*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Moedertaal: Die vrugbare grond waarin kennis, geloof en roeping wortelskiet

Gepubliseer op:  21 Februarie 2026

Op Internasionale Moedertaaldag word die wêreld opnuut herinner aan ʼn eenvoudige, maar diepgaande waarheid: Taal is soveel meer as net ʼn kommunikasiemiddel. Dit is ʼn vormende krag, wat nie net gekoester en gekultiveer behoort te word nie, maar ook met verantwoordbaarheid uitgebou moet word.

Moedertaal as die oorsprongsbron van menswees

Prof. Danie du Plessis, dekaan: Fakulteit Geesteswetenskappe aan Akademia, stel ʼn persoon se moedertaal – Afrikaans in die geval van dié hoëronderwysinstelling – gelyk aan die oorsprongsbron van intellektuele toerusting, ideeontwikkeling en selfontdekking. “Dit is die vrugbare grond waarin bewustheid van geloof, kennis en roeping ontkiem en diep wortelskiet,” sê Du Plessis en voeg by dat hierdie bewustheid versterk word by wyse van alledaagse oomblikke. “Jou moedertaal gedy in elke oomblik van jou menswees: van die samesyn om die etenstafel, gewyde oomblikke in die kerk, op die plaaswerf, in die klaskamer en in die werksplek. Dit is ʼn hartstuiste waar jy jouself ten volle kan uitleef, jou volle potensiaal kan verwesenlik en jou roeping heelhartig en toekomsgerig kan nastreef. Moedertaal gee jou wêreld vlerke en is daarom ʼn fundamentele bousteen vir sukses,” sê Du Plessis.

ʼn Fundamentele bousteen vir sukses

Die stelling word dikwels gemaak dat Afrikaanse studente eerder hul naskoolse opleiding in Engels moet voltooi vanwee die geglobaliseerde aard van die beroepswêreld. Hierop antwoord Du Plessis dat moedertaalonderrig nie as ʼn nostalgiese keuse gesien moet word nie, maar eerder as ʼn strategiese belegging. “Wêreldwye navorsing toon konsekwent, in teenstelling met die wanopvatting dat moedertaalonderrig isolerend van aard is, dat dit juis meertaligheid bevorder. ʼn Stewige grondslag in enige moedertaal funksioneer daarom soos ʼn brugpilaar: Hoe sterker dié steunpilaar is, hoe verder kan die brug na ander moontlikhede (tale) uitstrek,” verduidelik Du Plessis.

Hy gaan voort deur te sê dat binne ʼn werksomgewing waar Engels en ander internasionale tale as ʼn mededingingsvoordeel gesien word, moedertaalonderrig kognitiewe, emosionele en kulturele boustene tot die grondslag voeg. Hierdie boustene bevorder op ʼn doelgerigte wyse dieper begrip, kritiese denke en vindingryke probleemoplossing. “Sukses, sonder ʼn stewige moedertaalfondasie, is soos om ʼn gebou op sand te bou – die struktuur kom dalk funksioneel voor, maar die afwesigheid van noodsaaklike boustene laat dit wankelrig,” meen Du Plessis.

Moedertaalonderrig: ʼn toekomsgerigte geskenk

Indien daar nie ʼn voortgesette en toegewyde fokus op die verdere vestiging en uitbouing van moedertaalonderrig is nie, meen Du Plessis dat dit soos ʼn verhaal van verspeelde potensiaal sal lees. ʼn Verhaal met hartseer en ingrypende langtermyngevolge nie net vir individue nie, maar ook vir gemeenskappe.

Hierbenewens sal gemeenskappe ʼn verlies aan kulturele identiteit, linguistiese veerkragtigheid en kreaktiwiteit in die gesig staar. “Tale soos Afrikaans, wat histories ontwikkel het uit alledaagse gebruik, dra die unieke wêreldbeskouing en waardes van sy sprekers oor en indien daar nie daadwerklike pogings aangewend word om die taal te ontwikkel en verder uit te bou nie, sal nie net die taal sneuwel nie, maar ook die hele manier van dink, voel en verbondenheid van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

“Moedertaalonderrig is ʼn belegging met sukses, verdiepe begrip en toekomsaanpasbaarheid as dividente lewer. Op Internasionale Moedertaaldag vier Akademia opnuut Afrikaans as die goue draad wat die denke én hart van die instelling rig en verbind. As ʼn trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling verbind Akademia homself opnuut tot die aktiewe uitbouing van die Afrikaanse universiteitswese en bou die instelling só ʼn hoopvolle en vrye toekoms,” sluit Du Plessis af.

Prof. Danie du Plessis, dekaan: Fakulteit Geesteswetenskappe aan Akademia, is van mening dat moedertaalonderrig die vrugbare grond verteenwoordig waarin kennis, geloof en roeping toekomsgerig wortelskiet.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.