*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 25 Februarie 2026
Geskryf deur Henk Schalekamp, voorsitter van die Akademia-direksie.
Wanneer Akademia van sy fundamentele boustene* praat, word daar verwys na die vaste basis wat die grondslag van dié instelling se wese vorm. Om hierdie fundamentele stene in die instelling te gaan soek, is soos om na die hoeksteen van ʼn gebou te gaan soek. Dit is die bousteen wat die instelling anker en rig.
Om die rede is Akademia se fundamentele boustene netjies verpak en beskryf in sy hoeksteen, naamlik sy bestaansrede – Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.
Akademia se fundamentele boustene is sy Christelike grondslag, sy omhelsing van die klassieke tradisie van universiteitswese, sy onafhanklikheid en Afrikaans as draer van denke en kultuur. Hierdie boustene is nie bykomstig nie; hulle is gesamentlik én afsonderlik bepalend.
Wanneer ʼn mens kritiese stene van ʼn gebou, soos sy hoeksteen, verwyder, begin die gebou kraak en inmekaarval. Dit is nie soos om deur goeie beplanning en ontwerp verbeterings aan te bring nie. Jy verswak sy struktuur en veroorsaak dat die hele gebou mettertyd inmekaar sal tuimel. Só is dit dan ook met die fundamentele boustene van Akademia – verwyder net een, en die aard van die hele instelling sal verander. Jy plaas dan die instelling op ʼn weg verwyder van sy oorspronklike rede van bestaan en die instelling sal mettertyd, net soos ʼn gebou, verkrummel.
Maar hoe lyk hierdie fundamentele boustene van Akademia?
Christelike grondslag: Akademia se Christelike grondslag verskaf die lens waardeur die wetenskap bestudeer word en rig die akademiese lewe. Dit bely dat kennis nie losstaan van die waarheid, goedheid en skoonheid van God se skeppingsorde nie. Dit plaas die mens –student en dosent – binne hierdie morele en geestelike orde.
Klassieke tradisie: Met dié tradisie word Akademia gerig met die wete dat die universiteitswese méér is as ʼn sentrum van kennis. Dit is ʼn plek waar die hele mens gevorm word – denke én hart. Die strewe is nie net bloot na kennis nie, maar na wysheid; nie net na ʼn kwalifikasie nie, maar na ʼn roeping.
Onafhanklikheid: Hierdeur word verseker dat Akademia nie onderhewig is aan wisselende druk of tydelike ideologiese strominge nie. Institusionele selfstandigheid is die strukturele waarborg dat Akademia getrou kan bly aan sy fundamentele boustene.
Vir Afrikaans: Moedertaalonderrig bevestig dat diepgaande denke die beste gedy in die taal waarin ʼn mens droom, bid en redeneer. Afrikaans is vir Akademia nie bloot ʼn medium van kommunikasie nie, maar ʼn draer van kultuur, erfenis en gemeenskap. Vanuit en vir hierdie taal- en kultuurgemeenskappe word daar gebou aan ʼn akademiese ruimte wat intellektueel volwaardig en kultureel geanker is.
Met hierdie fundamentele boustene is Akademia opgerig en gerig om die toekoms tegemoet te stap en verder te bou vir toekomstige geslagte.
* Akademia se jaartema vir 2026 is, Boustene vir ons toekoms.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.