*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 14 Augustus 2026
Geskryf deur Jo-Ann Scholtz, senior taalpraktisyn by Akademia
Taal het nie longe nie, tog haal dit asem. Net só beskik dit nie oor ʼn hart nie, tog klop dit ononderbroke. Gedagtig hieraan getuig ons maklik: “Taal is lewendig!”, veral op ʼn dag soos vandag, Afrikaanse Taaldag. Maar wat beteken dié erkentenis regtig?
ʼn Polsende hartklop en ʼn gesonde asemhaling
Om lewendig te wees, vereis ʼn hartklop. Die hartklop van ʼn taal lê egter in baie méér as net sy etimologie. Ja, die oorsprong is natuurlik belangrik, maar die aspekte wat taal vandag dinamies en lewendig hou, is ewe deurslaggewend. Taal word gedra deur elkeen wat dit gebruik om deur die lewe te navigeer. Elke keer wanneer iemand kommunikeer, pols die (taal) hart – in elke liewe sekonde, dwarsoor die wêreld.
Lewe vereis ook asemhaling. Daardie diep teug van vryheid wat taal soms moet neem, vind gestalte wanneer ons terugstaan en taal toelaat om net te wees. Natuurlik is die reëls van ʼn taal broodnodig vir sy gebruikers; daarsonder verval dit in chaos. Dink daaraan soos verkeer sonder padreëls. Maar wat word bedoel met “vryheid” binne die konteks van taalreëls?
Dit gaan oor elkeen se reg, en voorreg, om taal sonder kettings te benut. Dit beteken dat woorde daar is vir vrye, maar ook verantwoordelike gebruik. Reëls verseker dat daardie woorde sin maak, tog moet dit nooit as boeie aangewend word nie. Beskou dit eerder in dieselfde lig as die gidsstok wat ʼn siggestremde gebruik om rigting te vind: Dit perk jou nie in nie, maar lei jou veilig tot by jou bestemming. In kort: Taalreëls help taalgebruikers om so effektief as moontlik te kommunikeer.
Groei en ontwikkeling
Afrikaans, wat in 2025 sy eeufees as amptelike taal gevier het, is tekenend van groei en lewe.
Ons geliefde moedertaal staan nie stil nie; dit bruis energiek deur die are van sy gebruikers, neem vindingryke nuwe vorme aan en groei op ʼn robuuste wyse. Laasgenoemde is immers ʼn besliste voorvereistes vir lewe.
Saam met groei volg ontwikkeling, en in die geval van taal sluit dit onder meer nuwe woorde, nuwe riglyne en nuwe gebruike in. En, soos dit met enige groeiproses gaan, is uitdagings ook ʼn natuurlike gevolg.
Die een uitdaging wat veral na vore tree, is die spanning tussen “ou” en “nuwe” gebruikers. ʼn Mens hoor gereeld hoe taalgebruikers kla dat hulle glad nie verstaan wat die verskillende generasies (jonk óf oud) probeer sê nie. Dit laat jou wonder of taal dan sy vermoë om betekenis oor te dra verloor het. Óf het dit bloot ontwikkel tot ʼn plek waar verskillende gebruikers (generasies) verskillende waarde daaruit put?
Is dit byvoorbeeld verkeerd om soms sleng te praat? Hoegenaamd nie! Net só hoef die taalgebruik ook nie vir almal ewe mooi en netjies te wees nie. As die teikengehoor die boodskap verstaan, het taal sy doel in die verband bereik – hoewel dit vir sommiges soms meer na verval as groei voel. Wanneer bekende woorde verdwyn en nuwe uitdrukkings hul plek inneem, kan dit voorkom asof iets van die taal in die proses verlore gaan. En dit is verstaanbaar. Miskien is verandering daarom nie die teenoorgestelde van behoud nie, maar eerder ʼn bewys dat die taal nog leef.
Beweging oor grense
Taal het die vermoë om oor grense te beweeg. Wanneer jy jouself suksesvol kan uitdruk, ervaar jy dat jy verstaan word. Begrip, of selfs net die erkentenis dat opinies verskil, is ʼn klinkklare bewys dat taal sy ware rol vervul – naamlik om begrip moontlik te maak.
Taal beskik ook oor die vermoë om geredelik tussen die hede en die verlede te beweeg. Hoe fassinerend is dit nie byvoorbeeld om te hoor hoe ʼn antieke uitdrukking sy ontstaan gekry het nie? Terselfdertyd word die sêgoed wat môre se nuwe generasies gaan fassineer vandag ontwikkel.
Taal as ʼn vormingsbousteen
Soos wat taalgebruikers die taal daagliks vorm, vorm die taal op sy beurt ook sy sprekers. Dink maar aan negatiewe selfspraak: Wanneer jy gereeld genoeg vir jouself sê dat jy nie goed genoeg is nie, word dit uiteindelik die waarheid waarin jy leef.
Taal kan – en ek verstout my om te sê móét – gebruik word om op te bou. Daar is ʼn tyd vir taal om hard, ferm en beslis te wees, maar dit moet soveel te meer ʼn trooskombersie vir die siel kan wees. Ek dink hier aan die poësie: mooi, betekenisryke woorde in ʼn aantreklike vorm. Daar is min dinge so kragtig soos dit. Die woorde wat jy kies, word uiteindelik die wêreld waarin jy leef.
Taal het ʼn hartklop, haal asem, groei, vorm en beweeg. Dit leef in elke gesprek, elke gedig, elke trooswoord en elke argument. Miskien lê taal se grootste wonder juis hierin opgesluit: Dat dit nie nét deur mense gebruik word nie, maar dat dit deur mense gelééf word. Taal het dalk nie dieselfde biologiese vorm as ek en jy nie, maar sy hartklop weerklink in elke woord wat ons gebruik.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.