*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 26 Maart 2026
Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia
Die eerste kwartaal van die 2026- akademiese jaar het opnuut bevestig dat Akademia se groei en impak op ʼn stewige grondslag van boustene wat doelbewus gelê is, rus. Hierdie fundamentele boustene sluit die instelling se klassieke Christelike aard, sy onafhanklike karakter en sy roeping as hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in. Dié stene verteenwoordig die grondslag waarop Akademia se volhoubare groei en langtermynimpak berus.
Akademia se Christelike inslag verleen rigting aan die instelling se vormingsideaal. Studente word nie slegs akademies toegerus nie, maar ook gevorm tot mense met ʼn diepgegronde sin vir verantwoordelikheid, ʼn toekomsgerigte roeping en ʼn standvastige morele begronding. Hierdie benadering word verder versterk deur Akademia se klassieke akademiese ingesteldheid waarin waarheidsoeke, oop denke en selfdissipline sentraal staan – kernwaardes wat die universiteitswese oor eeue heen gedra en gevorm het.
As ʼn Afrikaanse studietuiste lê die instelling die hoeksteen neer vir moedertaalonderrig, in ʼn tyd waar Afrikaans as opleidingstaal toenemend onder druk verkeer. Die onlangse amptelike opening van die Paarl-kampus as voltydse studietuiste vir studente in die Wes-Kaap is ʼn tasbare uitdrukking hiervan. Dit verteenwoordig ʼn dinamiese ruimte waar jongmense hul roeping passievol in hul moedertaal kan ontdek én uitleef. Meer as 870 besoekers het ook in Maart aangeklop by die Paarl-kampus vir die jaarlikse opedag. Hierdie gebeurtenis beklemtoon die behoefte waarin Akademia voorsien in die skep van ʼn Afrikaanse studietuiste waar studente veilig en tuis kan voel.
Op die akademiese gebied is Akademia voortdurend daartoe verbind om klassieke beginsels met eietydse toepasbaarheid te versoen. Gedagtig hieraan is elke nuwe programtoevoeging, soos die mees onlangse Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur, tekenend van dié strewe. Dieselfde geld vir die besluit om die amp van hoogleraar toe te ken aan gerekende en bewese akademici – ʼn stap wat nie nét akademiese statuur bevestig nie, maar ook die klassieke universiteitsidee van vakmeesterskap en intellektuele leierskap verpersoonlik.
Akademia se onafhanklikheid bly egter die bindmiddel wat hierdie fundamentele boustene saamsnoer. Dit stel die instelling in staat om vry van eksterne kragte koersvas te bly en getrou gestand te doen aan sy roeping en verantwoordbaarheid teenoor die gemeenskap. Selfs die grootskaalse konstruksie van die nuwe Akademia-kampus in die ooste van Pretoria getuig van hierdie diensbaarheid: miljoene boustene wat nie net ʼn fisiese ruimte skep nie, maar ʼn tuiste vir ʼn standhoudende, waardegedrewe akademiese kultuur.
Met al die bogenoemde in gedagte, bou Akademia steen vir steen aan méér as net ʼn wêreldklas instelling. Ons bou aan ʼn vrye en hoopvolle toekoms wat op ʼn vaste en beproefde fondament rus.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.