*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 8 Maart 2026
Geskryf deur dr. Lizanne de Villiers, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde
Leerders sê dikwels dat hulle hulself nie as wetenskapmense beskou nie. Interessant genoeg, blyk hierdie sentiment in baie kontekste sterker by meisies bespeur, en internasionale navorsing bevestig dié realiteit. Die Verenigde Nasies (VN) stel dit dat vroue wêreldwyd slegs sowat ʼn derde van wetenskaplike navorsers uitmaak, en dat slegs ongeveer 35% van alle WTIW (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde)-studente vroulik is. Op Internasionale Vrouedag, 8 Maart 2026, word die soeklig opnuut geskyn op die rol wat vroue in dié gemeenskap speel.
Met die Internasionale Dag vir Vroue en Meisies in Wetenskap, wat jaarliks op 11 Februarie waargeneem word, steeds vars in die geheue, belig Internasionale Vrouedag voorts die belangrikheid van vroue in dinamiese beroepsvelde soos wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde, en word daar veral gefokus op aspekte soos toegang, opleidingsgeleenthede en professionele erkenning.
Bewustheid begin reeds op skool
Ten einde ʼn groter bewustheid te kweek en jong meisies toe te rus as toekomstige voorlopers in die WTIW-velde, moet die kernuitdaging van identiteit en selfbeeld reeds op skoolvlak aangespreek word. Die hartseer realiteit is dat dit selde oor leerders se vermoë, in byvoorbeeld die wetenskapsklas, gaan en veel eerder oor die mate van blootstelling wat hulle aan eietydse rolmodelle – manlik óf vroulik – in die veld geniet.
In die lig hiervan speel selfpersepsie ʼn baie beduidende rol. Hierdie persepsie word oor tyd gevorm deur onder meer klaskamerervaringe, onderrigpraktyke en subtiele boodskappe oor wie in wetenskap “pas”.
In ʼn meertalige skolekonteks speel taal en toegang tot wetenskaplike diskoers toenemend ʼn bepalende rol. Wanneer wetenskap hoofsaaklik in ʼn tweede of derde taal aangebied word, en wanneer die gebruik van gespesialiseerde terminologie eerder afstand as begrip bevorder, kan leerders maklik tot die gevolgtrekking kom dat wetenskap nie vir húlle bedoel is nie. Taal word dan nie bloot ʼn medium vir leer nie, maar ʼn filter wat bepaal wie hulself as “wetenskaplik” ervaar al dan nie.
Onderwyspraktyke onder die soeklig
Die probleem lê nie by leerders nie, maar by hóé wetenskap soms aangebied word. Laasgenoemde verwys na onderrigpraktyke wat onbewustelik baie meisies én seuns laat voel dat die wetenskapsomgewing nie vir hulle bedoel is nie.
Wanneer wetenskap hoofsaaklik voorgestel word as vaste feite wat gememoriseer moet word, regte antwoorde wat vinnig gevind moet word óf inhoud sonder konteks, verloor baie leerders belangstelling. Dit is veral die geval met leerders wat reeds onseker is oor hul plek in hierdie vakke of loopbaanstrome.
Ironies genoeg staan hierdie praktyke in sterk kontras met die werklike aard van wetenskap. Wetenskap is immers nie nét formules en feite nie. Dit is vrae vra, probeer en weer probeer, foute maak, verbeelding gebruik, patrone raaksien en betekenis soek. Navorsing toon dat baie leerders makliker betrokke raak wanneer wetenskap as ʼn ondersoekende, kreatiewe en betekenisvolle praktyk aangebied word.
Die gevolgtrekking is dus nie nét dat leerders van nature meer aanklank vind by sulke benaderings nie, maar dat hierdie vorme van wetenskapsonderrig meer ruimte laat vir deelname, groei en behoort.
Die nalatenskap van swak selfpersepsie
Dit is belangrik om kennis te neem dat die nalatenskap van negatiewe selfpersepsie, veral in hoe meisies én seuns oor wetenskap en hulself dink, ʼn werklike uitdaging verteenwoordig. Om dié rede is dinamiese rolmodelle nodig.
En, nee. Die kragtigste rolmodelle is nie nét bekende wetenskaplikes nie, maar alledaagse wetenskaponderwysers – mans én vroue – wat deur hul onderwyspraktyk die wetenskapswêreld vir leerders ontsluit. Dit is juis in die klaskamer waar leerders daagliks, dikwels onbewustelik, leer wie aangemoedig word om vrae te vra, te probeer, te twyfel en te volhard. Wanneer onderwysers wetenskap as ʼn menslike, toeganklike en multidimensionele praktyk lééf, word hulle self die rolmodelle wat leerders help om hul eie plek in die wêreld van wetenskap raak te sien.
In baie Suid-Afrikaanse skole is daar beperkte hulpbronne, groot klasse en tydsdruk. Tog is inklusiewe wetenskaponderrig nie afhanklik van duur toerusting nie. Selfs eenvoudige klaskamerinisiatiewe, soos plakkate van vrouewetenskaplikes, kort klasgesprekke oor plaaslike en internasionale wetenskaplikes, of die bewustelike herdenking van dae soos die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in Wetenskap kan ʼn belangrike simboliese en pedagogiese rol speel.
Wanneer wetenskap aangebied word as ʼn menslike praktyk, een vol foute, debatte, kreatiwiteit en uiteenlopende kontekste, is ʼn merkbare verandering sigbaar. Skielik word daar ruimte geskep vir verskillende maniere van dink en wees. Laasgenoemde kan gebeur deur ondersoeke aan leerders se leefwêreld te koppel, sosio-wetenskaplike kwessies te gebruik om empatie en kritiese denke te ontwikkel, en kreatiewe uitdrukking te benut om begrip te verdiep. Sulke benaderings maak wetenskap minder intimiderend en meer toeganklik, nie net vir meisies nie, maar vir alle leerders.
Gebeurlikhede soos die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in Wetenskap asook Internasionale Vrouedag hoef daarom nie slegs datums op die kalender te wees wat dikwels ongesiens verbygaan nie. Dit kan waardevolle geleenthede skep vir volgehoue refleksie en nabetragting.
Wetenskaponderwysers dra ʼn besondere verantwoordelikheid: nie om meisies te oortuig om van wetenskap te hou nie, maar om ruimtes te skep waar hulle mag behoort en ingesluit voel. Wetenskap kan voortgaan sonder die sigbare deelname van vroue en meisies, maar dit sal sonder twyfel armer daarsonder wees. Meisies het op dieselfde wyse wetenskap nodig, nie as ʼn eksklusiewe loopbaandomein nie, maar as ʼn ruimte waar hulle stemme, idees en nuuskierigheid erken en verwelkom word. Dít begin nie op ʼn internasionale verhoog nie, maar in die klaskamer.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.