Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia en Maroela Media begin nuwe skryfskool

Gepubliseer op: 9 Maart 2021

Akademia, in samewerking met Maroela Media, het ʼn splinternuwe inisiatief genaamd Skryfnet bekendgestel. Skryfnet is ʼn skryfskool waar voornemende skrywers, professionele persone en skoolleerders toegerus word om hul skryfvaardighede op te skerp. Dit is vir Akademia belangrik om mense toe te rus met Afrikaanse skryfvaardighede – ongeag die genre of die platform – sodat Afrikaans as taal bevorder word.

Volgens dr. Alé Steyn, Departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, hoop Skryfnet om iets vir elkeen te bied en word daar hard gewerk dat dat die kursusse nie net van die beste gehalte is nie, maar dat dit ook nuttig en prakties is. “Ons wil hê elkeen moet wegstap met nuwe insigte en vaardighede – en natuurlik is dit belangrik dat deelnemers ons kursusse moet geniet.”

Die eerste kursus wat deur Skryfnet aangebied word, is ʼn aanlyn kursus van agt weke in kreatiewe skryfkuns. Dit is ontwikkel deur die bekroonde skrywer prof. Hans du Plessis en bestaan uit video’s, leermateriaal, oefeninge en ander aanvullende hulpbronne. Deelnemers kry elke week toegang tot die nuwe week se inhoud en hulle kan op hul eie tyd daardeur werk.

Deelnemers wat hierdie kursus wil voltooi moet aan Skryfnet ʼn eerste konsepweergawe van ʼn kortverhaal stuur wanneer hulle registreer. Daar word dan gewerk om die kortverhaal te verfyn en af te rond, sodat dit gereed is vir publikasie. Kursusgangers wat die program suksesvol voltooi ontvang ook ʼn Akademia-sertifikaat.

Daar word ook vir ʼn volgende geleentheid beplan aan ʼn werkswinkel op Akademia se Centurion-kampus, waar hoërskoolleerders sal leer om toesprake te skryf. ʼn Aanlyn werkswinkel in die skryf van mediaverklarings vir professionele mense is ook in die pyplyn. Albei hierdie kursusse sal vanaf April beskikbaar wees. Daar word verder beoog om in Mei ʼn kreatiewe skryfwerkswinkel vir laerskoolleerders aan te bied.

Dr. Steyn noem dat Skryfnet se kursusse verrykend sal wees vir diegene wat in kreatiewe skryfwerk belangstel, maar dat dit ook die minder kreatiewes onder ons toerus met basiese vaardighede om sinvol, duidelik en suksesvol te kommunikeer. Sy sê dat Skryfnet belangstellendes die geleentheid sal gee om kursusse te voltooi wat nie noodwendig aan hulle graadkwalifikasies gekoppel is nie. “Nie een van ons kan uiteindelik sonder skryfvaardighede die werksplek betree nie – of jy nou ʼn ingenieur of ʼn entrepreneur word. Skryf is nie net ʼn kreatiewe proses nie; dis ʼn tegniese vaardigheid wat enigeen kan aanleer.”

Waarvoor wag jy? Dit is nou jou kans om jou skryfvaardighede verder te slyp! Registrasie vir die eerste kursus sluit reeds op 29 Maart 2021 en koste beloop R2 800 (of R2 400 vir diegene wat voor 15 Maart registreer). Registreer hier.

Besoek www.skryfnet.co.za vir meer inligting oor die eerste kursus of stuur ʼn navraag na navrae@skryfnet.co.za. Volg ook Skryfnet se Facebook-blad om op hoogte van Skryfnet-nuus te bly.

Skryfnet se eerste aanlyn kursus – Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns – begin in April 2021.