*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia se nuwe honneursprogram rus opvoeders as kurrikulumleiers toe

Gepubliseer op:  20 Mei 2026

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde brei sy nagraadse programaanbod verder uit met die bekendstelling van die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program. Dié program, wat daarop gerig is om opvoeders se kurrikulumkennis te verdiep en hulle as kritiese, navorsingsbegronde kurrikulumleiers binne ʼn voortdurende veranderende onderwyslandskap toe te rus, is op 20 Mei 2026 bekendgestel.

Daar is, volgens prof. Johnnie Hay, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde, met groot verwagting uitgesien na hierdie programtoevoeging omdat dit die fakulteit se nagraadse aanbod verder versterk. Dit volg nadat die Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur in 2025 ʼn aanvang geneem het. “Hierdie nuwe honneursprogram ontsluit opwindende nuwe studieopsies aan nie nét Akademia-studente nie, maar ook afgestudeerde studente binne die onderwysstroom van ander instellings,” sê Hay.

Volgens dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent: Opvoedkundestudies en programkoördineerder vir die nuwe honneursprogram, verteenwoordig die toevoeging van hierdie program ʼn belangrike akademiese én strategiese uitbreiding vir die nagraadse aanbieding vanuit die instelling se Fakulteit Opvoedkunde. “Die honneursprogram versterk die fakulteit se posisionering as ʼn opleidingsnode wat nie slegs op onderwyspraktyk fokus nie, maar ook op gevorderde akademiese denke, navorsing en bowenal kurrikulumleierskap,” meen Le Hanie.

Sy voeg by dat die program verder bydra tot die verdieping van navorsingskapasiteit binne die fakulteit deur studente toe te rus om krities en navorsingsgebaseerd oor onderwys, kurrikulumontwikkeling, assessering, pedagogiek en onderwysverandering te dink. Dit skep ook ʼn belangrike akademiese brug na verdere meester- en doktorale studie.

“Die program ondersteun Akademia se roepingsgedrewe strewe om ʼn daadwerklike bydrae tot die ontwikkeling van onderwysleiers te lewer wat die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap krities kan bevraagteken, verbeter en hervorm,” som Le Hanie die makro-impak van die nuwe program op.

Die belangrikheid van kurrikulumstudies

Volgens Le Hanie speel kurrikulumstudies ʼn kernrol omdat dit fokus op die fundamentele vrae van onderwys, naamlik:

  • Wat behoort geleer te word?
  • Waarom behoort dit geleer te word?
  • Wie neem die besluite oor wat geleer moet word?
  • Hoe kennis georganiseer en aangebied behoort te word?
  • Watter waardes, ideologieë en sosiale invloede die kurrikulum moet vorm?

“Die veld van kurrikulumstudies gaan dus veel verder as slegs vakinhoud of beleid. Dit ondersoek die dinamiese verhouding tussen kennis, samelewing, politiek, kultuur, ekonomie en onderwyspraktyk,” sê Le Hanie.

Meer oor die nuwe program

Die program, wat by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word en op ʼn NKR-vlak 8 gerig word, bestaan uit ʼn reeks verweefde modules wat studente in staat sal stel om kurrikulumpraktyke binne verskillende opvoedkundige kontekste krities te ontleed en te verbeter. Gedagtig hieraan sluit die program onder meer die volgende modules in:

  • Grondslae van Kurrikulumstudies
  • Kurrikulumontwikkeling
  • Innoverende Pedagogiek en die Kurrikulum
  • Gehalteversekering en Assessering
  • Navorsingsmetodologie
  • Navorsingsprojek

Die minimum tydsduur vir die program is twee jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is drie jaar.

