*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Om te bou: Boustene vir ons toekoms

Gepubliseer op:  27 Januarie 2026

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Akademia se jaartema vir 2026, Boustene vir ons toekoms, bring ons by die vraag: Wat beteken dit “om te bou”?

Ter wille van ʼn antwoord kan dit help om tussen twee uiteenlopende opvattings van bou aan universiteite te onderskei. Ons verwys na die verskil tussen ʼn sogenaamde woke en ʼn konserwatiewe wyse van bou. Waarna verwys elk van hierdie benaderings? Ironies genoeg lê die verskil opgesluit in die twee uiteenlopende wyses waarop universiteite oor die verlede nadink.

Volgens woke-universiteite kan hulle slegs bou as hulle van die verlede (veral die bronne van die Westerse verlede) afskeid neem. Senator Jesse Jackson, ʼn afgetrede senator in die Amerikaanse senaat, het dit dekades gelede verwoord toe hy gesê het: “Hey, hey, ho, ho, Western Civilization has got to go.”

Die wese van die woke-standpunt oor bou is dat die aandag weg van die verlede na die toekoms gedraai moet word – in die besonder na ʼn soort utopiese toekoms van totale gelykheid en inklusiwiteit.

ʼn Kritiese vraag aan wokeness is egter of hul afskeid van die verlede nie ironies genoeg die verbintenis tot ʼn goeie toekoms ondermyn nie. Is ʼn beroep op die verlede en sy bronne (Akademia se drie stede, naamlik Jerusalem, Athene en Rome) nie ʼn belangrike voorwaarde om ʼn goeie toekoms te bou nie?

En met ʼn goeie toekoms verwys ons onder meer na ʼn toekoms wat gekenmerk word deur dinge soos geloof, hoop, regverdigheid, wysheid, matigheid en dapperheid – alles dinge wat ons vanuit die ou bronne ontleen.

Dit bring ons by die konserwatiewe opvatting van bou. Ter wille daarvan om hierdie dikwels misverstane woord te begryp, moet ons tussen ten minste twee verskillende konserwatiewe benaderings onderskei, naamlik ʼn reaksionêr-konserwatiewe en ʼn dinamies-konserwatiewe benadering. Kom ons verwys eers na die reaksionêre benadering.

Die reaksionêr-konserwatiewe denke is in vele opsigte die blote negatiewe spieëlbeeld van wokeness. As wokeness alle klem op die toekoms plaas, plaas die reaksionêre konserwatief alle klem op die verlede.

In die reaksionêr-konserwatiewe denke beteken “bou” om na ʼn ideale tydperk uit die verlede terug te keer en dit weer te herbou. Die oeroue voorbeeld is dié konserwatiewe wat ná die Franse Rewolusie (in antwoord op die vernietigende gevolge daarvan) gepoog het om letterlik na die verlede terug te keer en die ou monargie te herstel.

ʼn Eerste probleem met die reaksionêre benadering is dat die geskiedenis eenvoudig veels te ingewikkeld is om dit netjies na die verlede terug te stuur. Nostalgiese terugkeer-projekte vra die onmoontlike van ons as beperkte wesens.

Tegelyk moet ook beklemtoon word dat die geskiedenis veels te ingewikkeld is om dit soos in wokeness na ʼn perfekte utopie van gelykheid en inklusiwiteit te stuur. Buiten dat dit telkens misluk, geskied dit bykans sonder uitsondering met reusegeweld.

Nog ʼn rede waarom ons nie na ʼn onveranderlike verlede kan terugkeer nie, is dat ons nie die verlede anders kan verstaan as in en deur ons eie tydgebonde vertolking daarvan nie. Die verlede is m.a.w. nie iets onveranderlik waarby ons sonder meer kan aansluit nie, maar eerder iets wat voortdurend (na gelang van ons eie historiesgebonde vertolking daarvan) verander.

En dit is ook goed so, want in en deur die eietydse vertolking van die verlede bly dit as verlede steeds ʼn lewende krag in die hede.

Akademia se eie kampusontwerp van die nuwe Pretoria-kampus wat in 2028 ʼn aanvang neem is ʼn goeie voorbeeld. Alhoewel ons argitekte by voorbeelde uit die verlede aangesluit het, het hulle nie probeer om na die argitektuur van die verlede terug te keer nie. Hulle het eerder die verlede met behulp van ons eietydse en plaaslike style en voorkeure vertolk. So bly die verlede ook vir Akademia ʼn lewende werklikheid.

Daarmee is reeds iets oor die wese van dinamiese konserwatiewe gesê. Enersyds sluit dié konserwatiewe by die helderste bronne uit die verlede aan. Andersyds vertaal hulle dieselfde bronne in hul eie konteks. Op hierdie wyse bly die verlede ʼn lewendige verlede. Ek sluit met elkeen van hierdie motiewe in hul mondering.

Vandag is dit noodsaaklik vir universiteite om by die ou bronne aan te sluit. Sonder die bronne uit die verlede is universiteite lewensbeskoulik en intellektueel leeg, en word studente met ʼn lewe sonder gronde, oriënteringspunte en doel die lewe ingestuur.

TS Eliot, een van die grootste konserwatiewe digters van die 20ste eeu, het ʼn lewe sonder die bronne op ʼn onvergelykbare wyse in sy gedig, “The Waste Land”, vasgevang. Sonder die tradisie en sy waarhede beland ons in ʼn “waste land, het hy geskryf. Teen die agtergrond van die hele gedig kan dit as ʼn “verdorde woesteny” vertaal word. In so ʼn woesteny, skryf hy, “… you hear only a heap of broken images, where the sun beats, and the dead tree gives no shelter, the cricket no relief, and the dry stone no sound of water.”

In aansluiting by Eliot is dit egter ook noodsaaklik om by wyse van ʼn oop gesprek die tradisie en sy bronne in ons eie konteks te vertaal. So bly dit ʼn lewende werklikheid. Deur ʼn gesprek met die verlede kan die oudste waarhede ʼn kraaknuwe lewe verwerf – ʼn lewe waarin die bome weer skaduwees teen die brandende son bied, waar die krieke hul kosmiese lied sing, en ons weer die gekabbel van water oor die klippe kan hoor.

Hoe bou Akademia aan die toekoms? In aansluiting by Eliot, ons doen dit onder meer deur ʼn oop gesprek met die verlede en sy tydlose bronne te voer. Ad futurum per fontes.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, verduidelik wat dit vir Akademia beteken om te bou na aanleiding van die instelling se jaartema, Boustene vir ons toekoms.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.