*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 21 Februarie 2026
Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, en prof. Rudi Pretorius, ereprofessor: Geografie aan Unisa.
Elke jaar bevestig die uitkoms van die matriekeindeksamen dieselfde hardnekkige tendens, naamlik dat elektriese stroombane een van die mees problematiese onderwerpe in fisiese wetenskappe is. Alhoewel leerders formules kan manipuleer, berekeninge kan uitvoer en simboliese notasie herken, ontbreek hulle dikwels die onderliggende konseptuele begrip wat nodig is om antwoorde te interpreteer, te verduidelik en te regverdig.
Hierdie spanning kan nie nét uitsluitlik voor die deur van die abstrakte aard van die inhoud gelê word nie, maar is verweef met die werklikheid dat wetenskaplike vaktaal – veral in die Suid-Afrikaanse skolekonteks, grotendeels in ʼn tweede of selfs derde taal aangeleer word. Gedagtig aan Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie 2026, word die soeklig opnuut geskyn op die waarde van moedertaalonderrig soos dit verband hou met begripsvaslegging en betekenisvorming.
Die tema van vanjaar se internasionale viering fokus op meertaligheid en hoe onderwys, binne hierdie taalryke milieu, die jeug vir die toekoms voorberei in ʼn wêreld wat gekenmerk word deur die toenemende voorkoms van migrasie en snel tegnologiese ontwikkeling. Die vrae wat egter gevra moet word, is hoe leerders ʼn vak soos wetenskap in ʼn tweede taal moet aanpak en hoe onderrigpraktyke gedagtig hieraan daar moet uitsien?
Wetenskap as ʼn unieke taal opsigself
Wetenskap het sy eie unieke taal. Dit is abstrak, presies en logies gestruktureer. Begrippe soos stroom, potensiaalverskil en energie-oordrag verwys nie na tasbare ervarings nie, maar na modelle en analitiese verhoudings wat kognitief gekonstrueer moet word. Om wetenskap te leer, vereis daarom dat leerders oor die voldoende taalvaardigheid in die taal van onderrig moet beskik. Dit noodsaak leerders verder om effektief binne hierdie taalraamwerk te kan redeneer oor wetenskaplike denke en abstraksie, idees te kan verbind, oorsaak en gevolg te kan begryp, en betekenis te kan verleen aan dikwels diep analitiese prosesse.
Wanneer wetenskap in ʼn tweede of derde taal onderrig word, loop leerders die risiko om aan kognitiewe oorlading blootgestel te word. Aan die een kant moet hulle die vaktaal bemeester en ontsyfer, en aan die ander kant moet hulle betekenis verleen aan konsepte deur van gespesialiseerde vaktaal gebruik te maak. Die gevolg hiervan is dat baie leerders dan eerder terugval op die blote memorisering van wetenskaplike beskrywings. Woorde word onthou sonder dat konsepte werklik vasgelê word. Hierdie leer sonder begrip veroorsaak dat leerders die inhoud nie werklik verstaan nie, en daarom toepassingsfoute maak.
Moedertaal as ʼn belangrike boublok van begripsvaslegging
Moedertaal speel ʼn kritiese rol in die begripsvasleggingsproses. Navorsing toon konsekwent dat leerders konsepte beter begryp en dieper vaslê wanneer hulle dit eers in hul moedertaal kan verken. Taal verteenwoordig in hierdie opsig ʼn bekende denkraamwerk waarin nuwe idees gekultiveer kan word deur wetenskaplike terminologie sinvol te integreer, eerder as om dit meganies te memoriseer.
Die verskuiwing van die fokus vanaf “ek kan die definisie opsê” na “ek kan die definisie buite die klaskamer toepas” word moontlik gemaak deur gebruik van die taal waarin leerders gevorm is. Hierdie begronding help om hul identiteit as denkers en wetenskaplikes te vorm en om konsepte op ʼn persoonlike en betekenisvolle wyse te verwoord.
Taal as ʼn begripsboublok
In die Suid-Afrikaanse konteks word hierdie verskynsel duidelik in meertalige wetenskapklaskamers waargeneem. Onderwysers, wat die kognitiewe en semiotiese rol van taal in wetenskapsonderrig verstaan, pas toenemend meertaligheidspraktyke in hul klaskamers toe.
