Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studente voer debat

Gepubliseer op: 11 Mei 2017

Vier studente van Akademia het op 14 en 15 April 2017 teen 12 debatspanne van 8 universiteite landswyd aan die Dink of Sink-universiteits-debatkompetisie deelgeneem.

Die span wat Akademia teenwoordig het Ilze Nieuwoudt, Johan Nortje, Llewellynn Hemmens en Jacques Steyn het as span aan die debatkompetisie deelgeneem, wat op die Britse parlementêre styl van debatvoering in die Laerhuis van Westminster geskoei is. Suid-Afrikaanse wetgewende liggame funksioneer ook op die Britse parlementêre styl van debat en aspirant-wetgewers word tydens die kompetisie ‘n voorsmakie van hierdie wyse van redevoering gegun.

Operasionele Bestuurder van Akademia, Paul Vogel, deel mee dat Akademia as private hoëronderwysinstelling aan sy studente die geleentheid wil bied om hulself te ontwikkel, nie net op akademiese vlak nie, maar ook om gesonde debat te voer en teen ander universiteite van regoor die land deel te neem. Die Akademia-span het in die eerste ronde teen ‘n debatspan van die Universiteit van Stellenbosch te staan gekom, met die tema ‘Moet rassisme gekriminaliseer word?’.

Johan Nortje vertel dat die eerste ding waarvan hy bewus geword het, die kameraadskap tussen sy spanmaats was. “Ons het opinies geruil en op die beste strategie besluit. Die atmosfeer by die lokaal was ontspanne en almal was vriendelik, maar onder die rustige gety van glimlagte was die mededingende drif wat ons almal hierheen gebring het.” Die rolle is vinnig onder spanlede verdeel en elke span het 60 minute gekry om voort te brei, waartydens hulle gesaghebbende bronne moes opspoor om hul argument te staaf. “Die bekende Britse akteur en komediant, Steven Fry, het gesê dat ’n waarheid wat nie goed uitgedruk of geartikuleer word nie, ’n leuen is. Dit beklemtoon een van die belangrikste elemente waarop debatteerders beoordeel word, naamlik die student se vermoë om hom- of haarself doeltreffend in Afrikaans uit te druk. Deelnemers is as te ware gedwing om kreatief met die taal om te gaan,” verduidelik Johan.

Tydens die tweede ronde moes Akademia se span die onderwerp: ‘Moet ’n suikerbelasting ingestel word’ debatteer. Die vier studente het die vuurdoop terdeë geniet en sien reeds uit na volgende jaar se kompetisie. Kontak Akademia gerus as jy deel van volgende jaar se debatspan wil wees.