*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Paarl-Fonties: ʼn Dawerende ja vir geskiedkundige intree-eerstejaarskamp

Gepubliseer op:  4 Februarie 2026

Akademia se eerstejaarskamp is jaarliks ʼn hoogtepunt; en verteenwoordig ʼn onvergeetlike tyd van kennismaking, vorming en vriendskap. In kort, ʼn tyd waarin die boublokke vir studentwees na behore neergelê word. In 2026 is dié kamptradisie, wat reeds sedert 2020 in Pretoria gedy, vir die eerste keer vir studente van die Paarl-kampus aangebied.

Meer as 100 opgewonde Paarl-pioniers het op Dinsdag 27 Januarie hulle plek op busse ingeneem, gereed vir ʼn onvergeetlike paar dae vol avonture, nuwe verhoudings en persoonlike groei. Die kamp is in die skilderagtige Franschhoek-omgewing aangebied by die Karmel-kampterrein.

Volgens dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake by Akademia, is die eerstejaarskamp ʼn unieke geleentheid waar studente ware Fontie-wees ontdek en ook lewenslange vriendskappe bou, terwyl hulle natuurlik hope pret het.

Die kampprogram het ʼn sorgvuldige balans gehandhaaf tussen aktiewe buitelugaktiwiteite, vormende gesprekke, kampvuurtradisies en diep gesprekke oor identiteit, gemeenskap en die studentereis. Hoewel die kerntradisies, soos gevestig tydens die Pretoria-kampe, behoue gebly het – soos die geliefde FAK-saamsingaand – is die kamp met Wes-Kaapse karakter en uniekheid aangebied teen die pragtige agtergrond van die berge.

Die 2026-jaartema, Boustene vir ons toekoms, is sorgvuldig deur al die aktiwiteite verweef. Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe in die Paarl, sê: “Die sukses van die eerste kamp in die Paarl – in terme van bywoningsgetalle én die positiewe inkoop van studente – beteken vir Akademia geweldig baie. Dit bevestig dat daar ʼn groot behoefte bestaan aan ʼn gesonde, opbouende, Afrikaanse en waardetoevoegende studentelewe in die Wes-Kaap. Dit was vir ons besonders om te sien hoe die Paarl-studente van meet af belangstelling toon in ons bestaansrede en in die unieke Akademia-manier van doen.”  

Die program het vir ʼn goeie dosis motivering en inspirasie gesorg met sessies deur dr. Coetzee, sowel as ander personeel wat met studente gesels het oor temas soos Akademia se groter hoekom, verhoudings, en die bou van ʼn studente-identiteit in ʼn nuwe konteks. Studente het ook met oorgawe aan die spanbouaktiwiteite en kreatiewe werksessies deelgeneem, alles met die doel om mekaar beter te leer ken en ʼn gevoel van verbondenheid te ontwikkel.

Hierdie kamp sal in die geheue van die eerste Paarl-Fonties voortleef as die begin van ʼn besonderse studentereis. Dié geleentheid het ʼn stewige grondslag gelê vir die unieke studentekultuur wat op die Paarl-kampus bot en die kampusoriëntering wat voorlê.

Hou gerus Akademia se sosialemediaplatforms dop vir foto’s en stories van hierdie geskiedkundige eerste eerstejaarskamp in die Paarl, asook vanjaar se Pretoria-eerstejaarskamp.

Meer as 100 eerstejaar-Fonties het die eerste eerstejaarskamp vir die Paarl-kampus bygewoon.
Herinneringe is geskep en vriendskappe is gevorm.
Fonties het deelgeneem aan ʼn verskeidenheid van spanbouaktiwiteite, soos muurklim, ʼn hindernisbaan en swem in die natuurlike poele op die terrein.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.