*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Vier nuwe koshuisname, vier nuwe verhale: Die Paarl-kampus se koshuise spog met pronkhandelsmerke

Gepubliseer op:  26 Maart 2026

Op Donderdag 19 Maart 2026 is ʼn nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Akademia se Paarl-kampus geskryf. Tydens ʼn feestelike geleentheid is die name en handelsmerke van dié kampus se vier koshuise amptelik bekendgestel.

ʼn Geleentheid wat getuig van betekenis

Die bekendstellingsgeleentheid is deur ʼn besonderse atmosfeer gekenmerk: een van diepe betekenis en verbondenheid. Koshuisouers het die geleentheid gehad om hul visie vir hul onderskeie koshuise met die gehoor te deel, waarna verteenwoordigers van elke koshuis die nuwe name en handelsmerke plegtig onthul het. Die aand is afgesluit met seënwense vir elk  van die koshuise terwyl ʼn heildronk ook op Akademia en sy bruisende studentelewe is. Laasgenoemde is onderskeidelik deur prof. Gawie du Toit, hoof van die Paarl-kampus, en Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe in die Paarl, ingestel.

ʼn Koshuistuiste vir Paarl-Fonties

Die Paarl-kampus beskik oor twee inwoonkoshuise en twee daghuise. Die inwoonkoshuise, Huis Suikerbos (dames) en Huis Seder (mans), bied aan studente ʼn tuiste weg van die huis waar hulle saam kan woon, studeer en groei.

Studente wat voltyds aan die Paarl-kampus studeer, maar nie in ʼn inwoonkoshuis bly nie, sluit by een van die daghuise aan, naamlik Huis Waterlelie (dames) en Huis Bergsig (mans).

Hoewel die name en handelsmerke nou eers amptelik bekendgestel is, is dié koshuise reeds vanaf die begin van die akademiese jaar gevestig. Gedurende die eerste maande van die jaar is daar reeds sterk bande en tradisies gevestig terwyl ʼn eiesoortige koshuisgees ook reeds spontaan ontwikkel het. Die nuwe name en embleme verteenwoordig daarom ʼn verdieping in dié jong koshuiskultuur.

Koshuisidentiteite diep gewortel in die Wes-Kaap

Elke koshuis se naam en gepaardgaande handelsmerk is diep in die Wes-Kaapse landskap en natuurskoon gewortel.

Huis Suikerbos is na die suikerbosplant vernoem, een van Suid-Afrika se mees geliefde inheemse plantspesies wat volop in die Wes-Kaap voorkom. Die proteahandelsmerk simboliseer uithouvermoë en skoonheid, terwyl die kleure – vuilpienk, pienkveldblom, blaargroen en heuningroom – vroulikheid, warmte en lewenskragtigheid verteenwoordig.

Huis Seder put sy handelsmerkinspirasie uit die Sederberge, ʼn majestueuse Wes-Kaapse bergstreek. Die Kaapse luiperd op sy handelsmerkidentiteit is ʼn bekende gesig in dié  bergwêreld en simboliseer krag en karakter. Die kleure mosterdgeel, donkergrys en room weerspieël die aardse skakerings wat tekenend van dié gebied is.

Huis Waterlelie is na die bekende waterlelie vernoem, ʼn blom wat gedy waar ander plante nie kan nie. Veerkragtigheid, suiwerheid en stille krag word deur dié unieke blom gesimboliseer. Die koshuiskleurskakering van liggeel, waterblou en wit is deur die blom self asook die stil wateroppervlak waarop dit dryf, geïnspireer.

Huis Bergsig is deur die pragtige berge wat die Paarl-kampus omring, geïnspireer. Die valk op die handelsmerk herinner aan dié valk se sweeftogte hoog bokant die bergkruine. Hiermee saam straal die valk ʼn ongekende vryheidsin uit. Die kleure berggroen en lugblou weerspieël die visuele karakter van die berge en die blou lug wat dit omhels.

ʼn Nalatenskap in wording

Die koshuise word deur toegewyde koshuisouers wat elkeen ʼn persoonlike verbintenis tot elke student in hul sorg het, gelei. Joanie Venter (Huis Suikerbos), Morné Venter (Huis Seder), Caitlyn Dreyer (Huis Waterlelie) en Kobie Krause (Huis Bergsig) staan gereed om elke koshuisinwoner met raad, daad en ʼn diepe sin vir verantwoordelikheid te lei, en só verdere stukrag aan die instelling se vormingsideaal te gee. Vir Venter van Huis Suikerbos is die bekendstelling meer as net die onthulling van ʼn naam. “Mag Huis Suikerbos ʼn plek wees waar elke dame elke dag onthou wie sy is, en ontdek wie sy nog kan word.” Morné Venter van Huis Seder beklemtoon die hegte band wat reeds besig is om gevorm te word. “Hier bou ons aan ʼn broederskap waar manne mekaar slyp, ondersteun en saam groei.”

Op haar beurt meen koshuisma Dreyer van Huis Waterlelie dat die daghuis as ʼn ruimte van herinneringe en betekenis bekendstaan: “Ons skryf saam aan herinneringe wat elke dame nog vir jare gaan vergesel.” Vir Krause van Huis Bergsig lê daar groot vormingspotensiaal in die koshuiservaring opgesluit: “Huis Bergsig is ʼn plek waar studente saam na die toekoms uitsien. Op dieselfde manier as wat ons die berge gade slaan, geniet ons die kykie na ons eie roeping en toekoms.”

Akademia sien uit na die vriendskappe, tradisies en verhale wat deur die studente van hierdie vier nuwe koshuise gevorm en geskep gaan word.

Joanie en Riaan Venter, koshuisouers van Huis Suikerbos, saam met die eerste groep dames van dié koshuis. Die dames het met groot entoesiasme, almal geklee in pienk, hul nuwe koshuishandelsmerk ontvang.
Die manne van Huis Seder is trots op hul nuwe handelsmerk.
Caitlyn Dreyer, koshuisouer van Huis Waterlelie saam met die eerste lede van dié koshuis. Gedagtig aan hul handelsmerkidentiteit het hul die feestelike geleentheid in blou bygewoon.
Kobie en Adrienne Krause, koshuisouers van Huis Bergsig, by lede van dié koshuis tydens die handelsmerkbekendstellingsgeleentheid.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.