*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 6 Maart 2026
Geskryf deur Yolandi Groenewald, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia, asook ʼn gesoute en bekroonde omgewings- en sakejoernalis met twintig jaar se ervaring in die mediabedryf.
Toe Beeld en Rapport in Desember 2024 die laaste keer op die rak verskyn het, was dit vir baie lesers soos dood in die familie. Daar was ʼn leemte, en ʼn hunkering na dit wat was, en eintlik steeds moes gewees het.
En nou, uit die as verrys ʼn nuwe nasionale Afrikaanse koerant, Die Papier, wat op 6 Maart 2026 vir die eerste keer sy verskyning gaan maak – en elke Vrydag daarna. Daar is afwagting, maar ook ʼn mate van angstigheid. Gaan dié koerant dit regkry om meer te doen as bloot te oorleef. Gaan dit werklik floreer?
Beeld en Rapport se sluiting is verduidelik en geregverdig: sirkulasiesyfers val vinniger as die rand met ʼn “Weekend Special”-minister, adverteerders verdwyn soos mis voor die son en digitaal word as die toekoms gehuldig. Drukmedia is dood, die doodsberig is wyd gepubliseer en ons almal het dit onder oë gehad. Maar miskien is daardie berig voortydig gelewer, al glo die boontjietellers anders.
Die ontslape Afrikaanse koerante het nié rustig in hulle slaap heengegaan nie. Die een oomblik het Beeld nog sy 50ste verjaarsdag met groot opgewondenheid gevier, en die volgende oomblik was dit koebaai Meraai! Die sluiting van dié titels het vir baie werklik gevoel soos om ʼn geliefde hond wat siek is, maar nog baie blaf en byt het, summier uit te sit. Dié hond was steeds aan die gang en steeds nodig.
ʼn Mens kan nie stry teen die statistiek nie – drukmedia is inderdaad besig om te vergaan. Die realiteit is dat dit nog nie in sy graf is nie. Daar is nog baie skop in hierdie perd. Koerante het steeds sy lesers wat ʼn anker soek in ʼn chaotiese nuuswêreld.
Met Beeld en Rapport se heengaan het Afrikaanse joernalistiek soveel meer as net twee publikasies verloor. Dit het ʼn stem verloor waarin die gemeenskap homself kon hoor én sien: sy gebreke, sy oorwinnings, en sy eie struwelinge. Nou kom Die Papier, en sy eerste uitgawe beteken óók veel meer as net ʼn beskeie, onsekere eerste poging. Dit verteenwoordig iets radikaal in 2026: geloof in die voortgesette krag van die drukmedia.
Hierdie geloof is nie naïef nie. Dit word wêreldwyd deur feite ondersteun.
Ten spyte van twee dekades van digitale ontwrigting, bly drukmedia merkwaardig veerkragtig. In Duitsland het koerantsirkulasie gedaal, maar koerantintekenaars genereer steeds die meerderheid van inkomste vir groot titels soos Süddeutsche Zeitung en Die Zeit. Beeld en Rapport was reg voor hulle drukdood steeds ekonomies winsgewend, al was dit heelwat minder as in hulle glorietyd.
In Amerika verdien The New York Times steeds honderde miljoene dollars per jaar uit hul koerante alleen – nie omdat lesers geen alternatief het nie, maar omdat druk iets bied wat digitaal nie kan nie. Dit bied blywendheid, gesag en fokus.
Digitaal is miskien onmiddellik, maar druk is doelbewus.
Digitale nuus is nimmereindigend, word vinnig weggegooi en is maklik om te ignoreer. In druk word nuus fyn gekeur vir elke uitgawe. Stories se nuuswaarde word geweeg. En in vandag se wêreld is dit steeds waar dat wanneer iets in druk verskyn, voel dit, en dra dit dikwels méér gewig. Hierdie onderskeid is van kritieke belang in ʼn era van algoritmiese manipulasie, fopnuus en die aandagafleibaarheid van gehore.
Nóg ʼn feit is dat die drukmedia nie nét in die buiteland oorleef nie, maar ook floreer in spesifieke nismarkte. Regoor Europa het kleiner, onafhanklike koerante gesorg dat hulle steeds groei deur op lojale, betalende lesers te fokus eerder as om massiewe digitale verkeer na te jaag.
In Suid-Afrika self geniet gemeenskapskoerante – van plattelandse weekblaaie tot meer gespesialiseerde publikasies – steeds lojaliteit. Boere lees steeds Landbouweekblad. Sakeleiers lees steeds die drukuitgawe van die Financial Mail. Hierdie lesers is nie onbewus van digitale alternatiewe nie. Hulle kies steeds druk.
Afrikaanse lesers is nie anders nie. Vir geslagte lank was Beeld en Rapport nie bloot bronne van inligting nie, maar kulturele ankers. Hulle het skolerugby, dorpskandale, nasionale politiek en internasionale krisisse met dieselfde erns behandel. Hulle het vir Afrikaanse lesers gesê: Jy maak saak in hierdie land se storie wat geskryf (moet) word.
Toe Beeld en Rapport verdwyn, het iets anders saam met hulle verdwyn – nie net inligting en nuus nie, maar daardie gevoel dat Afrikaanssprekendes, veral in die Noorde van ons land, raakgesien word. Die Papier skep nou weer die geleentheid vir hierdie gemeenskap om ʼn stem te kry. Daar is egter ʼn groot maar. Drukjoernalistiek oorleef nie op sentiment en nostalgie nie. Joernaliste se salarisse word nie betaal met goeie wense en goeie bedoelinge nie. Iemand moet geld uit hulle beursie haal en die koerant koop.
As Afrikaanse lesers werklik glo hul taal verdien hulle eie koerant moet hulle wys dat hulle bereid is om hul hande in hul eie sakke te steek. Elke keer as hulle die koerant koop, stem hulle inderwaarheid vir die voortbestaan en uitbouing van Afrikaanse joernalistiek.
Vir Die Papier om te floreer beteken dit ook dat jong lesers weggerokkel moet word van aanlyn nuus en dat hulle opgewonde oor die drukmedia sal moet word. Sosiale media het ʼn besliste rol om hierin te speel ten einde jong lesers in te trek na die koerant. Relevante ondersoekende joernalistiek sal voorts help om te verseker dat kritiese gesprekspunte hierdie digitale verslaafde generasie weer by ʼn gedrukte koerant uitkry. Stories oor hulle wêreld, wat hulle raak, en die dinge waarvoor hulle omgee sal hulle aan die lees kry.
Die grootste mite van die digitale era is dat joernalistiek se agteruitgang deur tegnologie veroorsaak word. Die eintlike boosdoeners is die gebrek aan geloofwaardigheid en moed wat in hierdie nuwe joernalistieke speelveld uitgekalwe word. Koerante soos Die Papier moet met gesaghebbende en uitstekende joernalistiek hierdie verlore vertroue herbou in die loopgrawe van joernalistiek.
Die Papier is nie ʼn tree in die rigting van dit wat heengegaan het nie. Dit wys dat Afrikaanse lesers steeds verdien om ernstig opgeneem te word en dat hul stories steeds saak maak.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.