Search
Close this search box.

Splinternuwe baadjie én vol diensprogram vir Akademia-loopbaankantoor

Gepubliseer op: 26 Julie 2024

Akademia se Loopbaankantoor spog nie net met ʼn splinternuwe baadjie nie, maar bied ook verskeie waardetoegevoegde dienste aan om Fonties – voltyds op kampus én nauurs oor afstand, met sukses op hul loopbaanreis te begelei. Die Loopbaankantoor, wat in samewerking met Solidariteit behartig word, het dit ten doel om ʼn eenstoploopbaandiens te bied wat studente help om, getrou aan die instelling se vormingsideaal, as volronde individue die werkplek met selfvertroue en ʼn roepingsgedrewe ingesteldheid te betree.

Volgens Megan Meyer, organiseerder van die Loopbaankantoor, sal dié diens voortaan onder die sambreel van Akademia se Studenteondersteuningsentrum val, en sal studente die geleentheid hê om nie net hul werksoekvaardighede te slyp nie, maar ook hul loopbaanreis aan die hand van kundige advies en blootstelling aan die praktyk te navigeer. “Danksy die bystand van Solidariteit (as deel van sy Studente-aanbod) en verskeie beroepskenners kan Fonties nou méér doen as bloot droom oor loopbaansukses,” meen Meyer.

In haar verwelkomingsboodskap het Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod gesê dat Solidariteit verskeie hulpbronne ontwikkel het om juis studente by te staan op hul loopbaanpad. Hierdie hulpbronne sluit in opleidingsmodules oor onderwerpe soos die opstel van ʼn CV, werksetiek, ʼn onderhoudsgids en ʼn slypskool wat deur die Solidariteit se Regsnetwerk aangebied word. Hierbenewens word studente ook bygestaan deur toegang tot geleenthede vir byvoorbeeld skaduwerk en internskappe.

Beide Meyer en Burger is dit eens dat ʼn student se professionele netwerk sy/haar netto waarde tot ʼn groot mate bepaal en verduidelik dat hierdie netwerke nie net waardevolle ondersteuning bied nie, maar ook as klankbord dien oor alle aspekte van welke beroepsveld. “As mentors, meesters en potensiële werkgewers speel hierdie individue ʼn deurslaggewende rol in enige student se loopbaanreis, en daarom is dit belangrik dat studente sal erns maak met hierdie skakelingsproses,” verduidelik Meyer.

Die Loopbaankantoor se nuwe dienste is op ʼn swierige wyse op 10 Julie bekend gestel, en die geleentheid het die grondslag gelê vir ʼn bedrywige maand. Die hoogtepunt was die jaarlikse loopbaanskou wat vanjaar alle verwagtinge oortref het en in samewerking met Solidariteit se Jongwerkende aangebied is. In die aanloop tot die loopbaanskou is verskeie interaktiewe werkwinkels aangebied waaronder CV-opleiding, onderhoudopleiding, werksoekstrategieë en beroepsnetwerkgesprekke.

Die Centurion-kampusse was vanaf 15 tot 19 Julie behoorlik ʼn miernes van aktiwiteite toe Fonties die geleentheid gehad het om in fakulteitsverband skouers te skuur met voornemende werkgewers en meer te leer oor die onderskeie loopbaanvelde. Op ʼn soortgelyke wyse het die Bloemfontein-sentrum ook sy deure op 20 Julie vir voornemende werkgewers oopgemaak. Derhalwe die stalletjies wat besigtig kon word, het verskeie beroepslui aan gespreksessies deelgeneem. Temas wat bespreek was sluit in die belangrikheid van ʼn loopbaanskou, die oorgang vanaf studentwees na beroepsmeester, beroepsmoontlikhede in die kommunikasie- en mediabedryf, geleenthede in projekbestuur, entrepreneurskap as ʼn loopbaankeuse, prokureurspraktyk, advokatuur, kommersiële regspraktyk, alternatiewe geskilbeslegting en akkreditasie in die finansiëledienstesektor.

Fonties kon dié geleentheid gebruik om vir internskappe en klerkskappe aansoek te doen. Een só ʼn student was Blake Harding, ʼn BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-finalejaarstudent, wat suksesvol vir ʼn klerkskap by die South African Institute of Taxation (SAIT) aansoek gedoen het.

Die Loopbaankantoor is op die Gerhardstraat-kampus geleë. Kontak loopbaan@akademia.ac.za vir enige navrae.

Akademia se Loopbaankantoor se nuwe dienste, in samewerking met Solidariteit se Studente-aanbod, is onlangs op ʼn luisterryke wyse aan studente en personeel bekendgestel. Dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake, Megan Meyer, organiseerder van die Loopbaankantoor, en Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, het die geleentheid bygewoon.
Fonties kon tydens die Loopbaanskou nie net van nader kennis maak met potensiële werkgewers nie, maar kon ook eerstehands uitvind wat die verwagtinge is wat deur die beroepswêreld gestel word.
Verskeie werkgewers en professionele beroepsliggame het aan die jaarlikse Loopbaanskou deelgeneem. Sommige Fonties kon dié geleentheid gebruik om vir internskappe en klerkskappe aansoek te doen.