*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

BCom (Ekonomie)

Die program het ten doel om ʼn omvattende begrip van die wêreld en die interne werking van ekonomiese en finansiële stelsels te bied. Studente word ook blootgestel aan ekonomiese statistiese metodes en prosesse wat op ekonomiese en finansiële data toegepas word om verwantskappe te beraam. Studente verwerf ʼn BCom-graad wat, afhangende van die keusemodules, uit 375 tot 380 krediete bestaan, met studie in Ekonomie asook spesifieke grondslagkeusemodules. Studente word gevolglik voorberei vir verdere studie in ekonomie, finansies, ondernemingsbestuur of rekeningkunde.

Die doel van die program is om studente toe te rus met die nodige teoretiese en kwantitatiewe ekonomiese kennis en vaardighede wat hulle in staat sal stel om hul pligte as ekonome, ekonometrici, finansiële ontleders of bestuurders en onderwysers in die private en openbare sektore van die ekonomie uit te voer.

Die Baccalaureus Commercii in Ekonomie is ʼn driejaargraad wat studente aan verskeie fokusareas bekendstel. In die eerste jaar van die program kry studente ʼn grondslag en basiese begrip van die teorieë en konsepte in mikro- en makro-ekonomie, asook algemene BCom-grondslagkeusemodules.

Die tweede jaar van die program bied ʼn intermediêre fokus op ekonomiese teorie, ondersteunende ekonomiese modules en statistiese metodes, gekombineer met keusemodules. Die ondersteunende ekonomiese modules sluit Geskiedenis van Ekonomiese Denke in, wat ʼn grondslag bied vir die verskillende skole van ekonomiese denke wat in derdejaarekonomie gebruik word. Ekonometrie dien as grondslag vir die begrip en interpretasie van statistiese ekonomiese en finansiële data, en rus studente toe met die kritiese vaardighede wat nodig is om ekonomiese datastelle te analiseer, te interpreteer, te verstaan en te voorspel.

In die derde jaar van die program verkry studente ʼn meer gevorderde begrip van ekonomiese beleidsvorming en -analise, waar hulle die kennis uit die eerste en tweede jaar op praktiese ekonomiese en finansiële scenario’s toepas. Studente vernou hul fokus tot kern- of grondslagmodules, naamlik Ontwikkelingsekonomie, Internasionale Handel, Finansiële Ekonomie, Monitêre Ekonomie en Ekonometrie. Ekonometrie is verpligtend vir tweede- en derdejaar-BCom (Ekonomie)-studente. Die keusemodules bied aan studente die geleentheid om in enige van die drie fokusareas te spesialiseer, naamlik finansies, ondernemingsbestuur of rekeningkunde.

WAT KAN EK MET BCOM (EKONOMIE) DOEN?

BCom (Ekonomie)-studente sal die geleentheid hê om in kernvakke binne ekonomie te spesialiseer, tesame met spesialisering in een van drie verskillende fokusareas: finansies, ondernemingsbestuur of rekeningkunde.

In Ekonomie sal studente bevoegdhede ontwikkel wat hulle in staat stel om navorsing te doen deur kern-analitiese, makro-ekonomiese, mikro-ekonomiese en ekonometriese instrumente toe te pas. Hulle sal die toepaslike instrumente kan gebruik om die ekonomiese impak te meet en ekonomiese en/of finansiëlemarkverskynsels te analiseer. Daarbenewens sal hulle metodologieë en standaarde kan gebruik om ekonomiese probleme op te los en die resultate bekend te maak. Studente sal kennis van ekonomie en/of finansiële markte, asook die verskillende bedrywe en ondernemings waaruit inligting ingesamel word, kan toepas om ingeligte menings oor die data te formuleer en beleid oor verskeie kwessies toe te lig.

In finansies ontwikkel studente ʼn sterk begrip van finansiële markte, beleggingsanalise en risikobestuur. Hulle verwerf vaardighede in finansiële modellering, portefeuljebestuur en finansiële besluitneming.

