*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Alumni-komitee 2026-2028 skryf verder aan Akademia se verbondenheidsverhaal

Gepubliseer op:  9 Oktober 2026

Vir ʼn Fontie eindig sy of haar Akademia-verhaal nié wanneer die applous ná afloop van die kwalifikasieplegtigheid verdof nie. Inteendeel. Hierdie oomblik is juis die begin van ʼn nuwe hoofstuk. Een waarin die bande wat op kampus gesmee is, steeds verder kan groei en verdiep, want om ʼn Fontie te wees, gaan oor mense, herinneringe, gedeelde waardes en ʼn verbondenheid wat lank ná jou studiejare bly voortleef.

Akademia se dinamiese alumni-gemeenskap verteenwoordig ʼn groeiende netwerk van oudstudente wat hul stempel doelgerig in uiteenlopende beroepsrigtings, gemeenskappe en lewensfases afdruk. En hoewel hul studentedae dalk vir eers agter hulle lê, bly die verbondenheid met hul alma mater ʼn belangrike deel van die groter Akademia-verhaal.

Om hierdie gevoel van behoort verder te verdiep en alumni aktief by die instelling se voortgesette ontwikkeling te betrek, is ʼn nuwe alumni-komitee op 9 Oktober 2026 aangekondig.

Hierdie komitee, die tweede van sy soort, bestaan uit vier komiteelede wat hulself vir die volgende tweejaartermyn daarvoor gaan beywer om die instelling se alumni-hartklop gesond te hou deur nuwe geleenthede vir betrokkenheid, gesprek en gemeenskapsbou te skep. Die nuutverkose komitee bestaan uit:

  • Myrtle Endley: Voorsitter
  • Marisha Hermann: Kommunikasie
  • Ilze Gagiano: Projekte
  • Johannes van Jaarsveld: Studenteleierskap

Die reis van student na alumnus

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, verteenwoordig die nuwe komitee ʼn opwindende nuwe dinamika in die uitbouing van die instelling se alumni-verhoudinge. Sy is veral opgewonde oor die momentum wat deur die eerste alumni-komitee geskep is en waarop die nuwe komitee nou doelgerig kan voortbou.

“Die komiteelede se harte klop almal warm vir hulle alma mater, en dit is só lekker om eerstehands te ervaar met hoeveel ywer en entoesiasme hulle hierdie nuwe uitdaging aanpak,” sê Swanepoel. Die nuwe komitee is vir ʼn tweejaartermyn (2026-2028) aangestel en het onder meer die taak om die belewenisvlam onder oud-studente aan die brand te hou – en selfs nóg hoër te laat brand. Dié opdrag kry besonderse betekenis in die aanloop tot die ingebruikneming van Akademia se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria in 2028.

Volgens Swanepoel strek hierdie belewenis egter veel verder as bloot die nostalgiese herinneringe aan studentewees by Akademia. Dit omvat roepingsgedrewe vorming, die waardes wat alumni tydens hul studiejare meegeneem het, en die waarde wat hulle steeds aan hul Akademia-opleiding heg. Verskeie opwindende inisiatiewe en geleenthede word in die vooruitsig gestel om dié eiesoortige gevoel van verbondenheid en trots verder te versterk, te vier en uit te lééf.

Voorsitter neem passievol die voortou

As voorsitter beskou Myrtle Endley haar rol as een wat ruimte wil help skep vir alumni om ná hul studiejare steeds deel van hul alma mater se verhaal te wees.

Vir haar lê die krag van die alumni-gemeenskap daarin opgesluit dat dit geleenthede skep vir mense om met mekaar én met Akademia in verbinding te bly, nuwe netwerke te vorm, mekaar te ondersteun en sáám die vreugdes van hul alma mater te vier. Endley glo voorts dat die alumni-komitee ʼn belangrike rol het om dié gemeenskap verder te vestig en ʼn platform te skep vanwaar betekenisvolle verbondenheid kan voortspruit.

“Om deel van Akademia te wees, is om deel te wees van ʼn gemeenskap wat saam groei, vorm en nuwe paaie as pioniers oopkap,” sê Endley. Vir haar eindig die instelling se vormingsideaal nie met die verwerwing van ʼn kwalifikasie nie, maar vind dit juis ná die studiejare gestalte in die wyse waarop alumni leef, werk en dien.

Sy doen ʼn beroep op alumni om nie nét die bande met hul alma mater te behou nie, maar ook om aktief terug te ploeg – deur mekaar te versterk, huidige studente te ondersteun en saam te bou aan die gemeenskap waarvan hulle deel is.

Haar droom vir Akademia strek uiteindelik oor geslagte heen: Dat dit steeds ʼn plek sal wees waar die toekoms hoopvol vorm kry en waar dié vorming in diens van die ware, die goeie en die skone gestel word. As alumni, sê sy, het hulle die voorreg én verantwoordelikheid om goeie rentmeesters te wees van dit wat aan hulle toevertrou is, en om dit verder oor te dra aan die geslagte wat ná hulle kom.