Volgens Le Hanie sal betrokkenheid by hierdie modules studente se vermoë ontwikkel om teorie en praktyk sinvol te kan integreer, en om vindingryke oplossings vir hedendaagse kurrikulumuitdagings te formuleer. Voorbeelde van diesulke uitdagings sluit in:

  • die relevantheid van die huidige Suid-Afrikaanse kurrikulum midde ʼn snelveranderende wêreld;
  • die impak van kunsmatige intelligensie (KI) en digitale tegnologieë op onderrig en leer;
  • die gehalte en standaard van assesseringspraktyke;
  • toegang en gelykheid binne verskillende skoolkontekste;
  • die voortdurende spanning tussen beleid en praktyk;
  • die toekomsgedrewe voorbereiding van leerders vir die wêreld van werk en aktiewe burgerskap; en
  • die rol van onderwysers as kurrikulumleiers eerder as blote beleidsimplementeerders.

Hierdie vraagstukke ontstaan volgens Le Hanie omdat die kurrikulum nooit neutraal is nie – dit word voortdurend gevorm deur sosiale, politieke, ekonomiese, tegnologiese en kulturele invloede. “Met die honneursprogram wil Akademia studente toerus om hierdie vraagstukke nie nét te verstaan nie, maar ook krities te ontleed, daaroor navorsing te doen en moontlike oplossings te ontwikkel binne hul eie onderwyskontekste,” sê Le Hanie.

Nóg belangrike fokusareas van die nuwe program is etiek, kommunikasie en innoverende praktyk. In die lig hiervan sal studente gelei word om doelbewus etiese waardesisteme en kennisgeletterdheid in hul akademiese en alledaagse professionele praktyk te integreer. Hierbenewens ontwikkel studente gevorderde kommunikasievaardighede, wat hulle in staat stel om hul kundigheid doeltreffend aan verskeie opvoedkundige belanghebbendes oor te dra.

Van beleidsimplementeerders tot kundige kurrikulumleiers

Teen voltooiing van die program sal studente oor die vaardighede beskik om:

  • gehaltekurrikula in uiteenlopende opvoedkundige kontekste te ontwerp en te implementeer;
  • innoverende onderrig- en assesseringstrategieë toe te pas;
  • krities met huidige opvoedkundige teorieë en praktyke om te gaan; en
  • navorsing uit te voer en daaroor verslag te doen met die oog op volhoubare kurrikulumverbetering.

Wat loopbaanvooruitsigte betref ontsluit die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program ʼn wye spektrum van akademiese asook professionele geleenthede.

Gegradueerdes kan kurrikulumleierskapsrolle in skole of hoëronderwysinstellings vervul, onder meer as vakhoofde, kurrikulumkoördineerders of onderrigleiers. Op ʼn breër stelselsvlak kan afgestudeerdes ook bydra in regeringsdepartemente, onderwysbeleidsontwikkeling, nieregeringsorganisasies, of as opvoedkundige konsultante waar kurrikulumbeplanning, -hervorming en -evaluering sentraal staan. Die sterk navorsingsfokus van die program maak dit boonop ʼn ideale wegspringplek vir verdere nagraadse studie en loopbane in die akademie en opvoedkundige navorsing.

Die droom van ʼn nuwe generasie kurrikulumleiers

Le Hanie sluit af deur te sê dat die fakulteit se droom vir hierdie nuwe program is om ʼn nuwe generasie kurrikulumleiers te vorm wat oor die vermoë sal beskik om betekenisvolle bydraes tot die Suid-Afrikaanse én internasionale onderwyslandskap te kan maak.

“Dit is ons hoop dat studente nie bloot kennis sal weergee nie, maar as onafhanklike, akademiese denkers ʼn gesonde professionele oordeel sal kan fel, terwyl hul navorsingsvaardighede sal ontwikkel wat werklik ʼn verskil in skole, gemeenskappe en die breër onderwysomgewing sal maak,” sê Le Hanie.

Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word nou ingewag. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-personeel vier die toevoeging van die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program tot die Fakulteit Opvoedkunde se programverskeidenheid. Dié honneursprogram sal vanaf 2027 by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word. Van links is prof. Johnnie Hay (dekaan: Fakulteit Opvoedkunde), Susan O’Reilly (departementshoof: Opvoedkundestudies), dr. Chris-Mari Le Hanie (senior dosent: Opoedkundestudies) en dr. Celia Booyse (senior bestuurder: Programontwikkeling en Akkreditasie).

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.