Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Weervooruitsigte vir vanjaar se lente- en somerseisoen

Gepubliseer op: 4 September 2019

Geskryf deur Prof. Hannes Rautenbach, dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe, Akademia. Rautenbach is ʼn weerkundige.

Die begin van September word alom beskou as die aanbreek van lente. Dit is ʼn tyd waar almal opgewonde is oor die vooruitsig van vernuwing en groei, wat in die somerreënvalgebied veral saamval met ʼn verwagting van warmer somerdae en reën.

In Suid-Afrika is dit normaalweg droog in die winterreënvalgebiede, terwyl ons weet dat daar verseker reën gaan voorkom in somerreënvalgebiede. Laasgenoemde is belangrik om te noem, aangesien dit ʼn gegewe is dat reën wel gaan voorkom. Die belangrike vrae is egter wanneer die reën gaan begin val, hoeveel dit gaan reën en hoe gereeld dit gaan reën. Antwoorde op hierdie vrae word al hoe belangriker in ʼn omgewing waar groei en produksie reën- en temperatuurafhanklik is, en waar voortydige beplanning noodsaaklik word.

Met al die wetenskaplike kennis waaroor ons beskik is die voorspelling van reënval alleen oor lang periodes in die toekoms nog nie haalbaar nie. Benaderings van toekomstige reënvalpatrone is egter wel moontlik deur gebruik te maak van ons kennis rakende stadig veranderende reënvaldrywers. Een so ʼn drywer is stadig veranderende seeoppervlaktemperature. Die logika hieragter berus op die feit dat alle kontinentale reën grootliks afkomstig is van warmer seewater wat verdamp, en die daaropvolgende windpatrone wat dan die vogtige seelug oor die land inwaai. Daarbenewens verander seeoppervlaktemperature stadig en kan dus tot maande vooruit voorspel word.

ʼn Bekende oseaandrywer is die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO). Die ENSO beskryf beide die omvang van seeoppervlaktemperature in die ekwatoriale Stille Oseaan en gepaardgaande windpatrone oor dieselfde gebied. Vir Suid-Afrika geld dat warmer seewater in die oostelike ekwatoriale stille oseaan (El Niño-toestande) meestal gepaard gaan met ondergemiddelde somerreënval, terwyl kouer seewater oor dieselfde gebied (La Niña-toestande) meestal aanleiding gee tot bo-gemiddelde somerreënval.

Op hierdie stadium word die ENSO-vooruitsigte vir die komende somerseisoen as neutraal beskryf, met seewater wat ietwat warmer as gewoonlik is. Dit beteken dat dit moeilik is om die ENSO alleen te gebruik om ʼn voorspelling te maak oor Suid-Afrikaanse reënvalverwagtinge vir die komende 2019/20 somerseisoen. In so ʼn geval is dit meer wenslik om gebruik te maak van gekoppelde oseaanatmosfeerklimaatmodelle. So ʼn model beskryf die reaksie van globale windpatrone op voorspelde seeoppervlaktemperature wat oor die hele Aarde voorkom, en kan dus waardevolle inligting verskaf oor die vooruitsing vir reën as gevolg van aanlandige vogtige lugvloei.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens maak gebruik van ʼn gesofistikeerde gekoppelde oseaanatmosfeerstelsel om op ʼn maandelikse interval seisoenale voorspellings van tot so ver as drie maande vooruit te bereken. In die mees onlangse Seisoenale Klimaatsuitkyk, wat op 30 Augustus 2019 vrygestel is, word reënvalvooruitsigte vir die komende somerseisoen as twyfelagtig beskryf, hoofsaaklik as gevolg van die neutrale ENSO-toestande wat voorspel word. Ten spyte hiervan dui die gekoppelde oseaanatmosfeerstelsel daarop dat reënval vir die 2019-lenteseisoen stadig sal begin inskop, met ʼn mengsel van ondergemiddelde en bogemiddelde reënvalverwagtinge oor Suid-Afrika vir September en Oktober, terwyl droër toestande vir November 2019 voorspel word. Daar is egter wel ʼn sterk aanduiding dat goeie reën vanaf Desember 2019 kan voorkom.

Wat egter duidelik is, is dat die winterstelsels nog sterk van krag is, veral verwysende na die koel tot koue lentedag op 1 September 2019. Daar word voorspel dat nog ʼn kouefront teen Donderdag 5 September 2019 reën oor die suidelike en oostelike kuslyn tot gevolg sal hê, en dat hierdie reën teen Vrydag met koel toestande na Gauteng mag uitbrei. Alhoewel die winterstelsels steeds domineer, kan ons heel waarskynlik binnekort die eerste lentereën verwag.

Moet egter nie te gou die winter kaggelvure uitblus en die somersambrele uithaal nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se Seisoenale Klimaatsuitkyk is verkrygbaar by cobus.olivier@weathersa.co.za of kan afgelaai word by http://www.weathersa.co.za/images/data/longrange/gfcsa/scw.pdf