarts na die ooste van Suid-Afrika afgevoer word.
- Die grootste deel van water in die Suid-Afrikaanse winterreënvalgebied is vanaf die Atlantiese Oseaan afkomstig. Seevog word vanaf die weste oor die land ingevoer deur die ooswaartse beweging van koue fronte.
- Vir elke 1 mm reën wat oor ʼn area van 1 m2 val word 1 liter water versamel. Oor ʼn totale oppervlak van 1,22 miljoen km2 en ʼn gemiddelde reënval van 509 mm val daar dus in die gemiddeld ongeveer 620 000 miljard liter water per jaar uit reënwolke oor Suid-Afrika.
- Die mees onlangse data dui daarop dat Suid-Afrikaners 235 liter water per kapita per dag gebruik. Met ʼn bevolking van nagenoeg 58,9 miljoen mense beteken dit dat die Suid-Afrikaanse bevolking sowat 14 miljard liter water per dag gebruik.
- Ongeveer 30% van Suid-Afrika se varswater word opgeneem vir menslike gebruik, terwyl 60% vir landboubesproeiing gebruik word.
- Die groeiende aanvraag na water en die feit dat meeste van Suid-Afrika se groot stede nie langs groot standhoudende riviere gebou is nie, gepaardgaande met wisselvallige en veranderde reënvalpatrone, vereis dat Suid-Afrika daadwerklike planne in plek moet sit om aan die land se waterbehoeftes te voldoen. Die onlangse droogte het juis uitgewys hoe kwesbaar die samelewing kan word in tye van watertekort.
Het jy geweet dat water kan bydra tot die bevegting van klimaatsverandering?
Akademia daag die breë publiek, studente en personeel uit om water meer effektief te gebruik en ʼn bydrae te lewer tot die vermindering van kweekhuisgasse en ʼn gesonder omgewing. Elke druppel tel!
Klik hier vir meer inligting oor Wêreldwaterdag en oor Wêreldweerdag.