*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 3 Augustus 2026
In ʼn wêreld waar ekonomiese besluite – van rentekoerse en inflasie tot werkloosheid en toekomstige groei – die daaglikse bestaan van elke Suid-Afrikaner raak, word die vraag na goed opgeleide ekonome en ekonomiese ontleders al hoe groter. Verder is daar ʼn behoefte om ʼn toekoms in staat te stel waar ekonomiese kompleksiteit in verantwoordbare besluitneming en bestuur omskep word. Om in hierdie behoeftes te voorsien, het Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe die toevoeging van die BCom (Ekonomie)-program tot sy programaanbod vir 2027 aangekondig. Dié aankondiging is tydens ʼn spesiale glasieklinkgeleentheid op 3 Augustus gevier.
Volgens dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, verteenwoordig die toevoeging van hierdie toegewyde ekonomieprogram ʼn sterk dissipline-spesifieke grondslag wat ekonomiese denke en analise betref. “Die program vul die reeds bestaande BCom-programaanbod goed aan, en versterk die fakulteit se vermoë om aan die uiteenlopende behoeftes van die arbeidsmark te kan voldoen,” sê Maritz.
Op haar beurt meen Rika Calitz, departementshoof: Finansiële Bestuur en Ekonomie, dat die program studente sal voorberei om die uitdagings van vandag krities te verstaan en praktiese oplossings daarvoor te kan ontwikkel. “Die ekonomie gaan uiteindelik oor mense, geleenthede en toekomsgedrewe vooruitgang. Besluitneming oor hoe daar met hulpbronne omgegaan moet word, hoe besluite geneem word en hoe beleidsaspekte die welvaart van gemeenskappe beïnvloed, staan sentraal tot hierdie realiteit,” verduidelik Calitz.
Meer oor die program
Die nuwe program (wat op NKR-vlak 7 gerig is) sal by wyse van beide die instelling se onderrigleermodelle aangebied word, naamlik die voltydse kampusmodel in Pretoria, sowel as die nauurse afstandsmodel. Laasgenoemde maak dit vir studente wat hulself reeds in die werksplek bevind óf ander belangstellings soos sport navolg, moontlik om óók die program te voltooi.
Inhoudelik is die program op só ʼn wyse saamgestel dat dit studente sal toerus met ʼn diepgaande begrip van ekonomiese en finansiële stelsels. Hiermee saam word die fokus op analitiese vaardighede geskyn wat nodig is om data te interpreteer, tendense te ontleed en uiteindelik ingeligte besluitneming te fasiliteer. Die driejaarprogram kombineer voorts ʼn sterk teoretiese grondslag met praktiese toepassing en kwantitatiewe analise.
Gedurende die eerste studiejaar ontwikkel studente ʼn stewige begronding wat mikro- en makro-ekonomie betref, terwyl hulle ook die algemene grondslagmodules van ʼn BCom-program voltooi. In die tweede jaar word die fokus uitgebrei na ekonomiese teorie, ekonomiese statistiek en ekonometrie, asook die geskiedenis van ekonomiese denke. Hierdie modules stel studente bloot aan die verskillende denkskole wat ekonomiese beleidsvorming en besluitneming wêreldwyd beïnvloed.
Teen die derde studiejaar pas studente hul kennis toe op gevorderde ekonomiese vraagstukke soos ontwikkelingsekonomie, internasionale handel, finansiële ekonomie, monetêre ekonomie en ekonometrie. Hulle sal voorts die vermoë om ekonomiese en finansiële data krities te ontleed ontwikkel en só aanbevelings kan maak wat op deeglike bewyse gegrond is.
Drie spesialiseringsrigtings
Benewens ʼn sterk grondslag in ekonomie bied die program aan studente die geleentheid om hul studie volgens hul eie belangstelling en loopbaandoelwitte te rig.
Studente kan spesialiseer in een van drie fokusareas:
rekeningkunde, met ʼn fokus op finansiële verslagdoening, belasting en ouditkunde.
Hierdie kombinasie van ekonomiese kennis en beroepsgerigte spesialisering dra nie net by tot ʼn uiteenlopende reeks loopbaangeleenthede nie, maar ook tot onderskeiding in die werksomgewing.
Volgens Calitz sal gegradueerdes ná afloop van hul studie ook oor die kennis en vaardighede beskik om ekonomiese navorsing te doen, data te interpreteer, ekonomiese tendense te ontleed en beleidsvraagstukke krities te evalueer. Gevolglik berei die program studente voor vir loopbane as ekonome, ekonometriese ontleders, finansiële ontleders, bestuurders en beleidspesialiste in die openbare en private sektor. Dit bied ook ʼn sterk grondslag vir verdere nagraadse studie in ekonomie, finansies, ondernemingsbestuur en rekeningkunde.
“Deur die loop van hul studiereis sal studente nie net gevorderde kwantitatiewe en analitiese vaardighede bemeester nie, maar ook die vermoë om komplekse ekonomiese uitdagings vanuit ʼn breër samelewingsperspektief te benader,” sê Calitz.
ʼn Belegging in Suid-Afrika se ekonomiese toekoms
Met die bekendstelling van die BCom (Ekonomie)-program brei Akademia sy akademiese programverskeidenheid doelgerig verder uit en belê só in Suid-Afrika se ekonomiese toekoms.
“Die program weerspieël die instelling se verbintenis om gegradueerdes af te lewer wat nie bloot ekonomiese verskynsels verstaan nie, maar ook oor die kennis, oordeel en etiese ingesteldheid beskik om verantwoordelike ekonomiese besluite te neem wat waarde vir ondernemings, gemeenskappe en die land as geheel sal skep,” sluit Maritz af.
Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word reeds ingewag. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.