Dameskoshuis | Paarl-kampus
Die ikoniese suikerbos is een van Suid-Afrika se mees geliefde inheemse plantspesies en ʼn alombekende deel van die Wes-Kaapse natuurlandskap. Met trots staan die protea as die kroon van die suikerbosfamilie, diep gewortel en word sy vereenselwig met uithouvermoë en skoonheid. Die Huis Suikerbos-handelsmerk gee uiting aan hierdie kenmerke en word ingekleur deur ʼn palet van vuilpienk en pienkveldblom wat vroulikheid en warmte uitstraal, blaargroen wat groei en lewenskragtigheid simboliseer, en heuningroom wat tot dié koshuis se ongekunstelde elegansie spreek.
Koshuisouer
JOANIE VENTER || Beampte: Studentelewe
Vir Venter is dit ʼn voorreg om deel uit te maak van die Paarl-kampus se heel eerste damesinwoonkoshuis, en op dié manier te help om die boustene van ʼn sterk grondslag van vriendskap, kameraadskap en trots neer te lê. Dit is haar strewe en bede dat die dames van Huis Suikerbos altyd sal weet dat hulle gekoester is, deel van ʼn ondersteunende span is, en ʼn veilige tuiste het waarna hulle keer op keer kan terugkeer. “Mag Huis Suikerbos ʼn plek wees waar elke dame daagliks onthou wie sy is, en doelgerig ontdek wie sy nog kan word,” sê Venter.
Algemene vrae
KOSHUISKOSTES VIR 2027
Jaarliks: vanaf R70 000 | Hierdie bedrag kan oor ʼn tydperk van tien maande afbetaal word (Februarie tot November).
Die koshuisgelde sluit in:
- onbeperkte internettoegang
- water en elektrisiteit
- algemene instandhouding
- sekuriteit op perseel
- voorsiening vir beurtkrag
- skoonmaakdienste (kamers en badkamers word tweeweekliks skoongemaak terwyl gemeenskaplike areas deurlopend skoongemaak word)
GERIEWE WAT OP DIE PERSEEL BESKIKBAAR IS:
- wasmasjiene
- braaigeriewe
- gemeenskaplike kombuis
- veilige opelugparkeerare
WAT IS DIE KOSHUISKAS?
Die koshuiskas is ʼn jaarlikse betaling wat deur elke student betaal word om deel te neem aan die instelling se bruisende studente- en koshuislewe. Hierdie finansies word gebruik om verskeie sport-, kultuur-, gemeenskap- en sosiale aksies moontlik te maak.
HOEKOM IS DIT VIR ʼN INSTELLING SOOS AKADEMIA EN SY KOSHUISE BELANGRIK DAT DAAR SAAMGEËET WORD?
Vir studente om op hulle beste te kan funksioneer is gesonde en bekostigbare etes uiters belangrik. Met hierdie realiteit in gedagte skep die instelling asook die koshuisbestuur gereelde geleenthede en samekomste wat dié tradisie van samesyn ondersteun en uitbou. Deur gesellig om ʼn etenstafel te kuier ontsluit ʼn gevoel van verbondenheid en samehorigheid
DIE VOLGENDE ITEMS WORD NIE IN DIE KOSHUISKAMERS TOEGELAAT NIE:
- verwarmers met oop elemente (brandgevaar)
- braaiers, roostertoestelle of lugbraaiers (air fryers)
- enige gastoestelle
- enige lugverkoelers
- geen foto’s teen die kaste of mure nie
MAG EK ʼN MOTOR HÊ?
Ja, daar is veilige opelugparkering.
HOE LYK MY KAMER SE UITLEG EN WAT IS BELANGRIK OM TE WEET?
- Daar is enkelkamers asook ʼn beperkte aantal dubbelkamers (m.a.w. twee beddens per kamer).
- Kamers is met ʼn lessenaar, enkelbed, matras en stoel per student toegerus, terwyl elke kamer ook oor ingeboude kaste beskik.
- Daar is ʼn gemeenskaplike kombuis wat met ʼn yskas, ketel, broodrooster, lugbraaier en ʼn mikrogolfoond toegerus is.
- Daar is blindings voor elke venster.
NB: Geen privaat beddens word toegelaat nie.
Studenteondersteuning
Kontak ons by studenteondersteuning@akademia.ac.za om die volgende ondersteuning te ontvang:
akademiese stres
tydsbeplanning
uitdagings om aan te pas in die nuwe lewensfase
basiese onderrig-en-leer-ondersteuning
Kontak die koshuisbestuur by paarlkoshuisadmin@akademia.ac.za vir enige navrae.
