*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 1 Julie 2026
Geskryf deur Monica Mynhardt, voorsitter (2024-2026-termyn) van Akademia se alumni-komitee
In die moderne wêreld word die ideaal van verbondenheid dikwels as ʼn versperring vir vryheid geskets. Kettings van verbondenheid wat absolute vryheid van en verkenning deur die individu inperk. Binne die milieu van Akademia se klassieke universitêre tradisie word verbondenheid daarenteen as instaatstellend beskou, waar vryheid juis voortvloei uit die mens se “deel-wees-van”-realiteite soos gesinne, gemeenskappe en kulture.
Met verbondenheid as een van die instelling se kernwaardes, is ʼn kernbousteen van die alumni-komitee om ʼn kultuur van lewenslange lojaliteit te help bou. Laasgenoemde word gedoen deur alumni te begeester om ná afloop van hul studie deel van dié gemeenskap te bly. Om gevestigde verbondenheid voort te sit en te versterk om lewenslange trots sowel as lojaliteit te kweek.
Hierdeur word verbondenheid as beide ʼn middel én ʼn doel sentraal geposisioneer. In kort: Die toestand van gebind wees aan iets groter as jyself, asook die groter ideaal waaraan jy as alumnus gebind word. Sodoende is Akademia se alumni-gemeenskap uiteindelik ook ʼn lewenslange verbintenis waardeur afgestudeerde studente saamgesnoer word aan diegene voor hulle, diegene ná hulle en die gemeenskap van eensgesindes voortvloeiend uit hul almal mater.
In die klassieke universitêre tradisie is hierdie “deel-wees-van” nie beperkend of inperkend nie, maar instaatstellend – die onderliggende band wat moontlik maak. Moontlik as ʼn ewigheidstuiste vir eensgesinde oud-Fonties. Moontlik as ʼn netwerk van uitnemendheid. Moontlik, om uit geborgenheid te streef, na die skynbaar onmoontlike. Moontlik om uit die bronne die toekoms in te floreer.
Hierdie verbondenheid wat moontlik maak, is deel van Akademia en sy alumni-gemeenskap se boustene vir die toekoms. Daardie vormingsboustene wat as’t ware die instelling se bloedsomloop vorm – hetsy by wyse van die denkende hart van die NP van Wyk Louw-sentrum, die groter verhaal van die Groot Boeke-program, kennisoordrag tussen generasies deur mentorskap of praktiese en toekomsgerigte leierskap. Hierdie is dieselfde strukturele en strategiese boustene waarop ʼn florerende alumni-gemeenskap hul impak op die wêreld voortbou.
Ten einde hierdie impak so betekenisvol moontlik te maak, is ʼn dinamiese en betrokke alumni-gemeenskap nodig. ʼn Gemeenskap met ʼn gesonde hartklop van alumni wat inkoop, bydra en aktief deelneem – ten behoewe van hul alma mater, maar ook ter wille van hulself.
Enige alumni-netwerk is net so sterk as wat sy lede is. Daarom nooi die alumni-komitee alle afgestudeerde studente, en in besonder die instelling se jongste alumni-lede om deel te neem aan die res van die alumni-geleenthede wat nog vanjaar voorlê. Hetsy dit deelname is aan die Fontie-spele-sportbyeenkomste, die bywoning van webinare – aanlyn of in persoon – of opkomende skemerkelkies of die jaarlikse alumni-ontbyt is. Word vandag nog deel van die geborgenheid, verbondenheid en instaatstellende krag van Akademia se alumni-gemeenskap.
Is jy ʼn Akademia-alumnus? Indien wel, besoek die alumni-webblad en word deel van jou alma mater se dinamiese alumnigemeenskap deur jou besonderhede by te werk, jou suksesverhaal met ons te deel óf op welke ander wyse betrokke te raak. Jy kan ook van jou laat hoor deur ʼn e-pos te stuur na alumni@akademia.ac.za.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.