Studente wat in ondernemingsbestuur spesialiseer, fokus op strategiese besluitneming, organisatoriese gedrag en effektiewe leierskap. Hulle verkry kennis in verskeie areas van ondernemingsbestuur, insluitend bemarking, menslike hulpbronne, bedrywighede en entrepreneurskap.

Spesialisering in rekeningkunde rus studente toe met noukeurige aandag aan detail en vaardigheid in finansiële rekeningkundige beginsels en tegnieke. Hulle leer om finansiële state voor te berei en te analiseer, belastingregulasies te bestudeer, en kundigheid te ontwikkel in areas soos ouditkunde en finansiëleverslagdoeningstandaarde. Deur die loop van hul studie ontwikkel studente kwantitatiewe analisevaardighede, kritiese denkvermoëns en ʼn diepgaande begrip van ekonomiese en finansiële stelsels.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 7

SAKO-ID: 125920

ONDERRIGLEERMODEL:

  • Nauurse afstandsmodel
  • Voltydse kampusmodel (Pretoria-kampus)

 

KWALIFISEER EK OM BCOM (EKONOMIE) TE STUDEER?

MODULES

Hierdie module bied kennis oor die funksionering van die ekonomie as ʼn geheel, asook insig oor hoe om basiese ekonomiese probleme in verskillende ekonomiese stelsels op te los; hoe gesinne en ondernemings besluite neem en hoe pryse onder goeie of ongewensde mededingende omstandighede vasgestel word.

Hierdie module bied ʼn oorsig oor die bestuur van sakeondernemings in die Suid-Afrikaanse sakeomgewing. Dit voorsien beginsels vir die bestuur van hulpbronne en aktiwiteite vir optimale winsgewendheid. Die module bied ook ʼn inleiding tot die verskeie gespesialiseerde bestuursareas, naamlik menslikehulpbronne, bemarking, openbare betrekkinge, finansies, prosesse, aankope en voorsieningskettingbestuur.

Hierdie module bied ʼn oorsig van basiese bestuurswetenskaplike tegnieke wat in die praktyk toegepas kan word.

Hierdie module behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkelentiteite. Die verslae word binne ʼn  konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ʼn begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word.

Die meting van finansiële prestasie deur die berekening van basiese verhoudings word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Die module bied aan studente ʼn deeglike begrip vir die basiese beginsels en praktyke op die gebied van finansiële beplanning en beleggingsbestuur. Die module verduidelik konsepte soos die finansiële beplanningsproses, persoonlike finansiële bestuur en tydwaarde van geld in verhouding tot die beleggingsbestuursproses en sekuriteitsmarkte.

ʼn Begrip vir hierdie konsepte is noodsaaklik om meer gevorderde finansiële beplanning en beleggingsbestuurtegnieke en -teorieë toe te pas en te kombineer.

Hierdie module dek die algemene aspekte en beginsels wat betrekking het op ʼn inleiding tot sakereg en kontraktereg.

Verpligte modules

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn duidelike begrip van statistiek, asook die toepassing daarvan binne die ekonomie, kan demonstreer.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn basiese, maar omvattende begrip van ekonometrie en die toepassing daarvan kan demonstreer. Studente sal ekonometriese instrumente kan gebruik vir modellering en afleiding binne die konteks van werklike ekonomiese probleme. Hulle sal ook resultate en gevolgtrekkings krities kan evalueer deur basiese ekonometriese instrumente toe te pas.

Hierdie module het ten doel om die student se begrip van ekonomie te verdiep deur te demonstreer hoe en hoekom gebeurtenisse in die ekonomiese stelsel plaasvind. Hierdie module fokus op beide die intermediêre makro- en mikro-ekonomie.

Die module is saamgestel om die student ʼn begrip te gee van hoe die veld van ekonomie ontwikkel het. Die student word blootgestel aan die ekonomiese filosofie in chronologiese volgorde tot en met hoe die moderne ekonomie ontwikkel het.

