Akademia-alumnus ʼn ware pionier as alma mater se eerste toegelate regspraktisyn

Gepubliseer op: 4 Februarie 2025

Rico Hammann (24) is nie nét ʼn trotse Akademia-alumnus nie. Hy is óók, gedagtig aan sy alma mater se verbondenheid tot pionierskap, ʼn voorloper én geskiedenismaker wat die instelling se Fakulteit Regsgeleerdheid betref. Hammann is die eerste afgestudeerde LLB-alumnus wat tot die Prokureursorde toegelaat is as praktiserende prokureur. Dié eer het hom op 21 Januarie vanjaar te beurt geval.

Vir dié Pretorianer, wat in Garsfontein gebore en getoë is, en tans in diens is van die regsfirma Shapiro & Haasbroek, was Akademia sedert 2019 ʼn studietuiste sonder weerga. Hy het eers die BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie verwerf, waarna hy ook die LLB-program suksesvol afgelê het. Hammann het regdeur sy studie van die instelling se nauurse afstandsmodel gebruik gemaak, en het via die e-leeropsie studeer. “Omdat ek ten tye van my studie voltyds in die werksplek gestaan het, was die keuse van nauurse afstandstudie maklik om te maak,” sê Hammann. Hy meen voorts dat hy danksy hierdie onderrigleermodel waardevolle praktykservaring kon opdoen terwyl hy terselfdertyd homself met die akademiese inhoud kon besig. Nóg ʼn bykomende voordeel was dat hy gedurende hierdie tyd die fyn balans tussen werksverpligtinge en persoonlike ontwikkeling kon baasraak – ʼn vaardigheid wat hom vandag in sy baie uitdagende beroepslewe handig te pas kom.

Volgens Hammann het hy oor die bestek van sy studie aan Akademia tot die besef gekom dat kennis op verskeie maniere oorgedra word. In die eerste plek het sy dosente, deur hul kennis en ervaring, die grondslag gelê, sy eie voorbereiding vir eksamens en assesserings het verder tot sy akademiese mondering bygedra én uiteindelik het gesprekke en interaksie met sy medestudente tot verdere kennisvaslegging gelei. Hammann meen hierdie ryke veelheid is een van die redes waarom Akademia ʼn studietuiste by uitstek is. “As Fontie geniet jy soveel geleenthede om jou volle potensiaal te help ontwikkel, en méér nóg, jy geniet die ondersteuning van meesterkundiges wat sonder aarsel hul praktiese ervaring en ongelooflike kennis met jou wil deel,” verduidelik Hammann. Een van hierdie kundiges is, volgens Hammann, prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid. Coetzee het Hammann se passie vir familiereg aangewakker.

“As jy ʼn beroep in die regte kies, beteken dit dat jy jouself beskikbaar stel tot diens van jou gemeenskap,” sê Hammann. In die lig hiervan is hy opgewonde oor die vooruitsig om homself daagliks te mag besig met aangeleenthede wat individue, gesinne én kwesbare gemeenskappe van hulp kan wees. Die feit dat hy diégene in hul moedertaal, Afrikaans, kan bystaan dra by tot ʼn gevoel van gemaklikheid en veiligheid, wat nodig is om gerusstelling te bewerk.

Op die vraag hoe dit voel om Akademia se eerste LLB-alumnus te wees wat tot die Prokureursorde toegelaat is, antwoord Hammann beskeie dat dit ʼn onbeskryflike voorreg is. Hy meen egter dat dié hoogtepunt nie moontlik sou wees sonder sy alma mater se bekwame dosente nie. Hy betuig ook sy dank teenoor Leon Haasbroek, sy huidige werkgewer, vir sy professionele leiding.

Hammann sluit af deur sy hartswens vir sy alma mater te deel. “Dit is my droom dat Akademia steeds verder sal groei, en dat die instelling sy plek as een van die land se vooraanstaande hoëronderwysinstellings sal inneem. Ek is opgewonde oor die toekoms, en die rol wat Akademia, sy personeel, studente en alumni daarin gaan speel!”

Is jy, soos Hammann, ʼn trotse Akademia-alumnus? Indien wel, word deel van jou alma mater se dinamiese alumni-netwerk deur jou kontakbesonderhede by te werk, jou suksesverhaal met mede-Fonties te deel én aktief by die instelling betrokke te raak. Besoek die Akademia-webwerf vir meer inligting.

Akademia-alumnus, Rico Hammann, is op 21 Januarie 2025 tot die Prokureursorde toegelaat as ʼn praktiserende regspraktisyn. Teenwoordig tydens dié loopbaanhoogtepunt was, van links advokaat Jana Schoeman, Hammann en Leon Haasbroek.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.