*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 16 Oktober 2026
Wat bly oor wanneer ʼn mens eendag nie meer daar is nie? Dikwels is dit nie nét die dinge wat jy besit nie, maar óók die waardes waarin jy geglo het, die mense in wie se lewens jy belê het en die verskil wat jy gemaak het.
ʼn Testament* bied daarom méér as net ʼn plan vir die verdeling van ʼn boedel. Dit bied ook die geleentheid om doelgerig aan jou nalatenskap vorm te gee – en om só iets van dit wat vir jou betekenisvol is aan ʼn volgende geslag oor te dra.
Vir mense wat glo in die krag van opleiding en die vormende waarde van hoër onderwys, kan ʼn bemaking aan die Akademia-skenkingsfonds ʼn betekenisvolle manier wees om dié nalatenskap voort te sit. By dié skenkingsfonds word jou bemaking gebruik om ʼn verskil in Akademia en sy studente se storie te maak. Die fonds dra onder andere by tot die bou van Akademia se fasiliteite, wat ʼn wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria insluit, maar dra ook verder by tot verskeie ander groeigeleenthede vir Akademia wat insluit studieondersteuning aan studente en die uitbou van fakulteite. Só ʼn bemaking kan nie nét ʼn toekomstige student se lewe help verander nie, maar kan ook binne die bestaande boedelbelastingsraamwerk ʼn finansiële voordeel inhou.
ʼn Aftrekking wat waarde toevoeg
Die Akademia-skenkingsfonds is binne die Kampus Trust gevestig, wat ʼn SARS-goedgekeurde openbare weldaadsorganisasie (OWO) is. ʼn Bemaking aan dié trust, handeldrywend as die Akademia-skenkingsfonds, kan ingevolge Artikel 4(h) van die Boedelbelastingwet as ʼn aftrekking by die bepaling van die belasbare waarde van ʼn boedel kwalifiseer.
Volgens Zander Botha, bestuurder: Akademia-skenkingsfonds, is dit belangrik om te verstaan dat ʼn kwalifiserende OWO-bemaking nié deel van die algemene R3,5 miljoen-aftrekking vorm nie. Dié aftrekking staan wetlik bekend as die Artikel 4A-korting ingevolge die Suid-Afrikaanse Boedelbelastingwet.
“Die OWO-bemaking word eers as ʼn kwalifiserende aftrekking van die betrokke boedel hanteer, waarna die algemene R3,5 miljoen-aftrekking toegepas word,” verduidelik hy. Hierdie beginsel kan eenvoudig aan die hand van ʼn voorbeeld geïllustreer word:
Indien ʼn boedel R10 miljoen beloop en R2 miljoen daarvan aan die Akademia-skenkingsfonds bemaak word, kan die berekening soos volg benader word:
Totale boedel (R10 miljoen) – OWO-bemaking (R2 miljoen) – Algehele aftrekking (R3,5 miljoen) = Bedrag waarop boedelbelasting bereken word (R4,5 miljoen).
Die R2 miljoen-bemaking aan die OWO beïnvloed dus nie die algemene R3,5 miljoen-aftrekking nie, maar word as ʼn afsonderlike aftrekking hanteer, onderhewig aan die toepaslike wetlike vereistes.
Die twee kante van die muntstuk
Die belastingvoordeel verteenwoordig egter net een kant van die spreekwoordelike muntstuk.
ʼn Bemaking aan die Akademia-skenkingsfonds kan voorts ʼn doelgerigte manier wees om in toekomstige geslagte te belê. Dit kan geleenthede vir studente moontlik maak en bydra tot die ontwikkeling van jong mense wat hul kennis en vaardighede weer in die breër samelewing kan aanwend.
Met dié generasionele potensiaal in gedagte, word ʼn testament ʼn uitdrukking van wat vir ʼn mens belangrik is en van die soort toekoms waaraan jy graag sal wil help bou.
“ʼn Nalatenskap gaan uiteindelik oor meer as net rand en sent. Dit gaan oor die vraag: Wat wil ek tot die toekoms bydra?” sê Botha. Volgens hom lê die antwoord vir sommige mense opgesluit in ʼn huis, ʼn onderneming of finansiële sekuriteit. Vir ander kan dit belangrik wees om ʼn deel van hul nalatenskap aan kennisontdekking, nuwe geleenthede en volgehoue hoop vir toekomstige geslagte te wy.
“ʼn Bemaking aan die Akademia-skenkingsfonds bied aan jou die geleentheid om ewigheidswaarde aan jou nalatenskap te gee deur ʼn gedeelte van dit wat jy gedurende jou leeftyd opgebou het, te laat voortleef in die ontwikkeling van ander,” sê Botha.
Moenie wag vir eendag nie, bou vandag reeds saam
Die skenkingsfonds se OWO-status hou egter nie slegs voordele vir boedelbeplanning in nie. Mense wat reeds gedurende hul leeftyd wil skenk, kan onder bepaalde omstandighede ook belastingvoordele geniet.
Bona fide-skenkings kan ingevolge die toepaslike wetgewing van skenkingsbelasting vrygestel wees. Waar die instelling, soos Akademia, ook aan die vereistes vir artikel 18A-goedkeuring voldoen, kan ʼn skenker, onderhewig aan die voorgeskrewe vereistes en beperkings, moontlik ʼn inkomstebelastingaftrekking vir die skenking eis.
Dit beteken dat ʼn mens nie noodwendig vir ʼn testamentêre bemaking hoef te wag om ʼn verskil te maak nie. ʼn Skenking vandag kan reeds bydra tot die geleenthede van ʼn student wat môre ʼn betekenisvolle rol in die samelewing kan speel.
“ʼn Nalatenskap word nie net gemeet aan dit wat jy agterlaat nie, maar aan die toekoms wat jy help moontlik maak,” som Botha op. Persone wat graag tot die skenkingsfonds wil bydra, op welke wyse ook al, kan gerus die Akademia-webblad besoek.
*Let wel: Boedel- en belastingbeplanning is persoonlik, en die toepaslike wetlike en belastingimplikasies kan volgens individuele omstandighede verskil. Voornemende testateurs en skenkers behoort professionele advies van ʼn gekwalifiseerde boedelbeplanner, belastingpraktisyn of finansiële adviseur in te win.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.