Die doel van hierdie module is om ʼn omvattende begrip van ekonomiese aanwysers en nasionale rekeninge te ontwikkel, asook die toepassing en ontleding van ekonometriese tegnieke binne die konteks van werklike empiriese vraagstukke.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn duidelike begrip van monetêre ekonomie en die toepassing daarvan kan demonstreer. Studente sal ook kan verduidelik hoe monetêre verwantskappe die gedrag en besluitneming van ekonomiese rolspelers beïnvloed.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn duidelike begrip van finansiële ekonomie en die toepassing daarvan kan demonstreer. Hulle sal ook kan verduidelik hoe finansiële besluitneming en die afweging tussen risiko en opbrengs portefeuljekeuses en ekonomiese besluitneming beïnvloed.

Keusemodules (kies twee)

Die module bied ʼn oorsig oor die basiese beginsels en sfere van rekeningkunde, finansiële rekeningkunde en verslaggewing.

Die module bied aan studente kennis van algemene bestuursbeginsels, asook vaardigheid om die kennis prakties toe te pas. Daar word in besonder klem gelê op die bestuursfunksies van beplanning, organisering, leiding en beheer, sodat studente goed voorbereid is om as bestuurders, werkers of entrepreneurs ʼn bydrae tot die gemeenskap en sakegemeenskap te lewer. Die module bied ook kennis van en vaardigheid in hedendaagse bestuurskwessies.

Die module bied ʼn deeglike begrip vir die ekwiteitsproses en die verbandwaarderingsproses. Die gebruik van afgeleide instrumente binne die beleggingsparadigma word ook in besonderheid bespreek. ʼn Begrip hiervoor is noodsaaklik met die opstel van ʼn optimale beleggingsportefeulje en om goeie beleggingsbesluite te neem.

Die wêreld van finansiële bestuur sowel as die bestuur van geld, was en sal altyd ʼn integrale deel van ons samelewing wees. Die beginsels en begrippe van finansiële bestuur sal ʼn wesenlike invloed op die student se finansiële toekoms as individu en in die sakewêreld hê.

Verpligte modules

Ekonomie 3 bou voort op die beginsels van mikro-ekonomie en makro-ekonomie wat in Ekonomie 2 behandel is. Die module bespreek arbeidsekonomie met ʼn fokus op mededingende verduidelikings van onlangse verwikkelinge in loon- en salarisverspreiding, asook in belangrike instellings en organisasies. Spesiale aandag word aan teorieë oor werkers se motivering en optrede gegee, asook die vasstelling van lone, tegnologie, maatskaplike stratifikasie en vakbondoptrede. Internasionale ekonomie word ook behandel, aangesien dit lig werp op fundamentele instellings en verhoudings wat lewenskwaliteit bepaal en ʼn raamwerk bied waarbinne ʼn  begrip vir die besluitnemingsproses oor internasionale handel, beleggings en kapitaalvloei – veral in ontluikende markte – gevorm kan word.

Die module analiseer ook huidige debatte oor die toepassing van ekonomiese teorie en probleme rondom ekonomiese ontwikkeling. Studente word toegerus om teorie en beleid toe te pas, en ekonomiese uitdagings op te los sodat internasionale handel bevorder word, ekonomiese ontwikkeling versnel en arbeidsverhoudings verbeter.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn duidelike en deeglike begrip van wiskundige onderwerpe binne die ekonomie kan demonstreer. Hulle sal ook wiskundige konsepte en metodes prakties kan toepas op alledaagse ekonomiese probleme.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn omvattende begrip van tydreeksekonometrie en die toepassing daarvan kan demonstreer. Hulle sal tydreeksekonometrie binne werklike ekonomiese en finansiële kontekste kan toepas en die resultate en gevolgtrekkings krities kan evalueer.

