Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Paniekaankope affekteer voorsieningskettings regoor die wêreld: Wat van Suid-Afrika?

Gepubliseer op: 2 April 2020

Geskryf deur Carla Schutte en Salomien Boshoff, dosente in Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Talle Suid-Afrikaners het winkels gestormloop in ’n poging om huishoudelike benodighede aan te koop. Hierdie paniekaankope het gevolg nadat President Cyril Ramaphosa die nasie op 15 Maart 2020 toegespreek en die Covid-19-pandemie as nasionale ramp aangekondig het. Die kwessie rondom paniek­aankope is verder aangehits deur die aankondiging van ʼn drieweeklange nasionale inperking op 23 Maart 2020. Waar laat hierdie paniekaankope Suid-Afrikaanse voorsieningskettings en hulle verskaffers?

Die koronavirus (Covid-19) is ʼn ontwrigting vir voorsieningkettings, ʼn onbeplande gebeurtenis wat die vloei van goedere, inligting, dienste en finansiële hulpbronne binne-in en tussen ondernemings inperk. Hierdie ontwrigting veroorsaak dat landsburgers paniekbevange raak, en gevolglik is daar ʼn doelbewuste toename in vraag en aankope vir produkte en dienste. Almal (dit sluit verskaffers, klein- en groothandelaars, en kliënte in) gebruik hulle eie diskresie – en soms bevooroordeelde opinies – wanneer hulle vooruitskattings maak vir die tipe en aantal goedere wat aangekoop word. ʼn Tekort aan goedere lei tot vraag wat die hoogte inskiet. Kommoditeits-verskaffers (veral verskaffers en handelaars vir handreinigers en toiletpapier) hardloop inderhaas rond om so vinnig as moontlik voorraadvlakke weer te herstel, sodat kliënte beskikbare voorraadvlakke kan geniet.

Figuur 1: Illustrasie van die sogenaamde “bullwhip” effek.

Hierdie verskynsel staan bekend as die “bullwhip” effek, en het ʼn indringende impak op voorsieningskettings. Hierdie verskynsel is een wat ons plaaslik en wêreldwyd moontlik vir maande lank steeds in voorsieningskettings sal voel, en ʼn invloed sal hê op verkopers (verskaffers, klein- en groothandelaars) en kopers. Dié verkopers sal moontlik oortollige voorraadvlakke op sekere kommoditeite hê indien daar nie maatreëls in plek gestel word om goeie en effektiewe vooruitskattings te maak nie. Gevolglik is dit noodsaaklik om planne te beraam en in werking te stel wat uitpluis hoe ons almal te werk kan gaan om die effek van voorsieningskettingontwrigting te minimaliseer. Hierin word ook gefokus op die rol wat kommunikasie en verhoudinge tussen belanghebbendes in voorsieningkettingontwrigtings kan speel.

Wat kan belanghebbendes doen in hierdie tyd van onsekerheid en paniek?

Die belangrikste komponent van goeie besigheid is die aanwending van deurlopende en voldoende kommunikasie. Effektiewe kommunikasie is voordelig omdat daar deursigtigheid ontstaan tussen lede van die voorsieningsketting, wat die drastiese gevolge van die “bullwhip” effek kan minimaliseer. Dit is van kardinale belang vir klein- en groothandelaars om inligting te deel met verskaffers en vervaardigers van produkte wat tydens dié tydperk uitermatig baie verkope gehad het. Inligting soos voorraadvlakke en huidige verkoopsyfers moet gedeel word om te voorkom dat die verskaffers en vervaardigers te veel (of moontlik te min) van hierdie produkte vervaardig.

Goeie samewerking tussen verskeie belanghebbendes kan verder verbeter word deur besluit­nemingsprosesse te deel. Indien ʼn kleinhandelaar nou byvoorbeeld ʼn dubbele bestelling van langlewemelk plaas moet hul ook aan die vervaardiger verduidelik waarom dit die geval is en onder watter omstandighede dit weer kan gebeur. Sodoende seëvier deursigtigheid en kan verskaffers en vervaardigers ʼn plan van aksie saamstel om die impak van die huidige ontwrigting te minimaliseer – en verdere “bullwhip” effekte in die toekoms te minimaliseer.

Verder ontwikkel goeie verhoudings tussen belanghebbendes wanneer daar ʼn wedersydse belang tot ʼn spesifieke kwessie is. Dit is dus belangrik om uit te lig dat goeie verhoudinge tussen belanghebbendes tydens die Covid-19-ontwrigting in voorsieningskettings noodsaaklik is om sodoende die groot impak van die “bullwhip” effek hok te slaan. Verhoudinge tussen belanghebbendes skep ʼn platform vir die aaneenlopende kommunikasie en verspreiding van inligting tydens die voorsieningskettingontwrigting. Belanghebbendes is meer buigsaam tydens die ontwrigting en dit stel hulle in staat om vinniger op die ontwrigting te reageer en die gevolge daarvan in te perk. Uiteindelik word probleme, soos onder andere onakkurate vooruitskattings, aangespreek en spoedig opgelos.

Die handhawing van goeie verhoudinge is ook voordelig omdat belanghebbendes van verskillende voorsieningskettings aan mekaar verbind is en hulle juis in hierdie tyd afhanklik van mekaar is. Hierdie verbintenis stel belanghebbendes in staat om innoverende oplossings te vind om die impak en gevolge van ontwrigtings te verminder. Dit is hiér waar interdissiplinêre samewerking en ooreenkomste tussen belanghebbendes die primêre doel moet wees.

Die Covid-19-krisis het weereens belig dat ons almal aan mekaar en aan die buitewêreld gekoppel is. Die besluite en aksies wat jy uitvoer gaan lankal nie net meer oor jouself nie, maar strek heelwat verder. Elke persoon is deel van die groter voorsieningsketting, ongeag of jy die rol as ʼn verskaffer, klein- of groothandelaar of ʼn kliënt aanneem. Dit is baie belangrik vir ons elkeen om ʼn daadwerklike poging aan te wend om die voorsieningsketting so volhoubaar as moontlik te hou deur verantwoordelike optrede. Probeer om nie nou paniekerig te raak nie en dink eers na oor wat die uiteindelike gevolge van jou aankope vir die toekoms inhou.

Bronne:

Porterfield, T.E., Macdonald, J.R. & Griffis, S.E., 2012, ‘An exploration of the relational effects of supply chain disruptions’, Transportation Journal 51(4), 399–427.

Rood, C., Van den Berg, D., Niemann, W. & Meyer, A., 2018, ‘The role of personal relationships in supply chain disruptions: Perspectives from buyers and suppliers of logistics services’, Acta Commercii 18(1), a608. ac.v18i1.608

Wins, M. 2018. Understanding the bullwhip effect in supply chains. https://www.supplychain-academy.net/understanding-the-bullwhip-effect-in-supply-chains/ [Datum van gebruik: 02.04.2020].