Regsgeleerdheidstudentesimposium: Meesters in die reg begelei Fonties op hul loopbaanpad

Gepubliseer op: 18 Maart 2025

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid het, in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk, op Saterdag 15 Maart 2024 ʼn Regsgeleerdheidstudentesimposium en -netwerkgeleentheid by die instelling se Leriba-kampus aangebied. Dié simposium het dit ten doel om ʼn brug te slaan tussen akademiese teorie en die praktyk deur ʼn platform te skep vanwaar meesters, praktisyns en studente met mekaar in aanraking kan kom.

Volgens prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, is dié jaarlikse geleentheid gebore uit ʼn behoefte vanuit die akademie sowel as die groter regsgemeenskap. “Akademia streef daarna om ten alle tye sy studente goed te vorm, en in die geval van sy regstudente beteken dit om nie net inhoudelike kennis en teorie te bemeester nie, maar óók om kritiese denke te kultiveer. Op dié manier staan die instelling nie onverantwoordelik teenoor die professie nie, en terselfdertyd word professionele bande versterk tot voordeel van Fonties* en die groter regsgemeenskap,” verduidelik Coetzee.

Tydens die simposium het senior regspraktisyns tersaaklike onderwerpe met studente bespreek, terwyl regsvaardighede prakties geslyp is, waardevolle inligting gedeel is en professionele netwerke gevorm en uitgebrei is. Deelnemende sprekers het ingesluit:

  • Advokaat Lourene Scholtz, deeltydse dosent: Publiek- en Prosesreg aan Akademia
  • Tiaan Joubert, senior vennoot: Tiaan Joubert Prokureurs en ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Prokureursvereniging (SAAF)
  • Willem Gravett, departementshoof: Publiek- en Prosesreg aan Akademia
  • Ruan Coetzee, senior assosiaat: SDH Prokureurs
  • Emil Glas, organiseerder: Solidariteit Regsnetwerk
  • Sarita Gerber, programkoördineerder: LLB aan Akademia
  • Llewelyn Curlewis, Universiteit van Pretoria (UP)
  • Zandri Van der Westhuizen, dosent: Privaat- en Handelsreg aan Akademia
  • Ruan Wepener, Akademia-alumnus en kandidaatprokureur by Serfontein, Viljoen en Swart Prokureurs

Coetzee meen dat geleenthede soos dié simposium uiters waardevol vir beide studente en praktisyns is. “Netwerke bied aan studente die geleentheid om deel te word van die groter regsgemeenskap, terwyl dit ook voordele soos mentorskap, verbeterde kollegialiteit en vriendskap tot gevolg kan hê.” Sy voeg by dat die netwerke wat ʼn student nou bou die grondslag vir toekomstige gemeenskappe verteenwoordig. Elk van die sprekers was dit eens dat studente reeds van die begin van hul studie af erns moet maak met hul voorsiende toekoms en rol in die regsgemeenskap.

Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk meen op sy beurt dat dit vir dié netwerk belangrik is om voort te bou op die goeie verhoudingsbasis wat daar met Akademia se regsfakulteit bestaan. Die netwerk tree met trots op as ʼn aktiewe skakel tussen die regsprofessie en die fakulteit en help só om studente vir ʼn suksesvolle beroep voor te berei.

Indien jy belangstel in ʼn loopbaan in die regswêreld is Akademia se LLB-program nommerpas vir jou. Dié program word voltyds op kampus asook nauurs oor afstand aangebied en sal vanaf 2026 óók by die instelling se Paarl-kampus aangebied word. Studieaansoeke open op 1 April 2025. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

* Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Akademia se jaarlikse Regsgeleerdheidstudentesimposium word in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk aangebied. Op dié foto is Emil Glas, organiseerder: Solidariteit Regsnetwerk, en prof. Hermie Coetzee, dekaan: Fakulteit Regsgeleerdheid.
Senior regslui wat as gassprekers aan die simposium deelgeneem het, sluit in van links: Tiaan Joubert (senior vennoot: Tiaan Joubert Prokureurs), advokaat Lourene Scholtz (deeltydse dosent: Publiek- en Prosesreg by Akademia), dr. Willem Gravett (departementshoof: Publiek- en Prosesreg by Akademia), prof. Hermie Coetzee (dekaan: Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia), Emil Glas (organiseerder: Solidariteit Regsnetwerk), Sarita Gerber (programkoördineerder: LLB by Akademia), dr. Llewelyn Curlewis (Universiteit van Pretoria) en Ruan Coetzee (senior assosiaat: SDH Prokureurs).
Ruan Wepener, Akademia-alumnus en kandidaatprokureur by Serfontein, Viljoen en Swart Prokureurs, het Fonties toegespreek oor die oorgang vanaf student na regspraktisyn. Hier is hy saam met Sarita Gerber, programkoördineerder: LLB by Akademia.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.