Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaans nou in die hande van die gemeenskap

Gepubliseer op: 23 Junie 2016

“Die afskaling en afskaffing van Afrikaans by staatsuniversiteite beteken dat Afrikaans nou terug is in die hande van die gemeenskap. Afrikaanse hoër onderwys het daarom ‘n blink toekoms,” sê Piet le Roux, Akademia se akademiese hoof.

Le Roux se standpunt kom te midde van besluite deur verskeie histories Afrikaanse universiteitsrade landswyd dat Afrikaans daar wesenlik verskraal of effektief afgeskaf word.

“Hierdie universiteite het histories gestaan vir die idee van ‘n Afrikaanse universiteitswese, ‘n idee wat hulle nou klaarblyklik die rug keer. Tog was dié universiteite altyd net die beliggaming van die idee en nie die idee self nie. Wat met Afrikaans by staatsuniversiteite gebeur is daarom nie bepalend nie. Die toekoms lê in private gemeenskapsuniversiteite,” sê Le Roux.

Le Roux sê die huidige Afrikaanse universiteitswese is die produk van private gemeenskapsinisiatief 100 tot 150 jaar gelede. “Niks verhoed ons om weer uiters suksesvolle Afrikaanse universiteite op te rig nie. By Akademia aanvaar ons hierdie uitdaging met die steun van ons gemeenskap. Ons verwelkom bydraes; en ons sal op ons beurt ook hulp verleen aan ander inisiatiewe met dieselfde oogmerk,” sê Le Roux.

Oor Akademia

Akademia is vanjaar in sy vyfde akademiese jaar en bied verskeie volledig-geakkrediteerde kwalifikasies. Groot uitbreidings geskied reeds by dié Afrikaanse hoëronderwysinstelling. “Ons rig ons op ‘n omvattende verskeidenheid akademiese kwalifikasies en om so spoedig moontlik ‘n residensiële kampus te hê om ons huidige hoëtegnologie-onderrigmodel aan te vul,” sê Le Roux.

Vir 2017 aanvaar Akademia naas ‘n Gevorderde Diploma in Projekbestuur en verskeie hoërsertifikaatkwalifikasies tans reeds inskrywings vir die volgende:

  • BCom (Ondernemingsbestuur);
  • BCom (Bestuursrekeningkunde);
  • BCom (Ekonomie en Regte); en
  • BCom (Finansiële Beplanning).

 

Ontwikkeling geskied tans om onder meer die volgende kwalifikasies toe te voeg:

  • 2017: BCom-graad in Rekeningkunde; en ‘n B-graad in Verpleging;
  • 2018: BA-grade in Taal en Literatuur; en in Politiek, Ekonomie en Filosofie (PPE);
  • 2019: BSc-grade in rekenaar- en wiskundige wetenskappe; en
  • 2020: Nagraadse programme in Regte en in Ekonomie.

 

Akademia brei tans sy landswye voetspoor van studiesentrums uit en is in gevorderde stadium van vestiging in onder meer Bloemfontein, George en die Paarl, naas verskeie bestaande sentrums in Gauteng en die Wes-Kaap.