*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademiese opening in die historiese Toringkerk: ʼn gepaste begin vir die Paarl-kampus

Gepubliseer op:  3 Februarie 2026

Die geskiedkundige eerste akademiese opening van Akademia se Paarl-kampus het op Dinsdag 3 Februarie 2026 plaasgevind.

Dié plegtige geleentheid is in die historiese Toringkerk in die Paarl gehou. Indrukwekkende orrel- en vioolmusiek, ʼn statige akademiese optog en die teenwoordigheid van dié kampus se eerste studente- en personeelpioniers, het verseker dat die akademiese jaar op ʼn baie gepaste manier begin.

Dit is interessant om te weet dat Akademia, wat vanjaar sy veertiende bestaansjaar vier, se eerste amptelike akademiese opening op dié datum in 2020 gehou is. Destyds is die geleentheid slegs deur personeel bygewoon en regstreeks aan studente wat via die nauurse afstandsmodel hul studies aangepak het, uitgesaai. Terugskouend was hierdie geleentheid simbolies van aard en het dit toekomsgedrewe na die instelling se uitbreiding en groei verwys. Die Paarl se opening op dieselfde datum ses jaar later verbind die instelling se verlede en hede op ʼn betekenisvolle wyse en is gedagtig aan Akademia se leuse, Ad futurum per fontes, vanuit die bronne na die toekoms.

Meer as net ʼn studietuiste

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, het in sy toespraak verwys na die 2026-jaartema: Boustene vir ons toekoms, en dit beskryf as ʼn oproep tot diep leer en kritiese vorming in diens van die toekoms. Op sy beurt het prof. Gawie du Toit, hoof: Paarl-kampus, gesê dat die akademiese opening nie nét die nuwe akademiese jaar inlui nie, maar ook betekenis en lewe aan die kampus gee. Hierdie nuwe energie en bestaansreg geskied volgens Du Toit voort op die grondslag wat reeds lank vrugbaar is vir die Afrikaanse taal sowel as die Christelike geloof en denke.

Du Toit het studente herinner dat, getrou aan die visie van Akademia om ʼn akademiese tuiste te skep waar denke én hart gevorm word vir ʼn vrye toekoms, ʼn tuiste nie bloot net ʼn fisiese plek is nie. Die Paarl-kampus, soos ook die Pretoria-kampus, is ʼn ruimte van behoort, verbondenheid, oriëntering en groei.

“Studente betree nie net ʼn kampus nie, maar ʼn vormingsruimte. Wat hier van julle gevra word, is nie net prestasie nie, maar betrokkenheid; nie net akademiese kennis nie, maar wysheid; nie net sukses nie, maar karakter,” sê Du Toit. Hy het personeel gemotiveer om erfenisbouers te wees wat die toekoms daagliks in hul dagtaak bou, hetsy in lesinglokale, tydens assesserings, gesprekke en in dienslewering.

Elke nuwe akademiese jaar is die begin van ʼn grootse avontuur

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, neem die karakter van die nuwe akademiese jaar saam deur dit met die begin van ʼn groot avontuur te vergelyk. “Die akademiese opening is soos daardie oomblik wanneer jy op ʼn avontuurtog vertrek. Die belofte van ontdekking, nuwe ervarings en selfs moontlike gevaar veroorsaak afwagting en opwinding. Vandag begin dié jaar se avontuurreis van die denke,” meen Visser.

Die dag is afgesluit met ʼn gesamentlike ete, ʼn tradisie eie aan Akademia, en só is die nuwe akademiese jaar met samehorigheid en gedeelde vreugde ingelui.

Die akademiese optog verleen swier en gravitas aan die akademiese openingsgeleentheid.
Byna 200 studente en personeel het in die Toringkerk vir die akademiese opening byeengekom.
Fonties en personeel geniet saam middagete as deel van ʼn eiesoortige Akademia-tradisie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.