Akademia-dosent vuur en vlam vir nuwe rol as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad
Gepubliseer op: 5 Oktober 2022
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het onlangs die nuus bekendgemaak dat dr. Annelise de Vries aangewys is as die voorsitter van die direksie van die ATR. De Vries is die jongste voorsitter nóg in die geskiedenis van die ATR en is ook ʼn voltydse dosent in opvoedkunde by Akademia.
De Vries is verkies tydens die ATR se algemene jaarvergadering waar verteenwoordigers van die dertig taalorganisasies wat onder die ATR val, sowel as individuele lede ʼn kans gehad het om vir die voorsitter- en ondervoorsitterposisies te kon stem.
As voorsitter van die direksie werk sy en haar mededireksielede op ʼn meer strategiese wyse aan die doelwitte van die ATR en maak hulle seker dat hierdie doelwitte verwesenlik word. “Om by die ATR betrokke te wees beteken dat jy baie betrokke is by die Afrikaanse taalgemeenskap in sy vele vorme, op voetsoolvlak. Jy leer wat die taalgemeenskap se bekommernisse is oor Afrikaans, waaroor hulle passievol is en wat hulle opgewonde oor Afrikaans maak.”
Die beste deel van Afrikaans, vir De Vries, is die feit dat mens elke aspek van jou menswees in hierdie taal kan uitdruk. Volgens De Vries is die deurlopende en aktiewe uitbou van ʼn taal deur taalgemeenskappe en -instellings baie belangrik vir die behoud van Afrikaans. “Teen hierdie agtergrond lyk die toekoms van Afrikaans myns insiens blink. Daar is baie organisasies in die Afrikaanse taalgemeenskap wat hard werk om Afrikaanse leefruimtes te skep,” vertel sy.
Sy noem byvoorbeeld dat Akademia as Afrikaanse instelling ʼn enorme rol speel om Afrikaans te bevorder. “Akademia bied ʼn platform vir die uitbou en beoefening van Afrikaans as wetenskapstaal, maar ook as kulturele taal. Dit het ʼn positiewe effek op die gebruik van Afrikaans op basiese onderrigvlak sowel as die gebruik van Afrikaans op ʼn ekonomiese vlak.”
Akademia bring ook hoop vir ander taalgemeenskappe om instellings vanuit hul eie taalgemeenskap op te rig. “Die feit dat Akademia bewys het dat ons bestaansreg het, maak dit net soveel makliker vir ander taalgemeenskappe om moedertaalonderrig te beoefen.”
De Vries het reeds op ʼn jong ouderdom besef dat ʼn deel van haar identiteit in haar taal gesetel is en het van vroeg af ʼn liefde vir Afrikaans ontwikkel. “Ek is van ʼn jong ouderdom af deur ongelooflike mense op ʼn persoonlike en akademiese vlak geïnspireer en dit is ervarings van hierdie mense wat my gevorm het.”
Sy noem ook dat sy in die bevoorregte posisie was om op ʼn jong ouderdom haar roeping te kon vind, en om aan die ander kant die geleentheid te hê om haar roeping op ʼn daaglikse basis uit te leef. “Ek balanseer dus nie dosentwees, gemeenskapbetrokkenheid en my eie persoonlike lewe nie – alles is eintlik vervleg.”
Sy besef dat sy nog baie het om te leer maar sien uit daarna om haar posisie met omsigtigheid te hanteer en altyd die strewe van die ATR in die oog te hou. “Tydens die aankondiging van my voorsitterskap was daar so baie mense wat hulle hulp, raad en leiding aangebied het. Dit wys dat ons regtig ʼn taalgemeenskap is.”
De Vries vertel dat dit vir haar ʼn groot voorreg is om as voorsitter van die ATR vir 2022/2023 te dien. “Dit is vir my ʼn riem onder die hart dat daar geoordeel is dat ek die direksie van die ATR kan lei, maar ek besef dat dit ʼn enorme verantwoordelikheid is en dis iets wat ek biddend en in oorleg met my kollegas (op die Taalraad en mentors in my persoonlike en professionele lewe) sal aanpak.”
De Vries noem dat daar ʼn baie positiewe gees te bespeur is by die Afrikaanse taalgemeenskap in die geheel en dat mense en organisasies wat voorheen weens moontlike politieke redes nou besig is om hande te vat om Afrikaans te ontwikkel. Dit is dus haar visie vir die ATR dat hierdie werk om Afrikaans te laat groei voortgesit word.