Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia se leermodel help vrouens om drome te verwesenlik

Gepubliseer op: 27 Augustus 2019

Akademia vier hierdie Vrouemaand vrouwees ter erkenning van sterk dames wat hulle ambisies nastreef en ʼn positiewe bydrae tot hulle gesinne en die werksplek maak. By Akademia strek die profiel van damesstudente oor ʼn wye spektrum – van jong dames wat skool voltooi het en hulle studiereis wil aanpak, tot werkende dames met gesinsverpligtinge. Akademia se onderrigleermodel is van so aard dat dit gerieflik is vir besige vrouens om nauurs te studeer terwyl hulle werk of ander verantwoordelikhede nakom.

“By Akademia is daar damesstudente wat vir die eerste keer ʼn graad, sertifikaat of gevorderde diploma aanpak om beroepsmoontlikhede te skep óf te verbreed,” sê dr. Saretha Brüssow, dié instelling se Dekaan: Onderrig en leer. “Ons het ook damesstudente wat reeds in hulle beroepe gevestig is en die geleentheid aangryp om hulle bevorderingsmoontlikhede te vergroot.”

Een van hierdie dames wat haar loopbaanmoontlikhede verbreed het, is Melissa Geldenhuys, ʼn afgestudeerde student, wie die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie in 2015 by Akademia voltooi het. “Ek het voltyds gewerk en geweet dat ek nêrens anders nauurs en in Afrikaans sou kon studeer nie,” vertel sy. “Ek het as ʼn persoonlike assistent gewerk en alhoewel ek reeds administrasie as beroep gevolg het, het ek dit goed­gedink om myself daarin te kwalifiseer.”

Geldenhuys meen dat goeie tydbestuursvaardighede ʼn belangrike komponent is wanneer jy werk en studeer. “Ek het my boeksak altyd in my kar gehou – net vir ingeval ek iewers ʼn kans sou kry om te studeer of opsommings te maak.” Sy het haar kwalifikasie binne een jaar voltooi, en vyf van haar ses modules met onderskeiding geslaag.

Geldenhuys vertel verder dat hierdie kwalifikasie soveel deure vir haar oopgemaak het. “Ek het na my kwalifikasie ʼn medieseontvangsdamepos aanvaar en myself vandaar gekwalifiseer as ʼn oftalmiese assistent.” Hierdie pos behels dat sy daagliks met pasiënte werk, voorlopige oogtoetse uitvoer, met mediese fondse skakel en praktykadministrasie uitvoer.”

“Die mees gesogte vaardighede vir hierdie pos is uitnemende organisasie en kliëntediens,” vertel sy. Akademia se Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie rus studente toe om kantoor­administrasiepraktyk te verstaan en om fundamentele administratiewe funksies suksesvol uit te voer. Kennis van administratiewe praktyk stel studente in staat om ʼn teoretiese én praktiese begrip te ontwikkel van strategieë wat relevant is vir skedulering en koördinering, kantoorstelsels, verslaghouding, organisasie, en dataversekering in die toepaslike omgewing. “Omdat ek hierdie kwalifikasie voltooi het verstaan ek hoe om hierdie administratiewe funksies in my beroep as oftalmiese assistent suksesvol uit te voer,” voeg Geldenhuys by.

Sy verduidelik dat sy hierdie kwalifikasie vir enige persoon in enige bedryf sal aanbeveel. “Kliëntediens en administrasie vorm ʼn deel van almal se werk. Jy kan jouself bekwaam en in die werksplek onderskei deur hierdie kwalifikasie binne ʼn jaar nauurs by Akademia te voltooi, en dit sonder om werkstyd en inkomste prys te gee.”

Melissa Geldenhuys het die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie nauurs by Akademia voltooi. Benewens die uitvoering van administratiewe verantwoordelikhede by haar werksplek, het sy haarself ook na oftalmiese assistent opgewerk.