Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Belastingverligtingsmaatreëls teen Covid-19

Gepubliseer op: 29 Maart 2020

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in Ouditkunde en Belasting by Akademia

Die koronavirus (Covid-19) is ʼn hoogs aansteeklike virus en blyk deel te vorm van ʼn virus­familie wat ʼn reeks siektes veroorsaak vanaf infeksie van die boonste lugweg tot ernstige akute respiratoriese sindroom.

Die virus het gedurende 2019 ​​in Wuhan, Sjina, ontstaan. Sedertdien is 554 Covid-19-voorvalle in Suid-Afrika vermeld (24 Maart 2020). Covid-19 is vroeg in 2020 deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie as ʼn globale pandemie verklaar.

Benewens die globale sosiale ontknoping en die ontwrigting van voorsieningskettings, kan die landswye sluiting en inperking, soos op 24 Maart 2020 ingevolge die Rampbestuurswet aangekondig, die Suid-Afrikaanse ekonomie en ter sake finansiële state wesenlik dwarsboom.

President Cyril Ramaphosa het egter tussentydse verligtingsmaatreëls aangekondig ten einde die ekonomiese skok en akute finansiële uitdagings betreffende Covid-19 te trotseer. Hierdie verligtingsmaatreëls berus grotendeels op die verlening van finansiële ondersteuning vanuit die volgende oorde: die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die Departement van Kleinsake-ontwikkeling, die Oppenheimer- en Rupert-families, asook die nasionale regering.

Die Wet op Belastingaansporing vir Indiensnemings 26 van 2013 (Employment Tax Incentive – ETI) reguleer ʼn aansporing wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) van stapel gestuur is met die oog daarop om werkgewers aan te moedig om jeugdiges in diens te neem. Hierdie aansporingskema beklink ʼn onkoste-delingsmeganisme en gevolglik ʼn verlaagde lopende betaalstelsel (LBS)-las vir die werkgewer.

ʼn Addisionele ETI-subsidie ten bedrae van R500 per maand per werknemer wat minder as R6 500 verdien is ook aangekondig. Hierdie subsidie sal vir vier maande aan die privaatsektor gegun word.

Die SAID beoog om die tweejaarlikse ETI-terugbetalings tot maandelikse terugbetalings te omskep ten einde werkgewers in noodtoestande se kontantvloei te verbeter. Belasting-nakomende entiteite met ʼn omset van minder as R50 miljoen kan vir hierdie viermaand­periode 20% van hulle LBS-verpligtinge uitstel, en gedeeltelike vertraging van voorlopige belastingbetalings blyk vir die volgende ses maande nie onderhewig te wees aan die heffing van boetes of rentes ingevolge die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 nie.

Die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) bied tussentydse verligting aan werknemers wanneer diegene werkloos word of nie kan werk nie weens aannemingsverlof, kraamverlof of ongesteldheid nie. Die fonds bied ook verligting aan die afhanklikes van ʼn oorlede bydraer. Die huidige bydrae verskuldig deur ʼn werknemer beloop minstens 1% van die vergoeding wat ʼn werkgewer aan ʼn werknemer betaal. Sedert 1 Oktober 2012 beloop die maksimum bydrae egter R148,72 per maand. Die regering beraadslaag tans tydelike vermindering van hierdie maandelikse WVF-bydraes.

Suid-Afrika salueer President Cyril Ramaphosa se aankondiging van hierdie verligtingsmaatreëls met die aanhaling van ons Volkslied, “God seën Afrika”.

Michelle Coetzee is ʼn dosent in beide Ouditkunde en Belasting. Sy is ʼn geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester en SAICA-assessor

Bronne:

IOL, 2020, Besoek: 24 Maart 2020 < ;

SAID, 2020, Besoek: 24 Maart 2020 <https://www.sars.gov.za/TaxTypes/PAYE/ETI/Pages/default.aspx>

SAID, 2020, Besoek: 24 Maart 2020

<https://www.sars.gov.za/TaxTypes/UIF/Pages/UIF%20Afrikaans.aspx>