Endley het in 2023 die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-kwalifikasie met lof verwerf en is tans ʼn finalejaarstudent in die BCom (Ekonomie en Regte)-program. Sy het ook vir twee termyne – 2022/2023 en 2023/2024 – as Akademia se studenteraadsvoorsitter gedien.

Myrtle Endley, is die voorsitter van die alumni-komitee vir die volgende twee jaar.

Meer oor die ander komiteelede

Marisha Hermann se betrokkenheid by die alumni-komitee spruit voort uit haar passie om voort te bou aan die toekoms van haar alma mater, wat sy eendag hoop om ook die studietuiste van haar eie kinders te wees.

Sy moedig mede-alumni aan om die waardes wat hulle by Akademia ontvang het, uit te leef en uit te dra – waardes wat volgens haar deelvorm van dit wat die instelling so uniek maak. Haar droom is dat Akademia nooit sal vergeet waar dit begin het nie en dat die instelling altyd die krag van gemeenskap sal onthou. “Mag elke baksteen wat deur die gemeenskap neergelê word, nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie,” sê sy en voeg by dat elke bydrae ʼn herinnering daaraan is dat Akademia se toekoms juis deur ʼn gemeenskap saam gebou word.

Hermann het beide haar voorgraadse sowel as nagraadse studie aan Akademia voltooi. Sy het die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program in 2023 voltooi, waarná sy ook die BAHons (Media en Kommunikasie)-kwalifikasie in 2025 verwerf het.

Marisha Hermann is, as lid van die alumni-komitee, verantwoordelik vir kommunikasie.

Op haar beurt meen Ilze Gagiano dat haar deelname aan die alumni-komitee haar die geleentheid bied om diensbaar vir haar alma mater te wees. 

Gagiano meen dat die instelling se jaartema, Boustene vir ons toekoms, sterk tot haar spreek en sy glo dat elke alumnus ʼn medebouer kan – en moet – wees. Óf dit nou by wyse van kennisoordrag, ervaring, ondersteuning, die uitbouing van netwerke óf bloot die bereidwilligheid is om aktief betrokke te bly.

 “Jou verhouding met jou alma mater verteenwoordig ʼn wedersydse simbiose, en elke daad van ondersteuning en betrokkenheid is ʼn bousteen wat jy, met jou oog op ʼn hoopvolle toekoms, neerlê,” sê Gagiano. Dit is voorts haar droom dat die instelling sal aanhou groei en dat sy sterk gemeenskapsgevoel verder sal gedy, veral wat die alumni-gemeenskap betref.

Gagiano het in 2025 die Gevorderde Diploma in Projekbestuur verwerf.

Ilze Gagiano sal haarself, as lid van die alumni-komitee, met projekte besig.

Die vierde lid van die komitee, Johannes van Jaarsveld, is ʼn bekende oudstudenteleier wat vir die 2024/2025-termyn as studenteraadsvoorsitter gedien het.

Gemeenskappe is volgens Van Jaarsveld die sleutel tot sukses en verteenwoordig as’t ware die vrugbare grond waarin studente – en ook alumni – se geloofsoortuigings en -dade tot vrug kom. Hy voeg by dat daar nie ʼn beter plek as juis Akademia is om alumni toe te rus om hul roeping uit te leef nie, veral wat leierskapsvaardighede betref. “Ek glo dat ʼn instelling net so sterk is soos die gemeenskap wat dit dra en gedagtig hieraan sal ek graag wil help om alumni – as ʼn onontginde bate – in hierdie gemeenskap te help ontwikkel,” sê Van Jaarsveld.

Volgens Van Jaarsveld is dit ook vir hom belangrik dat alumni die vrymoedigheid sal hê om die nuutverkose komitee met verwagting te kan nader. “Die komitee is ʼn spreekbuis vir alumni en het daarom alle oud-Fonties se beste belange op die hart. Ek nooi elke alumnus uit om gedurende dié nuwe ampstermyn hande te vat en só die alumni-ervaring na nóg hoër hoogtes te voer,” sê Van Jaarsveld.

“Betrokkenheid hoef nie iets groot te wees nie. ʼn Uur van jou tyd as mentor, ʼn gesprek met ʼn student oor jou beroep, ʼn bydrae – hoe klein ook al – of bloot om op hoogte te bly van verwikkelinge by jou alma mater, maak ʼn verskil. Ons het almal iets van Akademia ontvang en nou is dit ons beurt om terug te gee,” sluit Van Jaarsveld af.

Hy het in 2025 die BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie verwerf en is tans besig met verdere studie in Projekbestuur.

Oudstudenteraadsvoorsitter, Johannes van Jaarsveld, sal as deel van die alumni-komitee op studenteleierskap fokus.

Is jy ʼn Akademia-alumnus?

Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumni-webblad en word deel van jou alma mater se dinamiese alumni-gemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na alumni@akademia.ac.za.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.