In hierdie benadering word leerders aangemoedig om idees aanvanklik in hul moedertaal te bespreek, en konsepte aan mekaar te verduidelik met alledaagse voorbeelde. Gevolglik word daar geleidelik oorgegaan na die gebruik van formele wetenskaplike vakterminologie. Hierdie strategie ondersteun konseptuele begrip, betekenisgewing en die integrasie van vaktaal terwyl leerders se unieke denkraamwerke en ontwikkelingsvlakke in ag geneem behoort te word.
Die impak van hierdie tipe benadering op leerderprestasie blyk beduidend te wees, veral waar onderwysers doelbewus gebruik maak van taal om begrip te ondersteun. Wanneer leerders die vryheid gebied word om konsepte eers in hul moedertaal te bemeester en betekenisvol te verbind aan formele wetenskaplike terminologie, onthou hulle nie net wat hulle geleer het nie, maar is dit ook makliker vir hulle om dit buite die klaskamer en sonder die gebruik van handboeke toe te pas en te gebruik. Op hierdie manier ondersteun taal gevolglik nie net eksamenprestasie nie, maar bou ook leerders se vermoë om konsepte in nuwe situasies te gebruik verder uit.
Doelbewuste moedertaalondersteuning het verskeie positiewe gevolge, waaronder:
die bevordering van die daarstelling van betekenisvolle ruimtes – soos wetenskapsekspo’s – waar leerders hul ondersoeke, argumente en bevindings kan verwoord.
Taal as ʼn brug na begrip
Die kernvraag is of huidige wetenskaponderrigpraktyke werklik begrip dien, en of dit nie net vaardigheid in sekere tale en memoriseringstegnieke toets nie?
As ons ernstig oor vooruitgang, prestasie en volwaardige toegang tot wetenskap is, moet ons die gebruik van moedertaal erken as die grondslag waarop wetenskaplike vaktaal en begrip gebou word. Op hierdie manier dien moedertaal as ʼn brug wat leerders verbind aan begrip, argumentering en toepasbaarheid, en uiteindelik aan die vermoë om hul kennis oor te dra binne en buite die klaskamer. Taal is nie ʼn bykomstigheid tot die leer van wetenskap nie, maar die middel waardeur abstrakte idees betekenis verkry.
Wetenskap is soveel meer as ʼn versameling van feite, wette en teorieë. Dit is ʼn multimodale praktyk. Dit sluit ondersoekende aktiwiteite in, die ontleding en interpretasie van grafieke en tabelle, die gebruik van formules en berekeninge, en – krities belangrik – die vermoë om betekenis aan hierdie voorstellings te verleen. ʼn Grafiek “praat” nie vanself nie en ʼn formule verduidelik niks sonder interpretasie nie. Leerders moet besef hoe verskillende vorme van kommunikasie in die wetenskapklaskamer met mekaar verband hou en saam betekenis binne ʼn wetenskaplike raamwerk vorm.
Net so behoort taal in wetenskaponderrig nie gereduseer te word tot lees en skryf nie. Wetenskaplike betekenis word ook visueel, simbolies en diagrammaties oorgedra. Taal, verbaal én visueel, funksioneer dus as koppelingsvlak tussen ervaring en abstraksie, tussen leer en toepassing. Wanneer hierdie hulpbronne nie doelgerig gekoppel word aan leerders se taal- en ervaringswêreld nie, bestaan die gevaar dat wetenskap gefragmenteerd en moeilik toeganklik bly.
Wetenskaplike vaktaal vorm die grondslag van begrip, asook die leerder se identiteit as volwaardige denker. Net soos Plato in die Antieke Griekse beskawing, redenasie en deduksie gebruik het om nuwe kennis te ontwikkel, moet leerders geleenthede kry om hul eie idees te formuleer, te bespreek en te verdedig. Debatvoering, argumentering en kommunikasie van idees behoort nie bloot toevalling by assesseringsaktiwiteite ingesluit te word nie, maar moet deel vorm van die daaglikse praktyk om wetenskap te leer. Wanneer taal hierdie rol vervul, nie net om kennis oor te dra nie, maar om denke en identiteit te vorm, kan leerders betekenisvolle verbande vaslê tussen konsepte, tussen verskillende voorstellings, en selfs buite die klaskamer toepas wat hulle leer.
Wetenskap floreer waar betekenis gedy. En betekenis begin in die taal waarin ons dink, die taal wat ons vorm, ons identiteit as denkers bou, en ons in staat stel om konsepte te interpreteer, te bespreek en toe te pas.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.