Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia praat prontuit oor hoër onderwys

Gepubliseer op: 26 Januarie 2017

Private hoër onderwys en Afrikaans as onderrigtaal was die onderwerp van ‘n onlangse gesprek op KykNet se program Prontuit.

Die regstreekse program, wat op 23 Januarie 2017 uitgesaai is, het kwelvrae rondom privaat hoër onderwys in Suid-Afrika aangespreek, met Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, en prof Johann Rossouw van die Departement Filosofie by die Universiteit van die Vrystaat as gespreksgenote.

Te midde van die ontstuimigheid op universiteitskampusse oor die afgelope jaar of twee, het die vraag oor die doel en kern van universiteitswese weer na vore getree. Prof Rossouw het uitgelig dat ‘n universiteit mense se karakter behoort te bou en hulle voor te berei om deelnemende burgers te wees. Le Roux het hiermee saamgestem en gesê dat karaktervorming en kultuuroordrag in die breë sin van die woord deel van universiteitswese se hartklop is. “Dis belangrik dat ‘n student wat by ‘n universiteit uitstap nie net kennis van sy eie gespesialiseerde dissipline het nie, maar ‘n sin vir die samehang van dinge.”

Hy het bygevoeg dat Akademia op die onderrigervaring gefokus is en die beste uit ‘n paar duisend jaar se universiteitstradisie neem en daarop uitbrei. “Dis die lekkerte daarvan om iets nuuts te begin. Ons hoef nie te herhaal wat bestaan nie, ons kan nuwe tegnologie, nuwe stelsels en nuwe idees inspan om ‘n selfs beter ervaring te skep.”

Akademia rig homself intussen op die uiteindelike handhawing van twee komplementerende onderrigmodelle – die huidige hoëtegnologie verspreideleermodel en ‘n toekomstige residensiële model wat tans ontwikkel word. Die verwagting is dat  etlike duisende studente deur middel van albei modelle by Akademia sal studeer.

Op die vraag oor Akademia se filosofie en ideologie, het Le Roux benadruk dat almal welkom is. “Akademia het, soos enige goeie universiteit, ‘n eie karakter en funksioneer binne die Westerse tradisie. Die toets vir vooruitgang is hoe oop jy vir ander idees is en om in gesprek te tree daaroor. Dis vir Akademia belangrik om homself met selfvertroue in die hoër onderwyssektor te vestig en dan die beste uit die wêreld na Afrikaans te bring en uit Afrikaans die beste na die wêreld te neem.”

Klik hier om die volledige Prontuit-gesprek te sien.