*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 24 Januarie 2026
Geskryf deur dr. Maretha Steyn, departementshoof: Professionele Studies, en Susan O’ Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde
As Opvoedkunde-dosente bevind ons onsself toenemend in ʼn fundamenteel paradoksale realiteit. Enersyds word daar van ons verwag om onderwysstudente vir bestaande onderwysstelsels binne die Suid-Afrikaanse konteks voor te berei terwyl ons andersyds deeglik bewus is daarvan dat hierdie stelsels voortdurend verander. Hierdie spanning, naamlik dat onderwys tegelykertyd gevestig én in wording is, word vanjaar op ʼn besondere treffende wyse verwoord deur die tema van Internasionale Onderwysdag wat op 24 Januarie plaasvind. Vanjaar se tema, Die krag van die jeug in die medeskepping van onderwys, bring dosente én onderwysstudente byeen om krities, besinnend en doelgerig ondersoek in te stel.
Die opvoedingsverhouding tussen dosent en onderwysstudent
Die jeug, en in die besonder jong volwassenes wat onderwys studeer, word dikwels as die “toekoms van die onderwysveld” beskryf. Hierdie stelling is egter nie heeltemal korrek nie. Onderwysstudente is nie bloot toekomstige professionele praktisyns nie, maar reeds aktiewe deelnemers aan die vorming van opvoedkundige praktyke, kultuur en waardesisteme. Die kernvraag is gevolglik nie óf onderwysstudente ʼn rol behoort te speel in die ontwikkeling van onderwys nie, maar op watter wyse hierdie rol op ʼn verantwoordelike, krities gefundeerde en akademies verantwoordelike manier gestalte kan kry. Hierdie begrip van medeskepping word konkreet vergestalt in die opvoedingsverhouding tussen dosent en onderwysstudent.
Die proses van medeskepping
Medeskepping behels veel méér as net deelname of inspraak. Dit veronderstel ʼn fundamentele verskuiwing in die begrip van onderwys: van onderwys as kennisoordrag na onderwys as ʼn dialogiese en gemeenskapsgebonde praktyk waarin betekenis, insig en oordeel gevorm word.
In hierdie raamwerk staan dosent en onderwysstudent nie in ʼn hiërargiese verhouding tot mekaar nie, maar eerder in ʼn verhouding van wederkerige afhanklikheid en gedeelde verantwoordelikheid binne ʼn akademiese gemeenskap wat op vorming gerig is. Wanneer hierdie verhouding verbreek of vereng word, word die opvoedingshandeling verskraal.
Sonder die aktiewe, besinnende en verantwoordelike betrokkenheid van die student word die dosent se taak tot blote kennisoordrag gereduseer. Omgekeerd, sonder die vormende, normatiewe en intellektuele leiding van die dosent, word die student se leerproses beperk tot ʼn gefragmenteerde soeke na inligting, eerder as ʼn doelgerigte soeke na samehang, insig, roeping en verantwoordelike deelname aan die gemeenskap. Die jeug bring gevolglik energie, verbeelding en tegnologiese vernuf na opvoedkundige ruimtes; dosente bring historiese bewustheid, teoretiese raamwerke en professionele oordeel. In die dinamiese wisselwerking tussen hierdie pole ontstaan die moontlikheid van werklike vernuwing in onderwys.
Meer nog, in ʼn tyd van versnelde tegnologiese verandering word hierdie wederkerige opvoedingsverhouding nie minder nie, maar des te meer vormend van aard.
Digitale vooruitgang en kunsmatige intelligensie (KI)
In die konteks van digitale vooruitgang en die toenemende integrasie van kunsmatige intelligensie binne opvoedkundige praktyke, beteken medeskepping geensins die ontkenning van kundigheid, ervaring of navorsingsgebaseerde kennis nie. Inteendeel, egte medeskepping vereis ʼn hoë vlak van akademiese geletterdheid, etiese onderskeidingsvermoë en kritiese besinning. Om ʼn betekenisvolle stem in die vorming van onderwys en professionele identiteit te hê, veronderstel ʼn diepgaande sin van verantwoordelikheid: verantwoordelikheid om aannames te bevraagteken, die implikasies van pedagogiese besluite te deurdink, en op ʼn dialogiese wyse na die aard en doel van opvoeding self te vra.
Die taak van die dosent is daarom nie om studente se stemme te neutraliseer of te oorheers nie, maar om doelbewus ruimtes te skep waarin onderwysstudente se teoretiese insigte, pedagogiese kennis, ervarings en etiese oorwegings in ʼn samehangende en verantwoordbare raamwerk geïntegreer kan word. In hierdie ruimtes kan kennis, karakter en roeping in samehang ontwikkel, met die oog op die student se volwasse en verantwoordelike deelname aan die breër opvoedingsgemeenskap en samelewing.
Die krag van die jeug in die medeskepping van onderwys lê gevolglik nie bloot in vernuwing, tegnologiese vlotheid of ʼn kritiese ingestelheid nie, maar in die bereidheid om met intellektuele integriteit, kritiese bewustheid en ʼn gees van samewerking aan die opvoedingsgemeenskap deel te neem. In ʼn tyd waarin onderwys tegelyk gevestig en in wording is, bied medeskepping nie ʼn maklike oplossing nie, maar wel ʼn verantwoordelike weg vorentoe: ʼn weg waarin dosente en onderwysstudente saam boustene neerlê wat die toekoms van onderwys doelbewus help vorm.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.