Search
Close this search box.

Skakel in en leer meer oor Akademia se Gevorderde Diploma in Projekbestuur

Gepubliseer op: 28 Oktober 2024

Is jy passievol oor projekbestuur en wil jy jouself graag in die werksplek onderskei? Indien jy reeds oor ʼn driejaarkwalifikasie op NKR-vlak 6 beskik, is Akademia se Gevorderde Diploma in Projekbestuur nommerpas vir jou. Meer nóg, dié program word via die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied wat beteken dat jy bloot by een van die landswye sentrums of via ʼn e-leeropsie vanaf enige plek ter wêreld kan studeer. Hierdie opsie maak dit voorts vir jou moontlik om voltyds te werk of ander belangstellings na te streef.

Indien jy daarin belangstel om in 2025 by Akademia aan te sluit vir dié program, skakel in vir ʼn aanlyn inligtingsessie op Donderdag 21 November 2024 om 18:00. Tydens hierdie interaktiewe geleentheid sal jy nie net meer oor die Gevorderde Diploma in Projekbestuur leer nie, maar jy sal ook eerstehands kennis maak met dosente, bemarkingsadviseurs én studente wat tans hulself met dié program besig.

Die Gevorderde Diploma in Projekbestuur het dit ten doel om studente toe te rus om die beginsels van projekbestuur te verstaan en om hierdie beginsels met selfvertroue in die praktyk toe te pas sodat projekte suksesvol ontwikkel en bestuur kan word. Hierdie effektiewe ontwikkeling- en bestuursproses sluit kennis en vaardighede in met betrekking tot projekbestuur, tydsbeplanning, kostebestuur, projekkwaliteit asook risikobestuur.

Die program vir die inligtingsessie sal op die volgende aspekte fokus:

  • ʼn Oorsig oor Akademia as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling
  • Die omvang van die Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Toelatingsvereistes, klasbywoning en die aansoekproses
  • ʼn Vraag-en-antwoordsessie

Volgens Jeanmarie van Niekerk, leier: Bemarkingsadviseurs by Akademia, bied geleenthede soos hierdie inligtingsessie aan voornemende studente ʼn kans om hulself toe te rus met die nodige inligting om ingeligte studiebesluite te neem. “As jy enige vrae het oor die instelling, of meer wil uitvind oor die loopbaanvooruitsigte wat met dié program gepaard gaan, sluit by ons aan vir dié sessie, want dit sal sonder twyfel waarde toevoeg,” sê Van Niekerk. Sy nooi belangstellendes uit om solank hier hul plek vir die sessie te bespreek.

Projekbestuur is ʼn dinamiese dissipline en jy kan jou in dié veld onderskei met die akademiese onderbou van Akademia se Gevorderde Diploma in Projekbestuur. ʼn Aanlyn inligtingsessie op 21 November 2024 sal meer lig op dié program werp.