BEdHons (Kurrikulumstudies)
Die doel van die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program is om studente se kennis, vaardighede en professionele insig in kurrikulumstudies te verdiep. Die program rus studente toe om kontekstoepaslike kurrikula te ontwerp, kurrikuluminterpretasie en -evaluering uit te voer, asook om innoverende pedagogiese en assesseringspraktyke in uiteenlopende opvoedkundige kontekste toe te pas. Studente ontwikkel die vermoë om krities met opvoedkundige teorieë en praktyke om te gaan, etiese besluitneming te bevorder en as kurrikulumleiers binne die onderwysomgewing op te tree.
Wat kan ek met die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program doen?
ʼn BEdHons (Kurrikulumstudies) bied verskeie professionele en akademiese geleenthede deur studente toe te rus met gevorderde kennis oor kurrikulumontwerp, -teorie en -navorsing oor mikro-, meso-, en makrovlak van onderwys. Ná voltooiing van die program kan studente kurrikulumleierskapsrolle binne skole of hoëronderwysinstellings aanneem. Dit sluit in om ʼn vakhoof, kurrikulumkoördineerder, of onderrigleier te wees wat onderrig- en leerprogramme ontwerp, evalueer en verbeter. Hierdie program berei studente voor om op ʼn breër vlak tot onderwysstelsel by te dra. Studente kan in regeringsdepartemente, onderwysbeleidsontwikkeling, of as opvoedkundige konsultante werk waar kurrikulumbeplanning, -hersiening en -evaluering sentraal staan. Hierdie program versterk studente se navorsingsvaardighede en akademiese kundigheid, wat dit die ideale pad maak vir verdere nagraadse studie. Dit kan lei tot beroepe in die akademie, opvoedkundige navorsing en gespesialiseerde adviesrolle.
Wat behels die program?
NKR-VLAK 8
KREDIETE: 120
SAKO-nommer: 125438
ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel
MODULES
Ná voltooiing van hierdie module behoort studente in staat te wees om ʼn grondige begrip van die interdissiplinêre en sosiale grondslag van kurrikulumstudies te demonstreer, asook die invloede en tendense wat hierdie voortdurend veranderende konstruk vorm.
Studente sal ʼn deeglike begrip van die kompleksiteit en dinamika van die prosesse en fases van kurrikulumontwikkeling hê, asook die rolle en verantwoordelikhede van sleutelkurrikulumbelanghebbendes op skoolvlak.
Ná voltooiing van hierdie module behoort studente in staat te wees om innoverende pedagogiek vir die digitale era, asook die teoretiese grondslag van hierdie pedagogiek te konseptualiseer. Studente sal in staat wees om onderrigstrategieë binne innoverende pedagogiek te implementeer en evalueer, en te bespreek hoe dit in die kurrikula toegepas word.
Ná suksesvolle voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om ʼn kritiese beskouing te lewer oor verskeie assesseringskomponente en gehalteversekering ten einde die verskillende teoretiese standpunte te interpreteer. Dus sal die studente in staat gestel word om teoretiese gereedskap toe te pas om die dinamika van assessering, pedagogie en onderrig binne die huidige opvoedkundige tendense te ondersoek en assesseringspraktyke te evalueer om die gehalte daarvan te beoordeel.
Ná suksesvolle voltooiing van hierdie module sal die student in staat wees om diepgaande kennis van navorsingsteorieë, -konsepte en -metodologieë te demonstreer deur ʼn uitvoerbare navorsingsvoorstel binne die veld van kurrikulumstudies te ontwerp.
Ná suksesvolle voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om empiriese navorsing te doen rondom ʼn spesifieke tema binne die veld van kurrikulumstudies en ʼn navorsingsverslag te skryf, terwyl betekenisvolle insigte doeltreffend uit die bevindings afgelei word.
ANDER INLIGTING
Die minimum tydsduur vir die program is twee jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is drie jaar.
Die toelatingsvereistes vir die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program is:
- ʼn goedgekeurde en erkende vierjaarbaccalaureusgraad in Onderwys; OF
- ʼn algemene driejaarbaccalaureusgraad en ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) (of ʼn voormalige ekwivalent); OF
- ʼn professionele vierjaaronderwyskwalifikasie sowel as ʼn Gevorderde Diploma in Onderwys in ʼn subveld van onderwys wat verband hou met kurrikulumstudies.
Finale keuring van kandidate wat toelating tot die BEdHons (Kurrikulumstudies)-program verkry het, geskied aan die hand van die volgende kriteria:
- ʼn gemiddeld van minstens 60% behaal vir die modules wat op NKR-vlak 7 geneem is in die finale jaar van ʼn verwante graad; of in ʼn NGOS; of in ʼn verwante Gevorderde Diploma in Onderwys.
Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkoste.
Handboeklyste word ná suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
DOEN NOU AANSOEK OM BEdHons (Kurrikulumstudies) TE STUDEER