Die doel van hierdie module is om die student se begrip van ekonomie verder te verdiep deur die studie van ontwikkelingsekonomie. Dit word bereik deur ʼn wye reeks onderwerpe binne die sfeer van ontwikkelingsekonomie te bestudeer en is van besondere belang aangesien studente in ʼn ontwikkelende land woon. Ná voltooiing van hierdie module, sal studente in staat wees om ʼn basiese, maar omvattende begrip en toepassing van ekonometrie te bied. Studente sal ook ekonometriese instrumente op modellering en inferensie in die konteks van werklike ekonomiese probleme kan toepas. Studente sal verder in staat wees om die resultate en gevolgtrekkings krities te evalueer deur gebruik te maak van die basiese ekonometriese instrumente.

Die module behandel interessante ontwikkelings in die wêreld. Teorie van internasionale handel word ondersoek en daar word prakties gekyk na die redes waarom lande handel dryf. Verskillende wyses waarop beleid toegepas word, word ondersoek. Die module rus studente verder toe om enige land in die wêreld wetenskaplik te ontleed in terme van die wyse waarop die betrokke land funksioneer en handel dryf.

Ná voltooiing van hierdie module sal studente ʼn deeglike begrip van die beleggingsomgewing en die rol daarvan binne die ekonomie kan demonstreer. Hulle sal ook die ekwiteits- en effektewaardasieproses kan verduidelik, asook die toepassing van die CAPM en afgeleide instrumente binne finansiële en ekonomiese besluitneming kan verstaan en toepas.

Keusemodules (kies een)

Die module brei uit oor die inhoud van Finansiële Rekeningkunde 2 met meer gevorderde onderwerpe in finansiële rekeningkunde (voorbereiding van volledige gekonsolideerde finansiële verslae en beginselkwessies in rekeningkundige standaarde wat met meer komplekse areas te doen het) en met verwikkelinge in eksterne verslaggewing. Met die gevorderde vlak van finansiële rekeningkunde en verslaggewing wat in hierdie vak bereik word, word rekeninge in groter diepte geanaliseer en geïnterpreteer.

Die hedendaagse sakeomgewing is onvoorspelbaar en bring verskeie veranderinge mee wat strategies bestuur moet word. Strategiese bestuur is ʼn noodsaaklike, deurlopende proses om strategieë te formuleer en te implementeer wat ʼn onderneming in staat stel om ʼn optimale posisie in die mark te beklee en mededingende voordeel te behou ten einde winsgewendheid te verseker. Hierdie module bied ʼn oorsig van die strategiese beplannings- en implementeringsprosesse wat deur hedendaagse organisasies uitgevoer word.

Die module bespreek die analise en bestuur van beleggingsportefeuljes deur op konsepte soos effektiewe kapitaalmarkte, batewaardasiemodelle en modelle vir risiko en omset – wat verskeie faktore in ag neem – te fokus. Die module fokus ook op verskeie bestuurstrategieë vir ekwiteite en verbande en oorweeg evalueringsmetodes vir portefeuljeprestasie. Alternatiewe bates as beleggingsopsie word ook behandel en etiek binne die bedryf word oorweeg.

Studente sal met voltooiing van die module in staat wees om ʼn optimale beleggingsportefeulje op te stel deur die relevante teorieë en strategieë te kombineer.

Die module behandel die belangrikste elemente in die ontwerp en bestuur van ʼn organisasie se finansiële strategie, met die oog daarop om tot die organisasie se doelwitte by te dra, veral met eksterne struikelblokke soos die algemene regulatoriese en beleggingsomgewing in ag genome. Die eienskappe en toepassing van die volle reeks belangrike finansiële instrumente word behandel. ʼn Wye reeks van verskillende beleggingsbesluite word ook gedek, met inagneming dat hierdie besluite rekening moet hou met breër strategiese kwessies en finansiële analise.

ANDER INLIGTING

Minimum drie jaar / maksimum sewe jaar

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudie spesifiseer met ʼn toelatingspunt (TP) van 30 (Lewensoriëntering uitgesluit) met:
    • 50% in Afrikaans
    • 60% in Wiskunde
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf (Universiteite Suid-Afrika) indien ʼn ander skoolverlaterskwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

DOEN NOU AANSOEK OM VIR ‘N BCOM (EKONOMIE) TE STUDEER

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.