Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studente ploeg terug in die gemeenskap

Gepubliseer op: 12 Oktober 2017

Vyf derdejaarstudente wat BCom Ondernemingsbestuur aan Akademia studeer het die geleentheid gekry om ʼn liefdadigheidsprojek saam met ʼn eerste -en tweedejaarstudent te loods.

Tanya Ras wou graag ʼn verskil onder kinders maak en het besluit om by die El-Shalem privaatonderriginstelling vir gestremde kinders betrokke te raak. “Ek het ʼn behoeftebepaling gedoen, waartydens ek kon vasstel dat die instelling alledaagse dinge soos kos en matrasse nodig het, asook fondse.”

Die behoefte aan kommunikasieapparate het egter uitgestaan, aangesien dit van kritieke belang is vir die sowat 75% verbaal gestremde leerders. Tanya het besluit om daarop te fokus, aangesien dit op die langtermyn ʼn reuse-effek op die leerders se leervermoë sal hê en die lewe sommer bietjie makliker vir hulle maak. El-Shalem se personeel was baie dankbaar en het aan Tanya en haar span verduidelik dat hulle aan die kinders ʼn sleutel gee om, deur middel van hierdie apparate, hulle eie potensiaal te ontsluit.

Vir Tanya was dié projek ʼn besonder verrykende ervaring. “Hoewel hierdie kinders fisies en kognitief gestremd is, is hulle harte perfek en leef hulle 100% vir die Here. Ek het deur hierdie projek net besef dat mens hulle nie moet jammer kry nie, hulle verstaan hulself en is gelukkig. Ek het ook besef dat mens moet dankbaar wees, nie omdat ek meer het as die leerders nie, maar hulle het my geleer dat jy 100% gelukkig kan wees met hoe min, of baie jy het. Dit gaan nie oor kwantiteit nie, dit gaan oor kwaliteit.”

Bernidene Skinner en haar span se liefde vir diere het hulle daartoe gelei om kos vir die Hartbeespoort Animal Welfare Society (HAWS) in te samel en ʼn sakeplan vir hul eie hondesalon op te stel.

HAWS se groot behoefte was aan eksterne befondsing en aanneming. Om aan dié behoefte te voldoen, het Bernidene R3 500 ingesamel om die honde te help. “Met hierdie projek het ons weer besef hoe groot die nood onder diere is en dat mense eerder honde moet aanneem as koop.”

Helena Oosthuizen het besluit om die Albertinia Versorgingsdienste te help, omdat die gemeenskap haar na aan die hart lê en haar wortels in Albertinia is. “Dit is hier waar ek grootgeword het en waar my oumagrootjie ook self vir ‘n paar jaar in die tehuis was.”

Die projek het daarop gefokus om kinders uit die gemeenskap by bejaardes betrokke te kry, om sodoende die generasiegaping te oorbrug. Die leerders het opstelle wat hul vir ‘n kompetisie ingeskryf het rakende die belangrikheid van ʼn ouma en oupa voorgelees, met opregtheid eie aan ʼn kinderhart.

Albertinia Versorgingsdienste het by die projek gebaat deurdat leerders tyd saam met die bejaardes deurgebring het en so vir ‘n vonkel in die oë gesorg het. Helena se span het ook skenkings van verskeie besighede ontvang, wat ‘n groot bydrae gelewer het tot die suksesvolle voltooiing van die projek.

Rizaan van der Merwe en haar span het ʼn volhoubare projek in samewerking met Sanlam begin. Werknemers samel op ʼn gereelde basis toiletware vir Sonop in Bellville in, wat 60 psigiatriese pasiënte huisves. Tydens die eerste oorhandiging is elke inwoner se toiletware in ʼn mooi sakkie verpak om elkeen spesiaal te laat voel.

Rizaan was al vroeër bewus van die behoefte wat die huis het, maar het nog nooit so ver gekom regtig betrokke te raak nie. “Hierdie projek het vir my die perfekte geleentheid gegee om die verskil in hulle lewens te maak wat ek nog altyd wou. Dit het vir my bewys dat iets klein ‘n baie groot impak op iemand se lewe kan hê. Ook het dit my geleer dat jy moet tyd maak vir mense wat dit nodig het.”

Charné Schoeman se span is besig om ʼn oefenhandleiding vir behoeftige skole in Mosselbaai saam te stel, nadat hulle kospakkies, sanitêre ware en fondse vir behoeftige huishoudings ingesamel het.

Akademia is baie trots op hierdie studente, wat die kennis wat hulle deur hul studies opdoen positief aanwend om ʼn verskil in die gemeenskap en in die wêreld te maak.