*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Paarl-Fonties skitter op die verhoog tydens eerste Artium-geleentheid

Gepubliseer op:  14 Augustus 2026

Akademia se Paarl-kampus het op Vrydag 7 Augustus 2026 sy eerste Artium-geleentheid met groot welslae aangebied. Twee toneelopvoerings en ʼn sêroptrede is in die Toringkerk se saal opgevoer en het só die grondslag vir die kampus se kuns- en kultuurtradisie neergelê.

Artium, wat sy naam aan die Latynse woord artium, oftewel “van die kunste”, ontleen, is Akademia se jaarlikse kuns- en kultuurskouspel. Dié geleentheid bied aan Fonties* ʼn platform om hul talente te ontwikkel, saam te werk en hul liefde vir die kunste op die verhoog uit te leef.

Douard d’Assonville, bestuurder: Studentesake by die Paarl-kampus, meen dié aand het Fonties se talente ten toon gestel en daar word gevolglik met groot opgewondenheid uitgesien na toekomstige kuns- en kultuuraktiwiteite.

Die kunstekultuur gedy in die Paarl

Ná slegs ses maande as Akademia se eerste groep studente aan die instelling se Paarl-kampus, is dit duidelik dat die kampus se kultuurtradisies gedy, en die Artium-geleentheid word as ʼn hoogtepunt op die studentekalender beskou.

Die eerstejaarskonsert het reeds vroeg in die jaar aan studente die geleentheid gebied om hul verhoogtalente ten toon te stel, terwyl debatsgeleenthede deurlopend deel van die kultuurprogram vorm. Volgens Linda van der Walt, beampte: Kultuur by die Paarl-kampus, vra deelname aan toneel- en sêrgeleenthede veel meer as net talent. Deelnemende Fonties moet hul tyd doeltreffend bestuur en oefensessies te midde van hul klas- en assesseringsaktiwiteite inpas, tekste en musiekverwerkings bemeester sowel as terugvoer verwerk. Deur dié proses leer Fonties om gedissiplineerd te werk, verantwoordelikheid vir hul eie aandeel te aanvaar en saam met ander iets tot stand te bring wat niemand alleen sou kon vermag nie. Só word kuns- en kultuurdeelname deel van Akademia se vormingsideaal, waar studentwees oor die vorming van denke én hart handel.

“Die Paarl-Fonties hou aan om te beïndruk en te inspireer met die wyse waarop hulle hierdie projekte aanpak. Ek is veral trots op die enkele studente wat geen agtergrond in sang of toneelspel het nie, maar ʼn kans gewaag en hulself oortref het. Artium 2026 maak my opgewonde oor die toekoms van kuns en kultuur by Akademia waar samewerking en waagmoed seëvier,” sê Van der Walt.

Koshuise bou vanjaar saam

Artium dien tradisioneel as die kultuurgalageleentheid van die jaar, waartydens finaliste in die onderskeie afdelings optree en koshuise om die kultuurbeker meeding. Op die Paarl-kampus is die twee toneelgeselskappe en die sêrgroep vanjaar uit studente van al vier die koshuise saamgestel.

Die vooruitsig is dat elke koshuis en daghuis mettertyd sy eie toneelproduksie en sêrgroep op die been sal bring, en só ʼn eie kuns- en kultuuridentiteit nóg verder sal ontwikkel.

Agter elke optrede was ʼn span wat reeds lank voor die eerste applous aan die produksies gewerk het. Die damestoneelproduksie, Benoni Springs, is deur Van der Walt geskryf en geregisseer, en die manstoneelproduksie, Doodloop, is deur Emma van der Walt geskryf terwyl Duan Craffert die regie behartig het.

Die sêrgroep is deur Nadia Craffert en Elizma Stander afgerig, met MJ Nel wat vir die musiekverwerkings van geliefde Afrikaanse liedjies verantwoordelik was.

Ervare beoordelaarspaneel

ʼn Ervare groep kundiges het die moeilike taak gehad om die optredes te beoordeel. Die paneel is soos volg saamgestel:

Sêr

Emma van der Walt (klassiek opgeleide sangeres)
Elrise de Kock (sêr- en dansveteraan)

Toneel

Johann Smith (gesoute skrywer en regisseur)
Emma Wiehman (drama-opvoeder en regisseur)

Ná afloop van die optredes en die beoordelaars se insette, is die volgende toekennings aangekondig:

Sêrtoekennings

  • Mees toegewyde sêrster: Stiaan Coetzee
  • Uitblinker, manlike solis: Stiaan Coetzee
  • Uitblinker, vroulike solis: Tanya Pieterse
  • Beste verhoogpersoonlikheid: Xander Erasmus en Merwe Wessels
  • Sêruitskieter: Iwano Wagener

Toneeltoekennings

  • Algehele wenproduksie: Doodloop
  • Beste akteur: Karl-Heinz Göbel as Mikey Malherbe in Doodloop
  • Beste aktrise: Tanya Pieterse as Megan in Benoni Springs
  • Mees belowende spel: Stiaan Coetzee as Jakes in Doodloop
  • Beste ensemblespel: die geselskap van Doodloop
  • Beste hantering van tegniese aspekte: die geselskap van

    Doodloop

Spesiale beoordelaarstoekenning

Die beoordelaarspaneel het ook besluit om ʼn spesiale toekenning te skep vir twee studente wat aan beide die sêr- en toneelafdeling deelgeneem en in albei kategorieë uitgeblink het.

  • Veelsydigheidstoekenning: Tanya Pieterse en Stiaan Coetzee

Akademia bedank die beoordelaars, afrigters en elke Fontie wat tot die sukses van die eerste Paarl-Artium 2026 bygedra het.

Die damestoneelgeselskap tydens hul opvoering van Benoni Springs.
Die manstoneelgeselskap op die verhoog in die Toringkerk se saal tydens hul opvoering van Doodloop.
Die sêrgroep, bestaande uit Fonties van al vier die Paarl-kampus se koshuise.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.