*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Die NP van Wyk Louw-sentrum is ook ʼn intellektuele tuiste vir alumni

Gepubliseer op:  24 Maart 2026

As deel van die klassieke universiteittradisie waarin Akademia homself vestig, is die fokus om doelgerig studente op te voed deur hul denke én hart te vorm. Hierdie vorming is nie net van toepassing op ʼn uitnemende beroepslewe nie, maar ook op volwaardige burgerskap.  Sodoende streef Akademia daarna om alumni af te lewer wat nie net in ʼn kundigheidsveld opgelei is nie, maar ook in hul alma mater se hoër ideale begrond is.

Hierdie begrondingstaak neem die vorm van ʼn oop en kritiese gesprek tussen verbondsgemeenskapslede aan. Binne hierdie milieu is dié gemeenskapslede op soek na die ware, die goeie en die skone binne die bepaalde konteks waarin hul hulself bevind.

Die instelling se NP van Wyk Louw-sentrum speel in hierdie verband ʼn kritiek belangrike rol as ʼn ruimte waarin Akademia se intellektuele leefwêreld gestalte vind. Hierdie ideesentrum verteenwoordig die denkende hart van Akademia en is sodanig verbind tot die praktiese vorming van die karakter van studente. Hiermee saam is die sentrum soekend na antwoorde op die grootste vraagstukke van die tyd en tree hy op as die draer van denkideale wat die instelling in gesprek met die groter geheel plaas.  

By wyse van die NP van Wyk Louw-sentrum verbind Akademia hom tot hierdie erns: die uitbou van ʼn denkruimte waar daar nie nét dieptelose antwoorde nagejaag word nie, maar waar daar met diepe bewustheid en die nodige verantwoordelikheid oor ons tyd en wêreld nagedink word. Die sentrum se werksaamhede sluit onder meer gesprekke, openbare lesings, die publikasie van artikels, die Groot Boeke-program, kapeldienste en ander intellektuele bydraes in wat daarop gemik is om insig te verdiep en ʼn ryker verstaan van die groter geheel te bewerkstellig. Dit is ʼn ruimte waar idees gevorm, getoets en gedeel word. 

Alumni voortaan deel van dié lewende akademiese en kulturele verbondsgemeenskap

Volgens Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumni-komitee, sal dié sentrum, wat se werk hoofsaaklik binne die instelling se interne akademiese kringe self tasbaar en sigbaar is, nou ook ʼn intellektuele tuiste vir alumni wees.

“Hierdie verbondsgemeenskap is nie nét in gesprek met homself nie, maar ook met die verlede, die toekoms en samehang van die groter geheel,” verduidelik Mynhardt. Sy voeg by dat in die lig hiervan die alumni-komitee die noodsaak en verantwoordelikheid raakgesien het om die alumni-gemeenskap, deur hul betrokkenheid by die sentrum, doelbewus in gesprek te bring en te hou met Akademia se intellektuele hart. “Die vrae waarmee die sentrum omgaan is immers ook ons vrae,” sê Mynhardt.

Mynhard meen dat alumni daagliks binne verskillende beroeps- en ander gemeenskappe beweeg, waar hul gekonfronteer word met komplekse vraagstukke. Die denke wat by die NP van Wyk Louw-sentrum gekweek word – deurdag en gerig op die geheel – bied volgens haar ʼn waardevolle anker in hierdie dikwels onsekere werklikheid. 

“In die tyd waarin ons onsself bevind, gaan ons doelbewus die sentrum se werksaamhede, insigte en geleenthede met die groter alumni-gemeenskap deel. Op hierdie manier sal afgestudeerde studente nie net ingelig bly oor hul alma mater se intellektuele werksaamhede nie, maar ook só kan inskakel tot hierdie intellektuele leefwêreld,” sê Mynhardt.

“Ons nooi alle Akademia-alumni uit om saam te lees, saam te dink en saam te gesels oor die vraagstukke van ons tyd. Jy, as gewaardeerde alumnus, waar jy jouself ook al mag bevind, bly immers ewig deel van die groter geheel,” sluit Mynhardt af.

Besoek die webblad vir meer inligting oor Akademia se alumni-gemeenskap en hoe jy betrokke kan raak.

Akademia se alumni-gemeenskap vorm deel van die instelling se verbondsgemeenskap en daarom is betrokkenheid, in terme van die NP van Wyk Louw-sentrum, van kernbelang. Hierdie betrokkenheid sal alumni in gesprek bring en hou met hul alma mater se intellektuele hart.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.