Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-alumni – ʼn pêrel in hul alma mater se kroon

Gepubliseer op: 3 Julie 2024

Om ʼn kwalifikasie by Akademia te verwerf verteenwoordig ʼn besonderse hoogtepunt in enige Fontie se lewensreis. Die oomblik wanneer jy trots oor die verhoog stap ná die suksesvolle voltooiing van ʼn kwalifikasie, vorm jy deel van dié instelling se uitgebreide en dinamiese alumnigemeenskap en verdiep jou verbondenheid opnuut tot jou alma mater.

Akademia, wat vanjaar sy twaalfde jaar as Afrikaanse studietuiste vier, het tydens die mees onlangse kwalifikasieplegtigheid 464 nuwe alumni verwelkom en só die noemenswaardige 2 000 ledetal verbygesteek.

Die Institusionele projekte en ondernemings-span by Akademia is getaak met alumniverhoudinge en streef daarna om te verseker dat oud-Fonties in verbinding bly, lank ná die vreugdesvure van afstudeer uitgedoof is. Volgens Mareli Swanepoel, die bestuurder van dié afdeling, verteenwoordig die instelling se alumni-netwerk ʼn pêrel in die instelling se kroon. “Ons afgestudeerde Fonties beliggaam die Akademia-waardes van rentmeesterskap, verbondenheid en pionierskap en help om só te verseker dat die instelling vir geslagte vorentoe steeds sy plek met inbors kan volstaan,” verduidelik Swanepoel.

Wat die groei in die instelling se alumnigetalle betref, meen Swanepoel dat die tyd nou ryp is om ʼn noemenswaardige alumnivereniging op die been te bring. ʼn Opwindende aankondiging in dié verband sal vroeg in Augustus gemaak word en alumni word aangemoedig om Akademia se sosialemediaplatforms dop te hou vir meer inligting. “Ons is verheug oor die feit dat die instelling reeds meer as 2 000 kwalifikasies kon toeken, en sien dit as ʼn daadwerklike aanduiding van die groot behoefte wat bestaan vir studie in Afrikaans,” sê Swanepoel. Sy voeg by dat die aanpasbaarheid van die instelling se nauurse afstandsmodel ʼn groot rol speel in die oorweging van ʼn studietuiste.

Akademia se 2024- gebeurlikheidskalender is deurspek met geleenthede waarby alumni betrokke kan raak en kan baat. “Ons sien daarna uit om vanjaar met ons oud-Fonties te skakel en hierdie wedersydse verhoudinge te versterk sodat die instelling, as ʼn moderne en toekomsgerigte hoëronderwysinstelling, kan voortgaan om ʼn akademiese tuiste vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bied waar denke én hart gevorm word,” sê Swanepoel.

Alumni-lede kan gerus die volgende gebeurlikhede aanteken:

  • Die Vlymskerpbesigheid in ʼn japtrap: Werkswinkels en netwerkgeleentheid vind in Juliemaand by Akademia-sentrums dwarsoor die land plaas. Hierdie geleentheid bied ʼn unieke platform vir individue wat daarin belangstel om hul sakevaardighede op te skerp, insluitend diegene wat ʼn onderneming wil begin, reeds ʼn onderneming besig, óf belangstel in die velde van finansies, bemarking en innoverende ondernemings. Koop jou kaartjie hier.
  • ʼn Alumni-ontbyt word vir 2 Augustus beplan en Akademia sien daarna uit om ongeveer 100 oud-Fonties by dié geleentheid op die Leriba-kampus in Centurion te verwelkom. Die geleentheid begin om 09:00 en belangstellendes kan hul plek hier Daar is geen kostes verbonde aan bywoning nie, en alumni word uitgenooi om hul tydsgenote aan te moedig om dié kuiergeleentheid by te woon.

Gedagtig aan Akademia se jaartema van verbondenheid verduidelik Swanepoel dat die verhouding tussen die instelling en sy gewaardeerde alumni nie net gekoester moet word nie, maar ook voortdurend verder uitgebou moet word. “Alumni, as ʼn dinamiese deel van die groter Akademia-gemeenskap, vervul verskeie sleutelrolle waaronder dié van institusionele ambassadeurs en steunpilare vir mede-Fonties,” sê sy. Laasgenoemde verwys na die daarstelling van werksgeleenthede, mentorskap, besigheidsleiding, indiensopleiding en vriendskap. Nóg ʼn aspek wat in dié verhouding belangrik is, is die geleentheid wat Akademia aan sy afgestudeerde studente bied om lewenslange leerders te word en voortdurend hul vaardighede en kennis op te skerp deur onder meer kortkursusse en die verwerwing van verdere nagraadse kwalifikasies.

Swanepoel verduidelik dat alumni op verskeie maniere by hul alma mater betrokke kan raak deur onder meer spesiale geleenthede by te woon, aktief deel te neem aan die uitbouing van die Akademia-gemeenskap, die instelling as ʼn voorkeuronderrigplatform vir verdere studie te oorweeg, én om in verbinding te bly. Laasgenoemde verwys nie net na die gereelde bywerking van alumni se kontakbesonderhede nie, maar om ook individuele suksesstories te deel en om ingeteken te wees op die alumni-nuusbrief.

“Dit is die instelling se droom dat sy afgestudeerde studente in die werkswêreld sal floreer en aktief betrokke sal wees in die bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe,” sluit Swanepoel af.

Indien jy met die Alumni-kantoor in verbinding wil tree, stuur ʼn e-pos na alumni@akademia.ac.za.

Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, nooi Akademia-alumni uit om opnuut hul verbondenheid tot hul alma mater te vier deur aktief betrokke te raak op welke wyse ook al.