Gepubliseer op: 31 Oktober 2024
Dr. Annelise de Vries, tans ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde en vakhoof: Tale en koördineerder: Taalsentrum by Akademia, sal met die ingang van 1 November 2024 die nuwe rol van hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) beklee. Dit volg nadat die nuus gedurende Augustus aangekondig is dat sy die jongste akademikus óóit is wat al in dié pos aangestel is.
De Vries meen dat daar verskeie raakvlakke tussen Akademia en die SAAWK is, veral omdat beide hierdie instellings dit ten doel het om Afrikaans toekomsgedrewe te bevorder. Hierdie uitbouing vind plaas in die wetenskap, tegnologie, literatuur en die kunste. “Hoewel die fokus onderskeidelik mag verskil, bly die strewe na uitmuntende wetenskapsbeoefening in Afrikaans, en alles wat daarmee saamgaan, dieselfde,” se De Vries.
De Vries se loopbaanreis by Akademia het op 1 Desember 2020 begin. As sy aan dié lewensfase van haar dink, sê sy dat sy altyd met groot waardering, verwondering en ʼn gevoel van opgewondenheid gevul word. Dit is veral die gevoel van gemeenskap waarbinne gevestigde en opkomende akademici sowel as ondersteuningspersoneel saam kan dink, droom én doen wat haar hart warm laat klop.
“Akademia is ʼn ongelooflike instelling, en omdat hy nog jonk is en snel groei, word personeel roepingsgedrewe gevorm deur voortdurend nuwe en verskillende vaardighede te ontwikkel,” sê De Vries. Gedagtig hieraan vertel sy dat sy onder meer die geleentheid gebied is om vroeg in haar loopbaan haarself reeds te besig met studiemateriaal- en programontwikkeling en dat sy kon deel wees van verskeie geskiedkundige eerstes. “Seker een van die belangrikste lesse wat ek in dié tyd geleer het, is dat sukses die eindproduk van gróót drome, passie en harde werk is. Die lekkerste van alles is die feit dat ek hierdie drome en passie oor Afrikaans op verskeie vlakke kon uitvoer!” sê De Vries.
Volgens De Vries sal sy altyd gróót drome vir Akademia koester. Wat taalonderrig binne die Fakulteit Opvoedkunde betref, spreek sy die wens uit dat elke opvoedkundestudent, ongeag of hul spesialiteitsveld taalonderrig is of nie, sal besef dat élke onderwyser in wese ʼn taalonderwyser is. Ter illustrasie hiervan haal sy Margo Gottlief, ʼn meertaligheidspesialis, aan: “Don’t forget that school is a unique place where every teacher is a language teacher, and every student is a language learner”.
Met betrekking tot taalonderrig in die Fakulteit Geesteswetenskappe hoop De Vries dat die BA (Taalstudies)-program van krag tot krag sal gaan. “Ek hoop dat die program vlerke sal kry en studente opgelei sal word wat onverskrokke die waarde van kennis en kundigheid oor taal die wêreld sal instuur,” sê De Vries. As dit kom by Akademia se Taalsentrum, wat binne dié fakulteit gesetel is, is De Vries opgewonde oor die vooruitsig daarvan dat studente toegerus sal word met kennis en kundigheid. Laasgenoemde sal daartoe bydra om Afrikaans as akademiese, algemene en vreemde taal met selfvertroue te vestig.
Haar boodskap aan Akademia-personeel en -studente is dat hulle die waarde wat in hul moedertaal opgesluit lê sal besef én koester. Dit is immers hierdie besef wat moedertaalsprekers motiveer om aktief betrokke te raak en só die taal se vitaliteit te help verseker. “Mag die Akademia-gemeenskap vryheid in die wetenskap- en kulturele beoefening van Afrikaans ervaar en op hierdie wyse ander taalgemeenskappe inspireer om planne in plek te stel om dieselfde vryheid te kan beleef,” sê De Vries.
Sy sluit af deur te sê dat sy graag sal wil sien dat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe aanhou om kreatiewe oplossings te vind om die betekenisvolle voortbestaan van Afrikaans in alle lewensruimtes te verseker. “In hierdie lig beskou ek Akademia en die SAAWK as deel van hierdie voorloper- oplossingsgedrewe taalkampioene,” sê De Vries.
Akademia wens De Vries alle sterkte toe met haar nuwe rol en volg haar loopbaanreis én haar voortgesette impak op die uitbouing van Afrikaans met afwagting.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.