Akademia-studieaansoeke nou ingewag: Neem die eerste tree tot toekomsvervulling

Gepubliseer op: 1 April 2025

Daar word gesê dat die verwesenliking van elke droom – hoe groot of klein ook al, begin deur die neem van ʼn doelbewuste en dapper eerste tree. Dieselfde is óók waar van studie-ideale. Óf jy nou binnekort ʼn skoolverlater gaan wees, reeds in die werkswêreld gevestig is óf selfs passievol ander belangstellings soos byvoorbeeld professionele sportdeelname najaag, ʼn gehalte kwalifikasie in jou moedertaal kan jou tot nuwe en hoër toekomshoogtes voer.

Akademia se 2026-studieaansoeke vir nauurse studie oor afstand, óf voltydse studie by die kampusse in Centurion of die Paarl het vandag op Dinsdag 1 April 2025 geopen.

Die waarde van ʼn naskoolse kwalifikasie

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is daar wesenlike voordele daaraan verbonde om jouself met ʼn naskoolse kwalifikasie toe te rus. Hy verduidelik dat in Suid-Afrika die werkloosheidskoers onder gegradueerdes baie laag is, en dat daar ʼn sterk en direkte positiewe verband tussen inkomstevermoë en ʼn individu se vlak van akademiese begronding is.

ʼn Bykomende aspek van studeer wat dikwels oorgesien word, is die sogenaamde “sagte” voordele wat verbonde is aan studentwees. “In die geval van Akademia bevind Fonties* hulself binne ʼn unieke studiemilieu waarin hulle lewenslange kennisse, vriendskappe en netwerke vestig,” verduidelik Visser. Hy voeg by dat studente voorts aan die hand van die instelling se vormingsideaal hul denke én hart op ʼn doelgerigte manier ontwikkel en só ʼn toekomsgerigte en hoopvolle ingesteldheid omarm wat noodsaaklik is om betekenisvol te kan lewe.

ʼn Keuse van twee onderrigleermodelle

As ʼn voorkeur- akademiese tuiste bied dié instelling reeds verskeie pasgemaakte oplossings aan studente, nasionaal en internasionaal, by wyse van twee onderrigleermodelle.

Die nauurse afstandsmodel is nommerpas vir diegene met ʼn besige skedule wat reeds ʼn beroep volg of ander drome najaag. Studente wat hul studie via hierdie model aanpak kan klasse bywoon deur óf by ʼn sentrum aan te sluit óf van die instelling se e-leeropsie gebruik te maak. Diesulke studente word deur gevorderde tegnologie met hul dosente verbind in ʼn virtuele leerruimte, terwyl klasse op weeksaande en Saterdae bygewoon word.

Wat die voltydse kampusmodel betref heers daar veral gróót opgewondenheid oor die eerste aansoeke wat ingewag word vir Akademia se Paarl-kampus wat in 2026 sy deure open. Hierdie model, wat reeds baie effektief in Centurion, Gauteng aangebied word, bied aan studente ʼn eiesoortige kampuservaring waar daar bedags klasgedraf word en deelname aan ʼn bruisende studentelewe aangemoedig word. Die Paarl-kampus, sal soos in die geval van die Gerhardstraat- en Leriba-kampus in Centurion, ʼn veilige en goed ingerigte ruimte wees waarin studente tot hul volle potensiaal sal kan gedy. ʼn Paarl-kampusopedag vind op 9 en 10 Mei plaas en voornemende Fonties in die Wes-Kaap word aangemoedig om dié geleentheid by te woon.

Ongeag die onderrigleermodel wat voornemende studente kies, geniet hul gehalte opleiding en roepingsgedrewe vorming vanuit die instelling se vyf dinamiese fakulteite, naamlik: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Opvoedkunde, Natuurwetenskappe en Regsgeleerdheid. Klik hier om meer uit te vind oor die beskikbare studiemoontlikhede.

Só sien die aansoekproses daarna uit

Die instelling se aansoekproses vind aanlyn plaas via die webblad en van begin tot einde neem dié proses jou slegs twintig minute. Ten einde die aansoekproses so naatloos as moontlik af te handel, benodig aansoekers die volgende dokumentasie:

  • Gesertifiseerde afskrifte van kwalifikasies nie ouer as drie maande nie (indien van toepassing) of jongste graad 12-punte (skoolverlaters)
  • ʼn Gesertifiseerde afskrif van jou ID-dokument nie ouer as drie maande nie
  • ʼn Volledige CV (vir persone wat reeds werk)
  • Gesertifiseerde afskrifte van enige naskoolse kwalifikasies nie ouer as drie maande nie (indien van toepassing)

Klik hier vir meer inligting oor Akademia en om aanlyn aansoek te doen.

Neem vandag nog beheer oor jou toekoms en neem die eerste tree na loopbaansukses.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Studentwees by Akademia gaan oor méér as net studie. Fonties se denke én hart word gevorm met die oog op ʼn vrye toekoms. Studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar word tans ingewag.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.