*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Die 2026- akademiese jaar verteenwoordig ʼn opwindende vormingsavontuur – Marthinus Visser

Gepubliseer op:  4 Februarie 2026

Personeel en studente van Akademia se Pretoria-kampus het op Maandag 2 Februarie 2026 die aanvang van die nuwe akademiese jaar by die Voortrekkermonument gevier. Hierdie geleentheid spreek nie nét tot die instelling se roepingstrewe na akademiese uitnemendheid en vorming nie, maar óók tot sy volgehoue verbondenheid tot die Afrikaanse universiteitswese.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, kondig die akademiese opening méér as net nóg ʼn jaar van klasgee, begeleiding, studie en assessering aan. “Elke lid van die Akademia-familie het in 2026 die geleentheid om sy of haar storie opnuut te skryf, en daarom beskou ek elke nuwe akademiese jaar as die vertrekpunt van ʼn gróót avontuur,” sê Visser.

Gedagtig aan die instelling se Groot Boeke-program* en The Hobbit deur JRR Tolkien (wat personeel en eerstejaarstudente saam lees), beskryf Visser bogenoemde avontuur as ʼn impulsiewe, effens naïwe, onsekere, dog opwindende uitroep veral wat nuwe studente betref. Om die waarheid te sê, meen Visser dat daar baie lesse te leer is van dié Westerse kernteks se hoofkarakter, Bilbo Baggins.

Aangename kennis, Bilbo Baggins

Visser stel Baggins as ʼn vredeliewende en gerespekteerde hobbit voor, wat homself in die skilderagtigee woongebied, Shire, gevestig het. Hier leef hy in gemak en veiligheid terwyl hy alombekend is vir sy hoflikheid, sy belesenheid, sy welvaart en ook sy voorspelbare karakter. Binne hierdie millieu het Baggins nie veel nodig nie, en het hy ʼn afkeer in enigiets gevaarliks of onvoorspelbaar. In kort: die karakter versinnebeeld die menslike toestand. Hierdie toestand word dan ook in Baggins se leefruimte weerspieël met kaste tot oorlopens toe vol met kos en bestaansmiddele, ʼn fokus op gemak en boekrakke wat kreun onder leesstof.

Baggins is egter nuuskierig van natuur en beskik oor ʼn latente waagmoed wat wag om na vore te tree, en in die boek tree Gandalf en die dwerge na vore as katalisators in dié verband.

Só vergelyk ek en jy met Baggins

Visser meen dat Baggins se leefstyl en karakter gedagtig is aan die lewe van vandag en die manier waarop mense leef, veral wat die materiële en die psigiese betref. “Tolkien tel die spieël meesterlik op en dit is nie moeilik om onsself in Baggins se karakter raak te sien nie,” verduidelik Visser. Hy voeg by dat dit ʼn natuurlike reaksie is om veilig en gekoester binne ʼn gemaksone te voel.

“Die vraag wat ons onsself moet afvra is daarom: ‘Waarom kom ons om te studeer?’ Is dit om kennis en vaardighede bymekaar te maak om ons leefwêreld (hobbit-woning) nog verder te verfraai met middele en boeke?” vra Visser. Anders gestel, vra Visser of studente by Akademia aansluit om hul eie denke en werklikheidsbesef te verdiep en vanuit die gemak van hul eie denkwêrelde die toekoms te benader.

Gelukkig, volgens Visser, is daar ʼn wending in die Baggins-storie wanneer die karakter die reis saam met Gandalf en die dwerge onderneem. En dié reis verteenwoordig volgens Visser die epiese draaipunt en vormingsavontuur wat tot groei, of in Akademia-terme, tot vorming lei.

Só lyk vorming in aksie

Maar hoe lyk vorming? Weereens, gedagtig aan die Baggins-karakter, sien vorming soos volg daar uit:

  • om dapper vanuit jou gemaksone te beweeg;
  • om afhanklikheid by wyse van selfstandigheid en vindingrykheid prys te gee; en
  • om selfgerigtheid en suinigheid te vervang met die deugde van selfloosheid en diensbaarheid.

“Deugde behels veel meer as net karakter,” sê Visser en voeg by dat vorming slegs kan plaasvind as ʼn persoon se karakter getoets word.

Jy het ʼn keuse om te maak

Visser daag elke lid van die Akademia-familie – en veral die eerstejaarstudente – uit om in die nuwe akademiese jaar ʼn keuse uit te oefen: Bly in jou gemaksone of onderneem ʼn denk- en vormingsreis saam met die instelling. “Indien jy besluit om op hierdie avontuur te gaan en jouself en jou karakter oop te stel vir vorming sal die beloning lewenslank en baie groot wees. Wees vanjaar ʼn avonturier en swaai die Akademia-vlag trots en hoog as ʼn doelgerigte, toekomsgedrewe Fontie!” sluit Visser af.

*Akademia het in 2024 die Groot Boeke-projek van stapel gestuur. Dié projek behels dat studente – ongeag hul studierigting – aangemoedig word om die Groot Boeke van die Westerse beskawing te lees. Deur studente behoorlik in die klassieke tradisie te anker en hulle aan die groot vrae oor die lewe bloot te stel, word hulle in staat gestel om die hede en die toekoms op ʼn begronde manier aan te pak.

Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia, tydens die instelling se amptelike akademiese opening. Visser daag alle lede van die Akademia-familie uit om hulself in 2026 dapper oop te stel vir ʼn vormingsavontuur.
Die instelling se amptelike akademiese opening is by die Voortrekkermonument gehou en is deur studente en personeel bygewoon.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.